Die dinge van ’n (predikants)kind

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Anderdag keer ’n vrou my in ’n winkel voor. “Jy is mos ’n predikant se kind, né?” sê sy. “Ek is ook een.”
Inderdaad. My oorlede pa was oor baie jare heen op verskeie dorpe ’n NG predikant: op Grootfontein in die ou Suidwes-Afrika, op Daniëlskuil, op Skeer­poort. Ook op Naboomspruit, wat nou ’n nuwe naam het wat ek knaend vergeet.

“Miskien moet ons ’n steungroep stig,” sê die vrou. “Ek het reeds ’n naam vir die groep: DOSKA.” Net daar in die winkel omhels ek en sy mekaar, asof ons mekaar jammer kry.

DOSKA. Dominee Se Kinders Ano­niem.

Miskien is dit nie ’n slegte plan om ons klomp wat ’n predikant vir ’n pa – ook ’n ma, deesdae – het of gehad het, formeel in ’n groep saam te snoer nie. Baie van ons, glo ek, dra dieselfde neuroses en ander geestelike letsels en ge­kneldhede. Ons sal baie vir mekaar te sê hê op ’n DOSKA-byeenkoms. (Ek ver­moed daar gaan ook baie wyn gedrink word.)

Ek is al ’n man van in die vyftig, en steeds betrap ek myself soms dat ek vir iemand sê: “Ek het mos in ’n pastorie grootgeword.” Asof dit een of ander gebrek in my persoonlikheid behoort te verklaar.

In ’n pastorie, langs ’n plattelandse kerkgebou, sonder ’n heining of muur tussenin. Die kerk se klok wat die ure meedoënloos aftel. ’n Klok wat jou na elke erediens roep, en roep, en roep – selfs na ’n gemeentebiduuur op ’n Woens­dagaand, en elke keer moet jy gaan, want hoe sal dit lyk as die dominee se kind by die huis sit terwyl God se naam net hier langsaan aangeroep word?

Daardie gemeentebiduur op ’n Woens­dagaand op Daniëlskuil was die kwaaiste. Pa wat sê: “Ons gee nou ge­leentheid vir gebed.” En oorlede oom Andries Grové wat opstaan, en begin: “Dierbare, almagtige Hemelse Vader …”, en vir ’n hele 7 min 16 sekondes lank bid voor hy by amen kom. Daarna liewe tannie Hester van Niekerk wat wegval met: “U is die pottebakker, o Heer, en ek is die klei …” en vir 5 min 34 sekondes bid – 34 sekondes, ja. Ek weet, want ek het skelmpies onderlangs die lengte van hulle gebede op my Lanco-polshorlosie gemeet.

Elke predikantskind uit ’n vroeëre era, vermoed ek, sal vir jou ’n storie kan vertel oor die beproewing van ’n gemeentebiduur op ’n Woensdagaand. (Ekself probeer my eie gebede ná al die jare steeds maar kort hou.)

O, en die stroom mense wat gedurig by ’n pastorie aankom, genooid of onge­nooid; en oorlede Ma wat in die gang af roep: “Seun, kom groet jy nie die mense nie?” En ek wat by my kamervenster uitspring, en weghardloop …

Ek raak steeds effens angstig wanneer ek te veel vreemde mense op een slag moet groet. Dit kom van die pastorie af. Jy is tien jaar oud, en daar staan jy voor ’n borstige vrou, omgewe met 4711-parfuum-walms, en sy gooi haar hande wyd oop, en sê: “My mag, maar die kind word nou groot. Kom gee vir die tannie ’n soen. Toe, kom gee vir die tannie ’n klapsoen.” En jy wat vir ’n paar oomblikke in haar borstigheid verdwyn.

Op ’n kerkbasaar is dit iets wat jy maklik 40, 50 keer moes herhaal. “Kom gee vir die tannie ’n soen. Toe, kom …”

Die pastoriebank.

En altyd was daar een of twee ooms wat dit hulle plig geag het om jou in te lei in die aardse geheime van manlikheid, asof jou pa, die Godsman, dit nie self kon doen nie. “Nee, man,” hoor ek oom Niek Louw weer sê. “Moenie vir my so ’n sagte, pap handjie gee nie. Jy groet ’n man met ’n ordentlike handdruk.” Toe druk hy my hand tot net duskant breek. Dis ook oom Niek wat my een aand met sy Peugeot-bakkie geneem het om my eerste bok, ’n verskrikte duiker in ’n skiet­lamp se ligkol, te gaan skiet.

Ná al die jare moet ek ook steeds partykeer by iemand hoor: “Jy was seker baie stout. Hulle sê mos ’n dominee se kinders is die stoutste.”

Ek weet nie of ons predikantskinders stouter as die ander kinders – ’n predikantskind bly in ’n sekere sin altyd ’n kind – is of was nie. Hoe bepaal ’n mens in elk geval so iets? Ek vermoed wel as jy in ’n pastorie grootgeword het, het jy miskien ’n groter behoefte as die meeste ander kinders om jouself, bewustelik of onbewustelik, as individu te bewys, as gewone, sondige mens. Dit het party van ons rebels gemaak.

Nie te lank gelede nie was ek vir die eerste keer in hoeveel jaar weer op Daniëlskuil. Ek het ook by die kerk ’n draai gemaak. Pa se foto hang steeds daar teen die muur in die konsistorie, saam met die gemeente se vorige predikante s’n.

Daardie bordjie is steeds daar op die voorste bank: Pastoriebank. Daar waar ek en Ma soveel keer ingeskuif het.

Ek het weer daar gaan sit, vir lank, in die stil kerk, rustig, met oom Andries Grové wat later weer in die derde bank van vooraf orent kom, en begin: “Dierbare, almagtige Hemelse Vader …” en diep binne-in ek wat opeens weet ek sou niks anders wou gehad het nie.