Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die Bybelse mense het geleef in ’n wêreld waar daar nie banke was waar jy geld kon leen, of beleggings was wat dividende opgelewer het nie. Om te oorleef of uit skuld te kom was almal gevolglik afhanklik van weldoeners. Weldoeners was mense met baie status, eer, mag en lewensmiddele.
Begunstigdes was mense wat net relatiewe eer, mag en lewensmiddele gehad het en van weldoeners afhanklik was. Hulle kon ’n weldoener nooit “terugbetaal” vir dit wat die weldoener vir hulle doen nie. Van begunstigdes is egter verwag om die weldoener se lof tydig en ontydig in die openbaar te besing. So ontvang die weldoener nog meer eer en is hy “vergoed” vir sy weldaad.
In 2 Konings 5:15-27 word die Here geteken as die grootste van alle Weldoeners en Naäman as sy begunstigde.
Eer, so het die mense van Bybelse tye geglo, was soos die meeste ander middele, ’n skaars item. Hulle het geglo dat daar slegs ’n beperkte hoeveelheid eer was en dat dit reeds uitgedeel is onder mense. Indien jy jou eer wou vermeerder, sou dit beteken dat iemand anders eer moes verloor. Omdat eer so belangrik was, het mans destyds voortdurend gepoog om eie eer te vermeerder, deur ander mans op verskillende maniere uit te daag.
Na Naäman se genesing erken hy dat die God van Israel Here is en dat daar niemand soos Hy is nie. Hy neem dus die eer van sy gode (Aramese gode) weg en ken alle eer aan die Here toe.
’n Voorbeeld van iemand se eer uit te daag, is deur die gee van ’n ongevraagde geskenk. Deur ’n geskenk te gee, beteken dat die persoon wat aan die ontvangkant is, dan nou weer in die “skuld” is, totdat hy kan reageer met ’n soortgelyke (of selfs beter) geskenk. Indien geen reaksie op die geskenk volg nie, het dit ’n verlies van eer beteken vir die persoon wat nie gereageer het op die geskenk nie.
Deur Elisa se weiering om Naäman se geskenke te aanvaar, word die Here se eer gehandhaaf. Naäman met al sy mag, eer en dapperheid, is nie die Here se gelyke nie en kan daarom nie genoeg geskenke bied om Hom te “vergoed” vir sy genesing nie. Wat Naäman wel kan doen, is om die Here se lof te besing en dit doen hy ook (15-19). So ontvang die Here al die eer en verloor die Aramese gode hulle eer.
Wanneer Gehasi nou kom en agter Elisa se rug tog geskenke vra, maak hy alles ongedaan deurdat hy die Here nou weer in die “skuld” by Naäman / Aramese gode plaas en dus van sy eer ontneem. Omdat Gehasi die Here se eer omkeer, keer die Here Naäman en Gehasi se lot om – Gehasi kry nou die velsiekte wat Naäman gehad het.
Gehasi voel dat geloof ’n mens moet beloon, Elisa nie. Die gedeelte toon aan dat mense wat verwag dat geloof hulle moet beloon, niks anders as gierigaards is nie. Gelowiges se gierigheid tas God se eer aan.
▶ Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.
