‘Elegante’ gesprekke oor die dood

Wreed én mooi is die dood: Verhale oor verlies, hunkering en heling
Saamgestel deur Tobie Wiese
Uitgewer: Jonathan Ball Uitgewers, 2019


Ek het in my boekversameling geen boek “om ’n gesprek oor die dood aan te wakker” nie. Ek het baie akademiese boeke gelees oor sterwensbegeleiding, nóg meer preekbundels om begrafnispreke te kon maak, maar geen boek in my hand gehad om “gemakliker en meer sinvol met die dood saam te leef nie”. Dit is die hoop wat Wiese met die samestelling van hierdie boek uitspreek en wat hy suksesvol regkry.

Die eerste woord wat in my ge­dagtes opkom om die boek te beskryf is “elegant”. Allermins dink ons aan gesprekke oor die dood as elegant. Dis gewoon stotterend en stadig; dit val oor woorde en is onbeholpe. Hier is dit elegant – waarskynlik omdat soveel van die persoonlike belewenisse deur begaafde skrywers verwoord is. Die dood is inderdaad ryker as om enkelvoudig daaroor te praat: dit tref so wyd soos trane oor jou geliefde perd wat sterf en trane van lag as die dominee in die graf beland.

Dit is nie ’n maklike boek om te lees nie, immers is dit nie ’n “maklike” onderwerp nie. Ek het soms met ’n pen kantaantekeninge gemaak vir latere herlees, bronne aangeteken wat ek ­hierna wil lees. Elkeen van die tien hoofstukke sluit verhale van persoonlike verlies in, maar ook die perspektiewe van akademici, filosowe, teoloë/predikante en sterwensbegeleiers. Dat die dood alledaags is beteken nie dat ons verstaan hoe mense vanuit verskillende kulture hierdie verlies benader of hoe ’n jong paramedikus dit beleef nie.

Die boek skep die ideale geleentheid vir gesprekke oor die lewe én die dood. Soos wat ons nodig het om ook te leer hoe helend dit kan wees om oor ons eie verlies te mag gesels, moet ons ook leer hoe om in die ruimte van rou op te tree. Dit sal die skryf van hierdie boek dubbel en dwars die moeite werd maak, die lees daarvan ook.

Dr Ronell Bezuidenhout is teoloog, predikant, skrywer en kunstenaar. Sy woon in Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap.