Hoe gemaak met die uitdagings rondom migrasie en behuising?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die Sentrum vir Publieke Ge­tuie­nis het onlangs ’n dokument bekend gestel wat kyk na vyf groot uitdagings wat ons toekoms gaan beïnvloed. Daar word gekyk na sistemiese oorsake en oplossings, maar veral ook wat individue en gemeentes kan doen. Die eerste uitdaging is migrasie en behuising en wat volg is ’n uittreksel uit die verslag.

Van die kleinste dorpie tot die grootste stad sien ons dat informele nederset­tings soos paddastoele opskiet. Sommige hier­van skep haglike sosiaal­-maatskaplike omstandighede waarin daar ’n vorm van ontmensliking plaasvind. Terselfdertyd sien ons dikwels die groei van onstabiele gemeenskappe met verhoogde kri­mi­na­liteit en geweld. Indien die patroon sou voortduur kan dit dramatiese gevolge hê vir die samelewing waarin ons woon. Die vraag is wat ek en jy kan doen?

Ons sal moet verstaan dat daar ’n “nuwe normaal” regoor die wêreld gevestig word. Ons is nie net op pad na ’n nuwe Suid-Afrika nie, maar ook na ’n nuwe samelewingsorde. Ons sal daarby moet aanpas, maar ook moet poog om die waardestelsels wat ’n samelewing reg­op hou opnuut te vestig.

Stel jou voor dat daar op vier waardes besluit word wat in alle skole, kerke, raadsale en by die ingange van die dorp duidelik sigbaar is. Dit moet ’n verskil maak. Daar is reeds skole wat uitmuntende waardeprogramme in plek het. Dit moet gedupliseer word, maar ook met die breër gemeenskap gesinkroniseer word. Kerke hoef nie die wiel te herontdek nie, maar kan beslis help met die belyning van inisiatiewe.

Verder moet ons verstaan dat ons nie die probleem gaan aanspreek as ons nie die probleem eerstehands ken en verstaan nie. Ons sal dus gereeld in daardie omstandighede moet besoek aflê. So ’n besoek is gewoon praktiese missionale teologie en laat ons beter verstaan en anders dink.

Ons moet verstaan dat ons nie die hele probleem kan of moet oplos nie. Ons kan egter ’n klein, alternatiewe behuisingsmodel ontwikkel wat nagevolg kan word. ’n Uitstekende voorbeeld hier­­van is die werk wat Quinton ­Adams, die “Shack Builder” doen. Hy het ongeveer twintig nuwe menswaardige “shacks” (R20 000 stuk) gebou, maar so die aandag van groot media-instellings regoor die land bekom. Baie meer men­se wil nou sy voorbeeld volg.

Gemeentes kan en moet ook met plaaslike owerhede in gesprek tree oor die Ruimtelike Ontwikkeling Plan (ROF) en/of die “Integrated Development Plan” (IDP). Dring aan om dit te sien en lê dit aan kundiges voor om toe te sien dat albei menswaardig, verantwoordelik en volhoubaar is.

Die heel belangrikste wat gemeentes kan doen is om met geestelike leiers en gemeentes in die nuwe gemeenskappe kontak te maak en verhoudinge te bou. Wat ons moet verstaan, is dat God ons voorgaan in ons missionale arbeid, ook in hierdie nuwe werklikhede. God is reeds daar en ons moet Hom ook daar gaan ontmoet. Ons betree hierdie gebiede met min mag, maar wel met ’n sekere gesag. Laat ons dit nooit in meerderwaardigheid doen nie, maar in nederige afhanklikheid, in die wete dat God ook ons in die proses wil toerus, verras en seën.

Dr Braam Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.