Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Hennie van Niekerk


6 Februarie 1935 – 8 Oktober 2018


Ds Hendrik Jacobus van Niekerk (BA, Teol Sendinginstituut) is op 6 Februarie 1935 gebore te Albertinia. Sy vader was Johannes Wilhelm Albertus van Niekerk, ’n boer, tuinier en bouer. Sy moeder is Anna Sophia Oosthuysen. Hennie begin in 1941 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Sanddrif en later op Albertinia. Hy is van 1948 leerling aan die Hoërskool Albertinia waar hy einde 1951 matrikuleer. Na matriek werk hy van 1952 tot 1957 as teller by Barclays Bank in Mosselbaai.

Die roeping om sendeling te word is groot en hy word student aan die Hugenote Kollege in Wellington waar hy die BA-graad verwerf. In 1959 word hy student aan die Sendinginstituut op Wellington waar hy ’n inwoner is van Huis Samuel, waar liefdesbande met medestudente gesmee word. Hier word hy na vier lieflike jare op 28 November 1962 as proponent gelegitimeer. Op 16 Februarie 1963 word hy met handop­legging bevestig in sy tuisgemeente op Albertinia, met opdrag sendingwerk te Tsantsabane (Postmasburg), om onder die mynwerkers in die mangaan- en ystermyne te werk.

Ds Hennie van Niekerk is ook betrokke in 1966 by die stigting van die Sinode van Phororo NGKA, waar hy ook van 1970 tot 1994 diens doen as saak­gelastigde van die Sinode van Phororo. Die naam Phororo beteken in Tswana “opborrelende water wat wegstroom”. Dit is ’n reuse admini­stra­tiewe taak wat hy met oorgawe en waardigheid hanteer, waarlik ’n donkie uit Samuel wat met oorgawe die Here dien.

In samewerking met die NG Gemeentes Olifantshoek, Deben, Daniëls­kuil en met die hulp van die Algemene Sendingkommissie in Kaapstad, word die Mangaansendinggroep gestig om die werk te koördineer en te befonds. Hy bedien van 1963 tot 1995 die grootste deel van die Noordkaap se NG Kerk in Afrika gemeentes, wat die dorpe en distrikte insluit: Daniëlskuil, Prieska, Britstown, Douglas, Griekwastad en Upington. Wat dit nog meer merkwaardig maak is dat hy van 1963 tot 1974 ook die konsulent is van die NG Sendingkerk se gemeentes op Warrenton, Kuruman, Olifantshoek en Deben. Hier werk hy 41 jaar lank en sy bediening sou oor die hele gebied strek waar hy met oorgawe in diens van die Koning gestaan het. Onder sy leiding word wykskerkies gebou wat ook as skoolgeboue dien. In 1963 word hy ook aangestel as Woordverkondiger vir die Leergevegskool te Lohatla.

Hy ontvang in sy dienstyd van 41 jaar baie aanloklike beroepe na gemeentes, ook na die Sendingkerk. Maar ds Hennie van Niekerk bly getrou op sy pos in Postmasburg, ook na sy amptelike aftrede in 1995. Hier werk hy totdat hy in 2008 na Uitenhage verhuis. Na ’n geseënde tyd in die Ooskaap, verhuis hy in 2014 na Stilbaai, ’n aftreeoord by die see tussen Mosselbaai en Riversdal. Ons eer hierdie geroepe “Donkie uit Samuel by Wellington”, wat tot die einde van sy lewe bereid was om baie offers te bring in diens van die Meester. Hy sterf op 8 Oktober 2018 en daar word met dankbaarheid afskeid geneem van hierdie leraar wat nooit getrou het nie en sy lewe aan die Here gewy het. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2019 verskyn.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top