Ongekaart en Roetemerkers
Redakteurs: Cas Wepener en Anandie Greyling
Uitgewer: Bybel-Media, 2019
Ongekaart sien die lewe nie as ’n goedbeplande reis met ’n uitgewerkte kaart nie, maar as ’n swerftog wat jou op onbekende paaie neem. Langs die lewenspad kom ’n mens soms by brûe of oorgange; van die oorgange is groot en voorspelbaar, ander meer onvoorspelbaar en ongekaart. In die kerk is daar roetemerkers of rituele vir die groot oorgange soos geboorte (doop), volwassewording (belydenisaflegging), huwelik (troue) en sterfte (begrafnis). Daar is egter vele ongekaarte oorgange soos skoolverwisseling, egskeiding, miskraam, werksverlies, versoening en rampe waarby goedbeplande rituele waarde sou kon toevoeg. Beide Ongekaart en Roetemerkers maak kreatiewe en waardevolle rituele bydraes vir hierdie meer ongekaarte oorgange.
In Ongekaart word ’n komplekse teorie op ’n toeganklike manier vervleg met baie praktiese en kontekstuele voorstelle in terme van rituele en liturgieë. Die kontekstuele aard van rituele kom na vore in die verskeidenheid stemme van die verskillende skrywers. Dit is nie net ’n nuttige hulpmiddel in terme van rituele nie, maar sensitiseer ’n mens terselfdertyd vir die kompleksiteit van lewensoorgange. Alhoewel baie van die rituele meer pas binne die konteks van terapie of persoonlike ruimtes, verruim dit ook ’n mens se denke in terme van die erediens.
Roetemerkers gebruik Ongekaart as verwysing en gee meer spesifiek praktiese riglyne en voorbeelde van rituele roetemerkers vir jeuggefokusde- en interouderdom-oorgange.
Beide hierdie boeke kan net so as hulpbronne gebruik word, maar prikkel terselfdertyd die leser se kreatiwiteit om self kontekstuele liturgieë of rituele te ontwikkel, hetsy vir die spreekkamer of erediens.
▶ Ds Lou-Maré Denton is ’n predikant by die NG gemeente Brackenfell.