Broodnodige wysheid

Kom sit aan: Vind vreugde in die alledaagse
Deur Rudi Swanepoel
Uitgewer: Lux Verbi, 2019


Met die skryf van die resensie blaai ek deur die boek wat oral met pienk ‘gehighlight’ is. Gemerk vir al die gedagtes waaroor ek nog verder wil dink, alles wat ek graag nog vir iemand wil voorlees. Sommer vir die lekker as ek net die regte slagoffer kry.

Hierdie is nie die tipe boek wat jy gou sit en van voor tot agter lees nie. Dit is vir kou en herkou, vir lekker lag en saamgesels. Dalk kan ’n mens sommer so voor elke ete ’n bladsy voorlees vir jou tafelgenote en dan werklik proe en beleef wat jy proe en ruik en onthou.

Rudi Swanepoel skryf hierdie boek in die tradisie van wysheids­literatuur. Kort staaltjies, filo­sofie, nadenke oor wat werklik goed is en gedigagtige belydenis­se word in mekaar geweef. Die dinge waaroor ons dringend in ons tyd moet nadink kom op die tafel. Is ons net verbruikers, of is ons werklik verbonde aan mekaar en die kos wat ons eet en die aarde waar­van ons eet?

Elke nou en dan roep sy vertel­lings jou eie herinneringe by jou op en wil jy sê: “Ja, ons het ook so gemaak.” “Ja, my ouma het dié bygegooi … En my ma se kerse het so gelyk.” Die boek laat jou gesels en integreer. Jy kan nie hierdie tipe boek lees en nie oor jou eie lewe, erva­rings en manier van doen nadink nie.

Die boek is toeganklik vir die meeste lesers, maar glad nie vlak nie. Dit roep ons om in die nou te leef en ons werklik­hede ten volle te beleef.

Ds Franziska Andrag-Meyer is predikant in die NG gemeente Suidpunt en hou van sjokolade, vars grenadellas, kondensmelk, en haar Ouma Fransie se pannekoek.