Om slagoffer te wees, of te bly vertrou

In 2 Konings 5:1-14 lees ons: Naäman is ’n “dapper soldaat” met baie mag en eer. Daar is egter een pro­bleem, hy het ’n velsiekte wat nie wil genees nie. In sy huis is daar ’n jong meisie wat as slagoffer van ’n Aramese strooptog, in ballingskap weggevoer is. Die fokus op “klein”, weerloos en mag­teloos, is bedoel as teenhanger van die magtige, dapper, invloedryke Naäman. Die meisie se klein rol in die narratief dui ook op haar klein rol in die samelewing van die dag. Tog, in die verhaal is sy die karakter wat hoop bring. Trouens, haar woorde bepaal die gang van die ge­skiedenis.

’n Mens sou verwag dat sy die Here sou verwyt of selfs verwerp. Hy het haar immers in die steek gelaat – sy sit as ’n slaaf in ballingskap. Sy is van God verlaat. Tog, sy vertrou op die Here. In haar weerloosheid daag haar woorde die pretensies van die magtiges uit en verskaf hoop vir heling en lewe.

Ironies is dat diegene met mag in die verhaal magteloos is. Die koning van Israel, wat steeds in sy eie stad en op sy eie grond oor sy eie volk regeer, se gebrek aan vertroue op die Here staan in skrille kontras met die magtelose jong meisie, ’n slaaf in ballingskap, op vreem­de grond, onder ’n vreemde volk en in die gebied van vreemde gode wat wel op die Here vertrou.

Elisa, die man van God, hoor van die gebeure en laat Naäman na hom toe kom. Naäman ry in ’n rytuig met perde wat sy mag vertoon. Elisa kom nie self uit om die belangrike man te ontmoet nie, maar stuur ’n boodskapper met ’n opdrag dat hy hom in die Jordaan moet gaan was. Naäman is woedend. Hy het verwag dat die profeet ten minste sal uitkom, sy eer sal erken en ’n behoorlike ritueel van genesing sal lewer. Dit is asof die nie-erkenning van hom as persoon, hom op die oomblik sy be­hoef­te aan genesing laat vergeet.

Weereens speel die mindere karakters ’n rol. Naäman se amptenare noem hom letterlik “vader”. Hulle maak hom bewus daarvan dat hy onnodig kwaad is. As hy bereid was om iets groots te doen, hoeveel te meer nie iets klein nie. Die narratief bied ’n ironiese kontras tussen wat “groot” (mag) en wat “klein” (weerloos) is. Mag word op sy kop gekeer. Die groot man, Naäman, verwag ’n groot bohaai oor sy teenwoordigheid by die profeet Elisa se huis. Sy amptenare of dienaars is deel van die kontras van klein en groot. Hulle vra hoekom hy nie die klein ding doen wat Elisa vra nie. Hy sou immers bereid wees om iets groot te doen. Weer bepaal die mindere die optrede van die meerdere en helaas, Naäman word genees – “sy vel word soos dié van ’n klein seuntjie”.

▶ Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.