Dra jy by tot patriargie?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek het aan die Weskus grootgeword met ’n pa wat lief is vir visvang. Visvang en kraaineste is sino­niem. ’n Kraaines vra baie geduld om los te torring. Dit raak egter ingewikkeld wanneer verskillende visserslyne in ’n boks verstrengel geraak het en jy nie kan sien watter lyn is watter lyn nie. Jy dink jy is met een lyn besig en dan is jy eintlik al die tyd met twee verskillende lyne besig. Of jy trek op een punt om dit los te kry, maar in die proses trek jy ’n knoop op ’n ander punt stywer.

Om oor geweld teen vroue en kinders te praat is soos om ’n kraaines met ’n mengelmoes van verskillende lyne te probeer lostorring. Jy kan nie een lyn trek sonder om terselfdertyd ook met die ander besig te wees nie.

Van die verskillende lyne betrokke in geweld teen vroue en kinders is patriargie, ras, klas, seksualiteit, gender, godsdiens, armoede, gebrekkige infrastruktuur, werkloosheid, kultuur, strafregtelike prosesse, groepsdruk, ’n kultuur van geweld, nalatenskap van apartheid, kolonialisme, ekonomie, polisiëring, MIV/Vigs, dwelmhandel, dwelm- en alkoholmisbruik, familiestrukture, geestesversteurings en die onderwysstelsel.

Lees ook: ‘PATRIARGIE IS SIEKTE VAN DIE SIEL’ – TEOLOË PAK OORSAKE VAN GEWELD TEEN VROUE

Saam skets dié lyne die ineengestrengelde kompleksiteit van geweld teen vroue en kinders. Elkeen van hierdie lyne is opsigself ’n hele kraaines wat ontrafel moet word.

As ’n mens sekere lyne ignoreer is dit maklik om jouself te verontskuldig: Dit is booswigte wat sulke goed doen, nie ek nie. Dit is ’n regeringsprobleem. Ons strafregtelike proses moet uitgesorteer word.

Rigters 19 is ’n ontstellende, maar nodige verhaal om mee te worstel en beeld iets uit van die kompleksiteit van geweld teen vroue. In die Nuwe Afrikaanse Vertaling eindig die teksgedeelte met die woorde: “Ons moet dit ter harte neem. Ons moet ’n plan maak. Ons moet praat!”

En dit los ons met die vraag: Wat kan ons doen?

As kerk is die een “lyn” wat ons in gemeen het godsdiens. Prof Sarojini Nadar, van die Desmond Tutu-leerstoel vir ekumeniese teologie en sosiale transformasie aan die Universiteit van Wes-Kaapland, is een van die vele stemme wat glo ons kan nie godsdiens se bydrae tot die geweld teen vroue en kinders ignoreer nie. Nie in ’n land waar amper 80% mense bely dat hulle Christene is nie, sê sy. Die probleem is nie net dáár nie, maar ook híér, in hoe ons die Bybel lees, interpreteer en verkondig.

Die Bybel het in patriargale kontekste neerslag gevind. Patriargie beteken die heers (arché) van die vaders (pateres) en is ’n denksisteem waar mans oor vroue heers. Wanneer ons die Bybel onkrities lees trek ons die patriargale denksisteem deur na vandag toe.

Patriargie is oor die jare meer ver­teerbaar gemaak. Dit maak dit egter nie minder gevaarlik nie. Die vrou word nie meer gesien as die man se besitting soos in die Bybel nie, maar die man word dikwels nog verkondig as die hoof van die huishouding of dat hy die leiding moet neem in die gesin. Daar doen ge­reeld op Facebook ’n diagram die rondte wat God bo sit, dan die man en onder hom die vrou – as Godgegewe hiërargie. So, wat gebeur nou as die vrou nie optree na die man se wense nie, as sy nie onderdanig is nie? Sy word op haar plek gesit – met woord of daad. En natuurlik vat alle mans dit nie so ver nie, maar as ons die teologie en sisteem in stand hou wat die ruimte hiervoor bied, is ons nie ook aandadig nie?

Patriargie is die status quo en ons taal en gewoontes hou dit in stand. Wanneer ons nie doelbewus let op ons woorde en gedrag nie, handhaaf ons dit. Dra jou teologie, jou taal, jou gewoontes, jou woorde, jou voorbeelde, jou grappies, jou staaltjies by tot die handhawing van patriargie en geweld of daag dit die status quo doelbewus uit?

“If you are neutral in situations of injustice, you have chosen the side of the oppressor,” het emeritusaartsbiskop Desmond Tutu gesê. Watter kant kies jy?

  • Ds Lou-Maré Denton is leraar by die NG gemeente Brackenfell en lid van die Gendertaakspan van die Wes-Kaapse Sinode.

3 thoughts on “Dra jy by tot patriargie?

  1. Barend says:

    Patriargie moet asb nie uitgemaak te word as die skuldige of selfs een van die skuldige elemente van geweld teen vroue en kinders nie. Die wegbeweeg van die stelsel is eerder skuldig.
    Waar ‘n vader nie meer daar is om die regte leiding en beskerming te verleen nie, faal die gesin. Die gebrek aan vaders figure en dan ook die marginalisering van die figure het ‘n groter negatiewe impak op ons samelewing as wat ons besef. Dit is veral ook waar mense patriargie verkeerd verstaan waar dinge begin skeef loop.
    En skeefloop kan dit beslis. Daar is nou reeds drie studies wat ‘n korrelasie gevind het tussen ‘n gebrek aan behoorlikte vaders figuur en ander seksuele oortuigings.
    Dit is nie net op sosiale media wat die sogenaamde rangorde van God, Jesus, man, vrou en dan na kind loop nie maar ook in die Bybel.
    Die man se posisie is nie een van gesag uit-oefen nie maar eerder van beskerming.
    Ons moet versigtig te werk gaan waar ons strukture wil vernietig alvorens ons ander werkbare en getoetsde alternatiewe kan voorlê.

  2. Sarel Strydom says:

    Die man moet die rol as Hoof en Beskermheer van die huis en sy gesin uitleef. Dit moet egter met Christelike liefde uitgeleef word. Wanneer die man dit nie doen nie volvoer hy nie sy taak as hoof en beskermheer nie. Pasop dit gebeur dat die man weerhou word van hierdie taak en tot minderwaardig afgemaak word
    Dit is bevorderlik vir geweld binne die gesin

  3. Burger Visser says:

    Iemand het my eendag gevra of ek myself as konserwatief of liberaal beskou . Die antwoord by myself was ek moet seker maar kyk wie die vraag vra en vir wat se rede.

    Die lys van die vrouens wat die stryd teen patriargie ondersteun , professors heel bo en laaste die persoon met geen titel, gewapen teen die stryd van bepaalde hieragie het my nogal laat wonder wat die uiteinde hiervan gaan wees.

    Wie gaan besluit wanneer is die stryd verby en wat moet gebeur om by n sekere punt uit te kom. Daar moet tog n einde aan iets wees ..dalk tot n nuwe hierargie weer ontspring en gevestig is met sy nuutgevonde postmoderne wysheid in orde van proffesore tot die titel lose .

    Dit is asof een issue uitgedien raak en vars ene net weer in sy plek wag sodat ons mekaar daarmee kan verguis. Die verganklikheid van die woorde van die wyses …

Comments are closed.