Soms moet iemand jou hand vashou

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Ek kry die arme kind so jammer,” sê tannie Lien­tjie by ons Bybelstudiebyeenkoms. “Die hospitaal het haar met ’n hand vol pynpille en ’n voorskrif huis toe gestuur. Hulle kan niks meer vir haar doen nie.”

Die “arme kind” is ’n alleenmens, ’n jong vrou in haar middel dertigs. Haar naam is Lizaan. Sy bly in die losieshuis, langs tannie Lientjie. Sy is ’n enigste kind, albei haar ouers is vroeg oorlede. Sy het op ’n plaas bui­te Brits grootgeword en, soos dit maar by alleenkindertjies is, was sy gereeld in die veld doenig met haar eie verbeeldingspeletjies.

Sy het ure lank alleen in haar ka­mer gelê en lees. Haar ma kon nie voor­bly om storieboeke uit die dorp se biblioteek aan te dra nie.

Lizaan het in Hillbrow beland om­dat daar goedkoop verblyf is en omdat sy ’n werkie by ’n kroeg kon kry. Die salaris was nie te waffers nie, maar sy kon darem kop bo water hou.

Toe word sy siek. Eers was daar die nagsweet en die knaende moegheid. En die swelsel in haar nek. Die diagnose was uiteindelik kanker in haar limfkliere. Reeds ver gevorder én versprei. Sy kon nie meer werk nie. Haar werkgewer het haar gehelp om ’n ongeskiktheidstoelae te kry. Dit betaal darem die huur.

Die chemoterapie het nie juis gehelp nie. Daar was ’n operasietjie om ’n buisie aan te bring wat die vog in haar longe help dreineer.

Tannie Lientjie sê: “Elise, jy het mos ook kanker gehad. Wil jy haar nie kom moed inpraat nie?”
So gaan ek na Lizaan toe.

Die gemmerkat skuur vriendelik teen my been toe die deur vir my oop­gemaak word. Iewers uit ’n hoek kom die vrolike gefluit van ’n budjie. Die gordyne is diggetrek, die kamer is donker en koud.
Lizaan is steeds ’n alleenmens.

Op die tafeltjie langs haar bed sien ek ’n doktersvoorskrif vir ’n klómp medisyne.

Ek vra of ek die medisyne vir haar kan gaan haal.

Onverwags bars sy in trane uit. Ná ’n ruk kry sy dit uit: “Dis die lys goed wat die hospies gaan nodig hê om my hier te kom help om nie te veel pyn te hê wanneer dit … na die einde toe gaan nie.”

Ek weet van die groot werk wat die hospiesvrywilligers doen. Hoe hulle ook die morfien se dosisse kom aanpas. Soms hou hulle ’n hand vas.

Ek bel ’n LiG-leser vir wie ek ken. Haar man is ’n apteker. Ek vertel haar van die sterwende vrou in die koue, donker kamer. Die medikasie word feitlik onmiddellik afgelewer.

Lizaan wil niemand by haar hê nie. Net tannie Lientjie, en ek. Sy vra of tannie Lientjie asseblief ’n ekstra sleutel vir haar kamerdeur sal laat maak. Sy is bang sy sterf en niemand kan binnekom nie.

Soms het sy baie pyn. Die vog bou in haar longe op. Die morfien laat haar droom. Die einde is nie meer ver nie. Sy wil net haar gemmerkat en haar groen budjie by haar hê wan­neer sy sterf.

Tannie Lientjie moet vir haar uit haar gunstelingboek voorlees – Eleanor Oliphant is completely fine. Sy het die boek by haar werkgewer die kroegeienaar gekry. Hy het gesê: “The girl in this book is like you, very alone.”

Wil sy dan nie iets uit die Bybel hoor nie? Kan ons nie vir haar bid nie?

Nee, sê sy. “Nee, ek ken Jesus baie goed. Hy is my lewe lank reeds my enigste Vriend. Ek het niks meer om vir Hom te vra of te vertel nie. Hy ken my hart en my gedagtes. Ek is reg om na Hom toe te gaan.”

So kom slaap tannie Lientjie by haar. Sommer op die vloer, sommer op ’n dun matrassie. Soms hou sy Lizaan se hand vas. Soms vryf sy haar rug. Gereeld lees sy vir haar voor uit haar gunstelingboek.

Lizaan is completely fine.

▶ Elise Bosch is die stem vir weerlose mense wat in Hillbrow woon. Sy getuig gereeld van Jesus se wonderwerke in ­hierdie swaarkrymense se lewe.

  • Hierdie rubriek het oorspronklik in Kerkbode se susterpublikasie LiG se Julie 2019-uitgawe verskyn. Die September-uitgawe van LiG is nou op die rakke.