Twyfelaars wat glo: ’n Nederlands-Afrikaanse tweegesprek
Deur Hans Ester en Chris van der Merwe
Uitgewer: AFRICAN SUN MeDIA, 2019
Twyfelaars wat glo is ’n versameling briewe tussen twee Christen-vriende en afgetrede letterkunde-dosente, die Afrikaanse Chris van der Merwe en die Nederlandse Hans Ester. Die briefwisseling begin in Augustus 2013 en strek tot Januarie 2019. Verskeie knellende sake word aangeraak, en synde “twijfels essentieel bij de benadering van waarheid (zijn)” word geen finale standpunt oor die onderwerpe aangebied nie. Onderwerpe soos (oa) gebed, erfsonde en die versoeningsoffer van Jesus, die Bybel, geloof en trauma word deeglik vanuit elkeen se perspektief onder die loep geneem. Daar is ook aktuele onderwerpe soos die klimaat, kultuur en taalsake wat hanteer word. Die onderwerpe word ingebed in die veranderde politieke bestel waarbinne die twee skrywers hulle op verskillende vastelande bevind.
Die boek is beslis ’n vonds vir taalkundige fynproewers. Dit vra egter ook ’n bepaalde taalkundige en kulturele leesvaardigheid wat dit nie vir Jan en Sarie Publiek ewe toeganklik gaan maak nie. Die wisseling tussen Afrikaans en Nederlands mag vir sommige lesers uitdagend wees, hoewel daar genoeg voetnotas en addisionele byvoegings tot verwysings ingesluit is om onsekerheid uit te wis. Alhoewel die onderwerpe op die oog af van toepassing is op alle gelowiges, vra dit lesers met ’n groter belangstelling in die letterkunde om waarde in hierdie briefwisseling te vind. Ek het myself soms betrap dat my oog oor paragrawe “gespring” het, en my aandag het nie oral met dieselfde intensiteit behoue gebly soos ek van hierdie onderwerpe sou verwag nie. Tog is dit juis die deeglikheid van die skrywers se denkprosesse wat my waarskynlik sou kon motiveer om die boek weer op te neem.
Die waarde van die boek, so oordeel ek, gaan in die verdere nadenke en dialoog lê wat dit by die lesers sou kon skep. Dit is ideaal vir leesgroepe wat kans sien vir ’n uitdagende lees en nóg uitdagender gesprekke.
▶ Dr Ronell Bezuidenhout is teoloog, predikant, skrywer en kunstenaar. Sy woon in Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap.