Streeknuus, 16 Augustus 2019

“Sigbare teken van God se herstel”

Ds Johan Koen van Burgersfort skryf: Burgersfort Gemeente in Mpumalanga het die afgelope maande in die nadraai van die storm geleef. Op 27 Januarie 2019 het ’n storm deur die nag gewoed en dakteëls afgewaai en water ingepers dat die plafonne uitgeval het, toerusting beskadig is en die eens heldergroen matte was nou ’n bruin moddermoeras. Die kerkbanke het vol modderwater gestaan en die orrel was oordek met rommel en water en het skynbaar haar laaste swanesang gesing.

Maar “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut” (Klaagl 3:22-23). Ja, inderdaad is die trou van die Here groot!

Stelselmatig kon die kerkgebou herstel word en kon ons gemeente weer beleef dat ons as gemeente nie die gebou is nie – dit is net die ruimte wat God aan ons geleen het.

Na ses maande is ons nou in die posisie dat ons die herinwyding van die kerkgebou beplan. Ons gebed is dat die gebou ’n sigbare teken sal bly van God se herstel, bevryding en genesing ook vir ons as mense – selfs nadat die storms van die lewe, sonde of omstandig­hede ons stukkend gebreek het.

Daarom nooi ons gemeente alle oud-lidmate, oud-leraars en belang­stellendes uit om saam met ons te kom feesvier op Sondag 1 September 2019 om 08:30.


‘Stupid besluite’ saai verwoesting; nou plant hy groente

Die NG gemeente Mootvallei boer voor­uit met hulle groentetuin, maar dis nie net spinasie, beet en wortels wat onder die skadunette langs die jukskei­baan op hierdie Pretoria-gemeente se groot erf groei nie.

Ook Kevin Croucamp se liefde vir werk met sy hande in die grond groei by die dag. “Ons werk van 8 tot 4 – ek like dit,” het hy onlangs aan Kerkbode vertel.

Croucamp, oorspronklik van Alberton in Johannesburg, het vertel hoe “stupid besluite” hom as hawelose op Pretoria se strate laat beland het. “Die kerk het my ’n kans gegee om hier te help en hier te bly ook,” vertel hy. Nog ’n lidmaat by hierdie gemeente, Willem Blom, wat saam met Croucamp werk, skerts dat hoewel hy “ook ’n Blom is”, hulle nie die erkenning wil vat vir die sukses van die groentetuinprojek nie. “Ons het geplant, maar God het laat groei”. – Besoek die video-afdeling van Kerkbode se Facebook-bladsy om vir hierdie “groenteboere” ’n boodskap te los.


’n Kerkbode-leser vertel: Meisie (4) ‘is stom getraumatiseer’

Ek het verlede week die voorreg gehad om ons Johanna Malan-kleuterskool in Yeoville te besoek, skryf Dirk Kotzé.

Ons voorsien gewoonlik die kin­ders met lekker toebroodjies, maar die kombuistannie het besluit om al die kleintjies te bederf met ’n lekker warm bekertjie sop en broodjies omdat dit so koud was.

Ek het ’n nuwe gesiggie opgemerk. Chantelle*, ’n vierjarige dogtertjie met twee poniesterte aan weerskante van haar kop.

Ek het opgelet dat sy nie met haar maatjies gesels en enigsins oogkontak maak soos die res van die lewendige bondel woelwaters nie.

Die juffrou het my geroep en verduidelik. Chantelle is stom getraumatiseer. Sy kan glad nie met volwassenes praat nie. Sy is slim en skerp, maar as gevolg van die mishandeling in haar verlede maak sy toe en ignoreer alle grootmense.

Dit gaan al ’n bietjie beter met haar. Sy het glo die vorige dag vir haar juffrou uit die bloute ’n druk­kie gegee.

Chantelle het nog ’n lang pad om te stap. Sy bly by die Maria Kloppers-kampus waar sy al die liefde, versor­ging, opvoeding en terapie ontvang wat sy nodig het.

Dirk Kotzé is verbonde aan die bemar­kingsafdeling van Abraham Kriel Bambanani.

Om uit te vind hoe jy kan help, stuur ’n e-pos na dk@abrahamkriel.org

*Nie haar regte naam nie.


Kiek jou kerkgebou: Witkerk, Middelburg

“Ons woon in Komatipoort, aan die wal van die Krokodilrivier wat ons van die Nasionale Krugerwildtuin skei,” skryf Tienie Swart aan Kerkbode.

“Ek stuur graag ’n foto van die Witkerk in Middelburg, Mpumalan­ga, geneem deur Barries Barnard van Barries Barnard Photography hier op die dorp.”

Kortliks die geskiedenis

Saterdag, 9 Maart 1867, word die NG gemeente Nazareth, op die plaas Elandspruit, plaas van diaken NP Prins­loo, gestig.

Sondag, 10 Maart, word die ere­diens deur ds F Lion Cachet waargeneem.

Die naweek word die eerste kerk­raadslede voorgestel, die doop en nagmaal bedien en lidmate lê belydenis van geloof af.

Maandag 11 Maart verskuif die groep gemeentelede vanaf Elandspruit na die nuwe dorpsaanleg Nazareth. Die hoeksteen van die nuwe kerkgebou word deur ds Cachet gelê.

Die inwyding van die nuwe kerkgebou vind op 5 Oktober 1867 plaas.

Ná 20 jaar is die kerkgebou te klein vir al die lidmate en reeds in ’n swak toestand.

Op 2 April 1887 word die hoek­steen van die nuwe Witkerk gelê. Argitektonies vertoon dié kerkgebou opvallende ooreenkomste met ander kerke wat ook deur Otto Hager ont­werp en gebou is.

Die inwyding van die nuwe Witkerk vind die naweek van 16-18 Janu­arie 1890 plaas.