Op die pad tussen Dwaalboom en Soekmekaar?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek kom pas terug van my voorganger by die Universiteit van Pretoria (UP), prof Flip van der Watt, die bekende kerkhistorikus, kerkleier en gelowige (10/8/1937-8/8/2019) se dankdiens na sy skielike afsterwe verlede week. Hy was ’n mens wat diep spore op baie plekke getrap het: in die kerk, teologie en in die samelewing. Hy was natuurlik ook ’n gewilde dosent by beide die UP en die Universiteit van Stellenbosch (US)  wat ’n besondere liefde vir die kerkgeskiedenis by sy studente wakker gemaak het.

Twee indrukke tydens en na die diens sal my lank bybly. Aan die een kant die soberheid van die dankdiens waarin primêr verwys is na Van der Watt wat telkens na ons Gereformeerde tradisie verwys het en diep bewus was van God se groot genade in ons almal se lewe – in lewe en in sterwe. Aan die ander kant ten tye van die verversings sê prof Flip Smit (een van die prominente voormalige rektore aan die UP) aan André Bartlett en aan my in ’n terloopse ligte opmerking waarin daar dalk nogal heelwat waarheid steek: “Miskien moes die komende Algemene Sinode se eerste deel eerder by Dwaalboom in Limpopo plaasgevind het. En die tweede deel by die ander Limpopo-dorp, Soekmekaar!”

Ek as ’n oud teologie-dosent (wat hoegenaamd nie ’n fundamentalis is nie) wat 35 jaar se ervaring by Unisa, UP, en die Universiteit van die Vrystaat (UV) en in die buiteland het, voel deurgaans sterk oor voortgaande vernuwing. Ek is egter iemand, soos prof Flip van der Watt, met groot ontsag vir God en sy Woord. Ek beweer dat daar miskien dwarsdeur ons geskiedenis – maar nou ook weer – genoeg rede is vir ’n omvattende kerklike en teologiese selfondersoek deur die NGK mbt sy teologiese opleiding.

Ek persoonlik bly deurentyd oop vir vernuwing in teologiese insigte en die bevordering van die teologiese wetenskap. Soos ook maar verder terug in die verlede het daar ook onlangs en veral sedert die 1990’s bepaalde vreemde en hier en daar selfs vrysinnige klanke hoorbaar begin word binne die teologiese fakulteite: Dit behels kwessies soos twyfel oor Skrifgesag, die ontkenning van bepaalde Bybelse waarhede en soms ook die Ou en Nuwe Testament-lyne, twyfel oor Christus se verheerlikte maar historiese opstanding, en die oordrywing van die selfdegeslag-debatte. Dis my oortuiging dat waar die gesag asook ’n nie-verantwoorde interpretasie van die Bybel in die NGK in gedrang kom, ’n deeglike selfondersoek ingestel moet word voor dit soos ook in die verlede soms te laat is.

Die onlangse geskiedenis waarmee beide ek en prof Flip besig was, het jammer genoeg drie dinge bewys naamlik eerstens dat NGK-lidmate tans erg verward is en al meer verdwyn uit die NG Kerk, soms ook agv verwarring wat deur kerklike teoloë en kerkleiers gesaai word. Tweedens dat die NGK-opleidings dit soms moeilik vind om gebalanseerd binne ’n gesonde ekumeniese verband ook kerkspesifieke behoeftes aan te spreek. Dit wil soms van buite gesien lyk of die belydenisskrifte van die kerk as deel van ’n mode-verskynsel, nie meer orals van wesenlike belang in teologiese opleiding is nie. Die vraag moet inderdaad gevra word hoeveel van ons dosente nog hul legitimasie-eed waarin hulle die Bybel en die belydenisskrifte as basis aanvaar, kan of wil honoreer. En watter weg word afgestudeerde jong predikante gewys as dit die oortuiging van heelwat van hul dosente is, want die ou spreuk bly maar waar: “dat wiens brood men eet, wiens woord men spreek”. Derdens dat sommige kuratoria (kerklike toesigliggame) van fakulteite moontlik bang of geïnhibeerd begin raak het om sommige teologiese dosente in liefde maar met erns oor hul teologiese beskouinge en moontlike eensydighede aan te spreek.

Dis my oortuiging dat die NGK en veral sy Algemene Sinodale Moderamen ook nou weer spoedeisend selfondersoek na hierdie verskynsels moet instel en by die eerskomende Algemene Sinode in Oktober reeds dringend verslag daaroor moet doen. Hierdie proses moet dus pro-aktief aangepak word, in plaas van om een van die skynbaar byna 200 beswaarskrifte te wees wat by die komende sinode ingedien gaan word. Die groot vraag sal dus juis ook in erkenning aan prof Flip van der Watt se nagedagtenis gevra moet word: Waar staan ons mbt die diepgrypende goddelike genade-boodskap van die Bybel en die Reformasie, en waar bevind ons onsself op die pad tussen Dwaalboom en Soekmekaar?

  • Prof JW (Hoffie) Hofmeyr, emeritus-professor aan die UP en die Evangeliese Teologiese Fakulteit (Leuven, België).

4 thoughts on “Op die pad tussen Dwaalboom en Soekmekaar?

  1. Nico van Rensburg says:

    Liewe broer

    Om prof Flip se lewensherdenking as lanseerbasis vir suspisie te gebruik, is vir my nie van pas nie. Hy sou nie so opgetree het nie.

    Vertel liewer watter Woord is deur wie gepreek. En kom ons soek mekaar ipv onder dwaalbome skimp. Wonder tog wat André Bartlett sou dink van julle ervaring?

    Seënwense.

  2. Alwyn du Pkessis says:

    Ons moet die teoloog se woorde met erns opneem.
    Ek sidder as ek dink die konende sinode moet hom besig hou met beswaarskrifte.

  3. Emile says:

    Die NGK het 10 jaar gelede sy rug op my gekeer toe ek as ‘n gay man uitgekom het. Dit NGK se aksie spook nou mog by my. Ek is ‘n Christen, ‘n gay Christen.

  4. Die neoMarxistiese verstaan van die samelewing, soos in die feminisme, van Crenshaw en kritiese rasteorieë, van Fanon en ander blom in ons huidige sosio-politieke en intellektuele klimaat. Wat hierdie teorieë deel is die sg “valse buwussyn” wat aanspreek moet word en die aanvaarding van bevoorregting as oorsaak vir alle onreg en ongelykheid. Vandaar die oproepe vir nogmaals en voortdurende skulbelydenis vir apartheid en restitusie, soos bv by die onlangse Wes-Kaap sinode deur ‘n groep van ongeveer 25 jong predikante, soos ook gerapporteer in die Kerkbode. Dit kontrasteer met ‘n algehele stomheid van die Kerk oor die onreg, diskriminasie en gebrek aan aanspreeklikheid van die regering vir huidige wanbestuur en onreg en wat dit aan mense doen. Die jong dominees moet dalk besin oor die gelykenis van die talente in Matteus 25.
    Die NG Kerk neem deur sy sinodale inisiatiewe, getrou aan sy politieke korrektheid deur sy leierskap en sinodes standpunt in oor selfdegeslagverhoudings ondanks alle besware. Getuienis wat omkeerbaarheid van oriëntasie bevestig, word geïgnorer, terwyl daar ‘n groeiende getal voorbeelde is waar dit, ondermeer deur terapie, moontlik raak. Ek haal aan:
    “André Bekker, who heads up New Living Way Ministry is calling on former homosexuals in South Africa to join an advocacy group called “Voice of the Voiceless, South African Ex-Gays” which he plans to launch in early October. Bekker, a former homosexual himself, says the most important voice in the gay debate — that of ex-gays — has not been properly heard and that he is on a mission to find as many members of this group as possible to be part of planned future initiatives” https://learntolove.co.za/testimonies/
    Daar is geen poging om NG gay lidmate wat dié weg wil volg terapeuties en geestelik te begelei nie, terwyl daar volgehou word met die druk op die kerk om op alle vlakke binne en buite die kerk die gay aktiviste en hul agenda te akkommodeer. Die Bybelse besware van lidmate en baie predikante word gewoon as liefdeloos en fundamentaislties afgemaak terwyl ‘n wêreldwye LGBT++ agenda ondersteun word.
    Daar is volgens Skrifgebruik en Skrifbeskouing in die NG Kerk ʼn duidelike lyn van afwysing van sg. fundamentalisme en die gepaardgaande a-historiese, letterlike lees van die Bybel. Juis daarom het die NG Kerk in sy besinning oor selfdegeslagverhoudings nie volstaan met ʼn tydlose aanhaling van sewe tekste oor homoseksualiteit nie. (Skrifgebruik en Skrifbeskouing in die NG Kerk).
    Daar is duidelik ‘n omdraai van die NG Kerk nodig oor beide die verstaan van die Bybel en die werklikheid waarin ons lewe.

Comments are closed.