Tannie Marie se onthou

Op Chrissiesmeer, anderkant Ermelo, hou ek nou die dag by ’n iets-van-als-winkel stil om ’n koeldrank en iets te ete te koop. Ek is op pad Nelspruit toe. Daarna Pretoria toe.

Teen die muur is ’n rak vol boeke. Almal tweedehands. ’n Paar voosgeleesde James Bonds. Louis L’ Amour. Dricky Beukes.

Dan sien ek dit: so ’n groen boekie, sakgrootte, waarop staan: Die Halleluja.

Dit is sowaar ’n Hallelujaboek waar­uit ons eens op kerkbyeenkomste gesing het.

Ek haal dit van die rak. “Die Halleluja: psalms, gesange en ander liedere vir huis, dag- en sondagskool en jeug­verenigings,” staan voorin. “NG Kerk-Uitgewers, 1953.”

Opeens is ek weer 8 jaar oud en in Die Kinderkrans op Daniëlskuil waar ek kind was. “Kyk hoe swaar die landman swoeg, hoe hy werk en saai,” hoor ek ons stemmetjies skril deur die kerksaal weergalm. Tannie Babsie, ons Kinderkrans-juffrou, het ons eers Halleluja’s laat sing voor sy vir ons ’n Bybelstorie vertel het. “Landman, landman, saai getrou …” Terwyl ons arms heen en weer moes laat wieg asof ons koringare in die wind is.

Een na die ander kom die liedjies terug na my toe terwyl ek deur die boekie blaai. “Blye verseekring, Jesus is myn …” Ook die een waarvoor oorlede Ma so lief was: “As hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels …” Hoeveel keer het ek haar dit nie hoor sing of neurie nie.

Dit voel nie heeltemal reg om ’n Hallelujaboek saam met ’n hoenderpastei en ’n blikkie Stoney te koop nie, maar ek doen dit, en gaan klim terug in die bakkie.

Wat van die Hallelujaboek geword het wat ek eens gehad het, weet ek nie. Dit het iewers verlore geraak, nes my doopseel en Sondagskoolsertifikate.

Hoe vreemd werk dinge nie. ’n Paar dae later gesels ek met oom Koos Reyneke in Pretoria. Oom Koos is ’n afstam­meling van die bekende Murray-familie. Hy hou ook van ou goed. Ek vertel hom van die Hallelujaboek wat ek gekoop het.

Oom Koos glimlag. “My oorlede ou­ma het gehelp met die Hallelujaboek,” sê hy.

Sy ouma, Elise Reyneke, het van die Engelse en Hollandse geestelike liedere wat in die Hallelujaboek opgeneem is, in Afrikaans vertaal. In die jare dertig.

Haar man, oom Koos se oupa, was die bekende ds Johan Reyneke, wat eers ’n sendeling was, onder meer in die destydse Betsjoeanaland, voor hy leraar in die Bosmanstraat-gemeente in Pretoria geword het.

Miskien moet jy met tannie Marie Annandale op Stellenbosch gaan gesels, sê oom Koos, en gee my haar nommer. Tannie Marie is sy tante – sy ouma Elise se dogter – en sy onthou nog die dae toe haar ma aan die Hallelujaboek gewerk het.

Terug by die huis op Jacobsbaai pak ek die Halleluja nie by my ander boeke op die rak nie. Ek laat dit op my skryf­tafel lê.

Dag na dag sit ek voor die rekenaar, en tik, en tik. Buite word dit winter. Die reën kom. Die dae word triestig. Die huis word triestig. Ek word triestig.

Op 26 Julie is dit Ma se verjaardag. Ek tel die Halleluja ’n slag van die tafel af op. Ma is in ’98 al oorlede, maar ek raak steeds verdrietig wanneer ek te veel aan haar dink. Sy was maar 64 toe sy weg is. Te gou.

Dit reën, en reën. Ek moet uit die huis uit kom. Miskien moet ek met tannie Marie Annandale gaan gesels, be­sluit ek, en bel die nommer wat oom Koos my gegee het.

Die volgende oggend ry ek Stellenbosch toe, onder grou wolke deur. Tannie Marie woon in ’n kleinerige huis in die aftree-oord, met ’n voltydse oppas­ser by haar. Teken by die hek in. Parkeer. Draf in ’n motreëntjie na haar voordeur toe, met die Hallelujaboekie wat ek op Chrissiesmeer gekoop het in my kame­rasak. Klop.

En daar staan sy, met haar kierietjie, 96 jaar oud. Die ou ore hoor nie meer so mooi nie, maar ek gaan sit op die stoel langs haar en praat maar hard.

Hulle was op die Mochudi-sendingstasie in Betsjoeanaland toe haar ma, ’n baie musikale vrou, met die Halleluja’s besig was, onthou sy.

Een van dié wat haar ma vertaal het, weet sy, was “Stil verdwyn die daglig en die sonnestraal.” Die oorsponklike lied se naam kan sy nie onthou nie.

“Ek onthou ons het met my pa se Studebaker gery, toe kry ons ’n papwiel. Terwyl ons wag vir my pa-hulle om dit reg te maak, toe sit my ma en skryf …” Toe raak tannie Marie se onthou op. “Wat wil jy nou weer weet, my kind?”

“Ek wil weet van ‘As Hy weer kom’, tannie?”

“O, my kind, dis my ma se lied daardie. Sy’t hom geskryf.” Sy glimlag. “Ken jy die woorde?” Die volgende oomblik begin sy sag sing. “As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels …” Sy steek ’n bewerige hand na my toe uit en sit dit op my voorarm. “… al sy pêrels, fraaie pêrels vir Jesus se kroon …”

Ek probeer saamsing, maar die woor­de stol in my keel.

Later drink ons tee uit Noritaki-koppies, ’n gehekelde mus oor die teepot ge­trek, nes Ma dit sou gedoen het.

En buite lyk dit of die son vir die eer­ste keer in dae deur die wolke wil-wil breek.