Oor publieke worsteling en prys van dissipelskap

I beg to differ: Ministry amid teargas deur Peter Storey
Uitgewer: Tafelberg-Uitgewers, 2018


Ons verbeelding oor die amp is eksklusief gevorm deur die gemeentes waarin ons grootge­word het. Tog het Suid-Afrika ’n baie ryk ekumeniese tradisie, waarvan die Metodiste Kerk deel is.

Hierdie outobiografie is ’n diep bron oor die betekenis van die amp tydens die anti-apartheidveldtog wat deur die Metodistekerk aangepak is. Peter Storey se getuienis oor sy eie vorming, roeping en dra van die amp is ’n bron van inspirasie. Dit is ’n verhaal wat keer op keer terugkom na die vraag oor wat dit beteken om gehoorsaam te wees aan Christus bo enige ander mag. Soms het dit van Storey gevra om selfs op te staan teen sy vriende, gemeentelede en die ANC, byvoorbeeld met die moord op Stompie Seipei. Nog so ’n geval was ’n konfrontasie met die sekuriteitswagte van Winnie Madikizela-Mandela, waar Storey gerugte van geweld deur haar volgelinge wou bespreek. Nadat hy deur Madikizela-Mandela se sekuriteits­wag­te verhoed is om die gebou binne te gaan, sê hy gewoon: “I have come to minister to Mrs Mandela and I do not have to answer to you”.

Die boek is ’n brose verhaal oor die prys van dissipelskap en die private en publieke worsteling om getrou te bly aan Christus en die amp. Dit is ’n boek wat elke draer van die amp van gelowige kan lees om wysheid te kry oor hoe om vandag se vele krisisse te benader. Storey se verhaal getuig dat dit net kan gebeur deur ’n beliggaamde spiritualiteit van geregtigheid en getrouheid aan Christus bo alles.

Ds Jaco Botha is predikant van Bre­dasdorp Gemeente. eksjaco@gmail.com