Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Nuwe perspektief op onthutsende realiteite

Teaching for change: Essays on pedagogy, gender and theology in Africa deur L Juliana Claassens, Charlene van der Walt en Funlola O Olojede (reds)
Uitgewer: AFRICAN SUN MeDIA, 2019


Opvoeding is ’n kragtige transformatiewe instrument, sê die redakteurs van Teaching for change. Derhalwe hierdie bundel artikels wat nadink oor die beste pedagogiese gebruike met betrekking tot komplekse sake soos gender, ras en klas.

Die krag van hierdie boek, is die manier waarop teologie en praktyk met mekaar in gesprek gebring word. Elke artikel is prakties en relevant. Teks en konteks word treffend bo-oor mekaar geplaas. Die “teks” wissel van Bybelteks, film, dialoog tot verskillende teoloë.

Ek het veral gehou van die verrassende lig wat van die artikels op Bybelse tekste plaas, deur die Bybelse narratief op nuwe maniere oop te breek en aan vandag se realiteit te verbind. Veral Olojede (self ’n migrant) se lees van die patriarge-narratief (Gen 12 – 50) in die lig van wêreldwye migrasie vandag, het my oë op ’n nuwe manier oopgemaak vir veral vroulike migrante.

Dit is nie altyd lekker stof om te lees nie. Wanneer ons ernstig omgaan met ons konteks, veral in die lig van gender en gender-gebaseerde geweld, is die realiteite dikwels ont­stellend. Die skrywers bied egter veral narratiewe lense wat nuwe per­spektief op onthutsende realiteite bied. Soos in enige bundel soos hierdie, sal ’n mens na­tuur­lik ook nie met alle skrywers saamstem of alle argumente ewe oortuigend vind nie. Die krag lê dan in die gesprek wat ’n mens in jou binne­ste met die skrywer het.

Hierdie is ’n versameling akademiese artikels wat pedagogiese vrae vra. Enig­iemand wat ander probeer leer om betrokke te wees in hulle konteks, hetsy onderwysers, kategete of leraars, sal die bydraes interessant vind. Die lees van Bybeltekste kan predikers help om radikaal met hulle konteks in gesprek te tree. Mense wat belangstel in gender, of mense wat gewoon graag dieper wil lees, sal die bundel ook waardeer.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top