’n Bybelse rugbyspan?

Met Rassie Erasmus wat onlangs sy Wêreldbekergroep aangekondig het, het ons gewonder wat sou gebeur as die keurders ‘n span uit die Bybel sou moes saamstel*. Onder is die Iys spelers wat ons dink hy sou intrek, met hulle posisies, provinsiale spanne, agtergrond en waar julle meer oor hulle loopbaanhoogtepunte kan lees, skryf ds WOUTER VAN VELDEN.


1. Loskopstut: Koning Eglon, Moab Maulers

Met sy massiewe gewig anker koning Eglon die een kant van die skrum. Trouens, hy is so swaar die opposisie se voorry gaan hom kwalik kan skuif as hy eers sy plek ingeneem het. As hy eers momentum opbou, lyk en voel dit vir die teenstanders soos ’n kanonbal wat oor hulle rol. Hy het egter ’n vreemde vrees vir linkshandige spelers en die kopdokters van die span gaan hard moet werk om dit te oorkom. Loopbaan­hoogtepunt: Rigters 3:12-30.

2. Haker: Petrus, Galilea Gaffelaars

Ure en dae op die waters van Galilea het hierdie haker taaier gemaak as die sout­vis waarvoor hy so lief is. Met jare se oefening met die ingooi van werpnette is hy uiters akkuraat by die lynstane en soos sy hoeke haak hy alles wat by die skrum inkom. Lyk of Petrus se lojaliteit bo verdenking is. As hy goed bestuur word mag hy dalk almal verras met sy leierskapspotensiaal. Loopbaanhoog­te­punte: Die Evangelies, Handelinge, 1 en 2 Petrus.

3. Vaskopstut: Jabes, Juda Landbou­kollege

Die smart is duidelik te sien op die ge­sigte van die teenstanders se voorry as hulle teen Jabes moet skrum. Of dit is dat die opponerende skrum agteruit­boer wanneer hy speel en of dit in ope spel is, wanneer Jabes speel, lyk dit altyd asof sy span veld wen. Hy is geseënd met ’n beseringsvrye loopbaan, asof geen onheil op die veld hom kan tref nie. Loopbaanhoogtepunte: 1 Kronieke 4:9-10.

4. Slot: Goliat, Gat Rugbyklub

’n Drie meter monster en die bullebakbreker van die span. Daar is min spelers wat naby Goliat se grootte en krag kom en nog minder wat hom wil aanvat. Trouens, die meeste kom eerder uit sy pad op die veld. ’n Bekkige kêrel wat dit geniet om sy opponente liggaamlik en woordeliks aan te vat, maar tog vatbaar vir hoofbeserings. Verwag om hom in ’n kopskerm te sien. Loopbaanhoogte­punte: 1 Samuel 17.

5. Slot: Saul, Benjamin Brekers

Lank, sterk en aantreklik. Saul trek die oog van ondersteuners en speel ’n be­langrike leiersrol in sy tuisspan. Hoewel bekwaam voel hy by tye bedreig deur ander leiers en die afrigtingspan sal moet keer dat hy hulle nie probeer ondergrawe nie. Loopbaanhoogtepunte:
1 Samuel 9 – 31.

6. Steelkantflank: Nimrod, Kus Natuur­bewaringskollege

Hoewel min oor Nimrod aan die media bekend gemaak is, is hy die beste baljagter wat die span in jare gesien het en speel hy met ’n dapperheid wat vinnig legendaries gaan word. Die verwagting is dat hy oor ’n wye gebied nog ’n in­vloed gaan hê. Loopbaanhoogtepunte: Genesis 10:8-12.

7. Oopkantflank: Johannes, Woes­tynwandelaars

Daar is min ander rugbyspelers wat so ’n woeste voorkoms soos Johannes het of wat so lief is vir heuning, sprinkane en water. Hy is egter ’n harde werker en wil juis die kollig op ander spelers laat val eerder as om aandag op homself te vestig. Van die veld af is hy bekend vir sy beginselvastheid, selfs al beteken dit hy moet ’n prys daarvoor betaal. Loopbaan­hoogtepunte: Matteus 3, 14.

8. Agtsteman: Simson, Sora Univer­si­teit

Lang lokke en spiere som hierdie stormram van Sora op. Hy word dikwels as ’n baldraer ingespan wat die opponente se verdedigingslyn aanvat – meestal met sukses aangesien dit omtrent ’n hele groep spelers vat om hom neer te bring. Indien die afrigtingspan sy aandag van die rasieleiers kan afhou, met wie hy ongelukkig al van-die-veld-af pro­bleme opgetel het en wat geneig is om sy konsentrasie te verbreek, gaan Simson sorg dat sy span telkens oor die voordeellyn kom. Loopbaanhoogtepunte:
Rigters 13 – 16.

9. Skrumskakel: Paulus, Tarsus Trap­pers

Intelligent, passievol en nie bang om in die middel van die moeilikheid in te hardloop en die groot manne aan te vat nie. Aanvanklik was hy heeltemal teen alle rugbyspanne gekant, maar na ’n reis na Damaskus het hy een van die grootste voorstanders van die sport geword. Paulus het al baie rondgetoer en oral erva­ring opgedoen. Hy het reeds met al die ander spelers verhoudings gebou en dien dus as uitstekende skakel tussen almal op die veld, spesifiek ook tussen persone wat andersins nie saam kan speel nie. In sy vrye tyd skryf hy graag briewe. Loopbaanhoogtepunte: Handelinge 9 – 28, die briewe van Paulus.

10. Losskakel: Dawid, Jerusalem Rugbyklub

’n Generaal wat die span koning sal laat kraai. Dawid het skielik op die toneel verskyn maar vinnig opgang gemaak. Hy beskik oor al die nodige vermoëns om die teenstanders op ’n wye verskeidenheid maniere uit te oorlê. Van die veld af is hy lief vir dig en sing. Ongelukkig het hy al probleme met Goliat en Saul opgetel en die afrigtingspan sal hulle verhouding mooi moet bestuur. Loopbaan­hoog­tepunte: 1 Samuel 16 – 2 Samuel 24.

11. Linkervleuel: Elia, Tisbe Universiteit

Wanneer dit nodig is kan Elia die spoed so aandraai dat niemand kan byhou nie. Sy fiksheid maak dat dit lyk asof hy nie 40 minute nie maar eerder 40 dae aaneen kan speel, selfs in die warmste toestan­de. As iemand met ’n sterk persoonlikheid is hy bereid om die leiers in die span aan te spreek wanneer hulle nie na wense optree nie. Van die veld af is hy lief om kraaie te tem en hy besit ’n indrukwekkende vuurwa waarmee hy nou en dan die verte in ry. Loopbaanhoogtepunte: 1 Konings 17 – 2 Konings 2.

12. Binnesenter: Josua, Jordaan­rivier Rovers

Twee woorde som hierdie binnesenter op – sterk en vasberade. Waar groot teen­standers vrees by ander spelers inboesem, is Josua altyd oortuig hulle kan aangevat word. As hy voel ’n plan gaan werk sal hy daarmee aanhou al voel dit asof dieselfde ding oor en oor gedoen word – totdat die verdediging skielik op ’n punt in duie stort. Loop­baan­hoogte­punte: Numeri 13 en 14, die boek Josua.

13. Buitesenter: Nehemia, Bal­ling­skap Broers

As Nehemia eers die verdediging organiseer is dit asof ’n muur skielik verrys. Hy laat hom ook nie van stryk bring deur die uitjou van sy teenstanders nie en gaan net voort met wat hy moet doen. Hy het ’n belangrike loopbaan in die regeringstrukture prysgegee om vir die span te speel. Loopbaanhoogte­punte: Die boek Nehemia.

14. Regtervleuel: Ehud, Benjamin Bulle

’n Gevaarlike kalant op die regtervleuel. Hoewel sy vaardighede na sy linkerkant beter is as dié na regs, is Ehud moeilik leesbaar deur opponente omdat hy sy bedoelings so goed kan wegsteek. Hy kry dit ook reg om uit ongemaklike plekke te wriemel. Sy verhouding met Eglon is gespanne en die spanbestuur sal daarop moet let. Hy is tans besig om as belas­tingkundige opleiding te ontvang. Loopbaanhoogtepunte: Rigters 3:12-30.

15. Heelagter: Noag, Vloedwater Natuurbewaringskollege

Noag bly rustig al reën die hoë hangskoppe op hom neer. Dit lyk partykeer asof hy met ’n eie spelplan besig is wat niemand anders in insae het nie, maar telkens blyk sy keuses die beste vir die span te wees. Van die rugbyveld af verstom Noag mense met sy kennis van die diereryk en hoe elkeen opgepas en versorg moet word. Hy is mal oor reenboë en wingerde. Loopbaanhoogtepunte: Genesis 6:5-9.

* Geskryf na aanleiding van ’n oorspronklike artikel deur Brian Smith oor die NFL.

2 thoughts on “’n Bybelse rugbyspan?

  1. christo says:

    Pragtig saamgevat. Is daar nie plek vi Josef nie? Met sy drome en uitspattige sport klere kan hy maklik teenstanders se bloeddruk laat styg en hulle aandag van die spel weg neem. En Hy is bekend van iemand met leierdeienskappe so die span kan jie verkeerd gaan met hom as kaptein jie

  2. Walter Sutton says:

    Skitterende humor, kwinkslae, waarhede, wyshede, insig en raad op sy Bybelste! Welgedaan.

Comments are closed.