Seeskilpad se lyding toe laaste strooi(tjie) vir dié Matie

Toe ’n student van die Universiteit Stellenbosch (US) ’n foto van ’n seeskilpad met ’n plastiek­vurk in sy neus op Facebook sien, het sy besluit sy gaan sélf iets doen om plastiekbesoedeling te bekamp.

“Ek voel sterk daaroor dat ons die aarde en sy wesens moet beskerm. Om die skade wat mense veroorsaak te aanskou, maak my woedend en hartseer,” sê die 19-jarige Leila Sil­jeur.

Dié tweedejaar Chemiese Ingenieurswese-student het toe daad by die woord gevoeg en eetbare strooi­tjies onder haar eie handelsmerk Eat Me Straws ontwerp.

Intussen het haar strooitjies ’n kontantprys van R50 000 in die onlangse Allan Gray Orbis Stigting Nasionale Jamboree losgeslaan, luidens ’n mediaverklaring van die US.

Eat Me Straws bestaan uit drie reekse – gewoon, gesond en streng vegetaries (vegan). Die voordeel van hierdie strooitjies is dat hulle nie pap word wanneer jy dit in ’n vloeistof sit nie. Leila glo dit is ’n verbetering op dít wat sover in die lyn van eetbare strooitjies gedoen is. “Hoewel maatskappye bioafbreekbare strooitjies vervaardig, beland baie daarvan nog steeds in die see wat ’n gevaar vir ons seelewe inhou,” vertel sy.

In die ontwerpproses het Siljeur met verskillende bindings-, emulgeer- en glaseermiddels rondgespeel omdat sy nie taai strooitjies wou hê wat die smaak van jou drankie sal beïnvloed nie.

Leila verduidelik: “Ons gebruik verskillende basisse vir die drie reekse – gelatien vir die gewone strooi­tjies, plante vir die streng vegetariese reeks en vrugte vir die gesondheidsreeks.

Volgens Leila verkoop sy tans die strooitjies op ’n informele grondslag aan studente, maar met die prysgeld kan sy nou uitbrei. Haar droom is egter om haar strooitjies in winkels en restaurante beskikbaar te stel.