Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die Amerikaanse sangeres Brandi Carlisle sing in haar lied “A promise to keep” (2012) oor die aard van beloftes. Veral, erken sy, bly sy op soek na ’n belofte wat selfs sý kan hou. Ons praat daarvan dat ons trou aan mekaar beloof – dat ons, heel letterlik, trou. In ons kerklike debatte oor die huwelik praat ons van verhoudings wat gekenmerk word deur liefde – en trou. Waarvan praat ons, presies? Wat beteken hierdie ‘trou’? Wat behels beloftes van liefde en trou?
Die klassieke beeld wat die Gereformeerde tradisie sou gebruik vir verhoudings van liefde en trou is verbondsluiting. So skryf die teoloog John Witte in sy boek From sacrament to contract (2012) dat daar verskeie uitbeeldings van die huwelik sou wees oor die eeue. Die beeld waarby Johannes Calvyn en ander Reformatore sou aanklank vind is dié van ’n verbond wat tussen twee mense gesluit word, met God en die gemeente as getuies van die trou wat beloof word.
Selde is ons bereid om te erken dat elkeen van ons, sonder uitsondering, ook beloftes verbreek. Dat ons erken – soos wat Paulus erken – dat ons die goeie wat ons wil, nie doen nie; en die slegte wat ons nie wil nie, wel soms doen. Ons almal verbreek beloftes. Ons almal pleeg verraad. Ons is almal verraaiers.
Ook hierin is ons deel van ’n veel ouer, veel groter geloofsgemeenskap. Verraaiers is volop in die Bybel. Nie as randfigure nie, maar dikwels as geloofshelde – karakters wat sentraal is binne die verlossingsverhaal. Dink maar aan Jakob, wat sy broer en pa verraai. Sy verraad besorg aan hom die seën van ’n eersgeborene. Dink aan Dawid, wat sy vrou verraai. Uit sy verraad word Salomo en sy nageslag gebore. Dink aan Judas, wat sy vriend Jesus verraai. Uit hierdie verraad word Jesus oorgelewer om gekruisig te word en weer op te staan.
Dink aan Israel, wat God weer en weer verraai, en trou verbreek deur te kies vir ander gode, deur onregpleging teenoor vreemdelinge en weerloses, deur oorlog met buurnasies, geweld. Ook Israel, die verbondsvolk, verbreek beloftes – nie een keer nie, maar herhaaldelik; nie net enkelinge nie, maar as ’n volk (en dan boonop leiers van die volk, soos konings en priesters).
Wat sê dit vir ons van ons eie belofteafleggings en eedafleggings? Behoort ons op te hou om beloftes aan te gaan en trou aan mekaar te belowe, omdat die kans goed is dat ons dit sou kon verbreek? Behoort ons belofteverbreking strawwer te tug in die kerk? Kan strafoplegging die nodige insentief bied dat ons by ons beloftes en ede bly? Of is ons verdoem daartoe om verraaiers te wees?
In ’n pamflet met die titel “Ja! Jy kán seker wees …” (1993) skryf Willie Jonker dat die diepste bron van ons troos in Godsbeloftes lê. Ons verlossing is geanker in God se inisiatief om na ons toe uit te reik, en om uit vrye guns alleen God se genade te skenk – nie in ons betroubaarheid of getrouheid nie. Daarom is dit “in sy hande absoluut veilig” en kán ons vanuit die vaste sekerheid leef dat God by God se verbondsbeloftes aan ons hou.
Ons kan leef asof daar níks is – nie lewe of dood, nie ons verlede of ons toekoms, géén klag en géén tug en géén dreigement – wat ons kan skei van God se liefde nie. Godsbeloftes beteken dat God se trou absoluut vas en seker is; onverbreekbaar en onverraaibaar deur God. God los ons nié – no matter what. Dít is genade.
Dit beteken dat die diepste bron van ons troos nie lê in ons eie vermoë en eie morele pogings om getrou te leef aan mekaar of aan God nie. Ons diepste troos is dat God getrou is aan ons. Dit is ál wat aan ons sekerheid bied.
Maar dit is ook hierdie troos wat aan ons die selfvertroue gee om wél beloftes te maak aan mekaar en voor God, al weet ons ook nie wat die toekoms vir ons inhou nie, en al is daar altyd die moontlikheid dat ons ons beloftes kan verbreek. Selfs dán behoort ons nie te vergeet dat slégs Godsbeloftes die bodem is vir ons eie beloftes nie.
Godsbeloftes is soos ’n rivier waarin ons swem – al sou ons ook links of regs, saam met die stroom of teen die stroom op swem, die rivier neem sy loop. Dit dra ons. Dit los ons nie. Al beur ons ook stroomop is dit steeds die rivier wat die stroom bepaal. Al wat ons kan kies is hoe ons daarbinne swem; hoe moeilik of maklik ons dit vir onsself en diegene rondom ons maak.
Godsbeloftes dra ons beloftes. Godsbeloftes dra ook ons verbreekte beloftes. Godsbeloftes dra ons trou én ons verraad. Die troos van Godsbeloftes is dat God ons dra. No matter what.
▶ Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.