Ek het vanoggend vir Yolanda Visagie (28/12/1977 – 21/09/2019) begrawe. Dit was moeiliker as gewoonlik. Want sien, Yolanda was een van die onsigbares in ons wêreld. Een van die mense wat op die rand van ons samelewing geleef het. Min het haar, haar behoeftes en drome geken.
Yolanda is gebore uit liefde van ’n pa en ma wat haar seker met groot opgewondenheid in die lewe ontvang het. Op 2 was sy ’n pragtige klein dogtertjie met ’n vonkel in haar oog. Gou het haar lewe ’n ander pad begin loop. Sy val eers in ’n swembad en doen breinskade op. Die breinskade was van ’n ligte graad maar vertraag haar intellektuele ontwikkeling en veroorsaak dat haar gesigvorm ook verander.
Haar ouers kan later nie meer vir haar sorg nie en sy woon vir jare tussen ander familielede.
Veel meer weet ek nie.
Ek leer ken haar sewe jaar gelede as een van ons gemeente se lidmate. Sondag na Sondag sien ek haar daar op die galery van ons kerkgebou. Alleen.
Na die diens kom drink sy tee. Alleen.
In die week sien ek haar stap op straat – alleen – altyd doelgerig. Soms stoot sy ’n waentjie met kinders wat sy oppas. Op ’n ander keer vertel sy my sy pas nou vir “Oupatjie” op. Ek kon nooit uitvind wie “Oupatjie” is nie. Na “Oupatjie” se dood doen sy “carwatch”. Dit betaal nie goed nie maar dis darem iets, sy kla nie.
Sien, sy het nooit gekla nie, sy het nooit iets gevra nie. As jy haar help met iets en sy het twee, dan bring sy een terug.
Die gevolge van die “carwatch” kon ’n mens op haar gesig sien, blootgestel aan die son en die elemente.
So ’n jaar of wat gelede vertel sy dat sy kanker het, ’n gewas aan haar nek. Eers na Helderberg-hospitaal, later Tygerberg. Sy moet “chemo” (kiemo soos sy gesê het) kry, sê sy.
Later sal ek hoor dat sy elke keer as sy “chemo” kry die trein 05:00 van Strandstasie af gevat het tot by Bellville-stasie, daar het sy 5 km gestap tot by Tygerberghospitaal, “chemo” gekry, teruggestap, en die trein gekry. Môre, staan sy weer “carwatch”.
Na die “chemo” het dit goed gegaan vir ’n ruk, sy het ’n vriend gehad, sy het blyplek in ’n kamer in Gordonsbaai gekry. Sondag na Sondag het sy ’n geleentheid gereël om kerk toe te kom.
Alleen.
Toe kom die kanker terug, meer agressief, meer vernietigend.
Weer het die “chemo” begin. Weer het sy die trein gevat.
Gestremdheid, wees wees, armoede kon haar nie baas raak nie, maar nou het haar eie liggaam haar begin baas raak. Nooit het sy opgegee nie, tot op die einde nog “chemo” gehad.
Op 21 September is sy finaal huis toe.
Hemel toe.
Waar daar ’n feesmaal is,
waar daar ’n Vader is,
waar daar vreugde is.
Vir baie van ons is hierdie lewe al hemel, baie pret, baie plesier. Daarom stel ons nie veel belang in wat wag nie, want dit kan mos nie beter wees nie.
Yolanda moes 42 jaar wag vir haar hemel.
Ek sien hierdie week ’n blink voertuig verby ry met die nommerplaat “blessed”. Ek wonder wat het sy gedink as sy die “blessed” motor moes oppas totdat die kreunende kruidenierswa met meer blessings terugkom van die supermark. Yolanda was seker dan nie “blessed” gewees nie.
Tog het sy vasgehou aan die hoop wat sy nie kon sien nie. Uitkoms was daar min in haar lewe, maar sy het vasgehou aan haar Vader. Sien, Yolanda was geseënd, geseënd met ’n geloof wat alle verstand te bowe gaan.
▶ Ds Christo Benade is leraar van die NG gemeente Suiderstrand. Hierdie skrywe is oorspronklik op 27 September op sy Facebookblad gepubliseer en word met toestemming hier gebruik.
Kliek hier vir nog huldeblyke en doodsberigte of om self een te skryf.