’n Handvol lesse van die Wêreldbeker-kampioene

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Daar sal seker nog baie geskryf word oor die leierskapslesse wat ons kan leer uit die Springbokke se triomf in die Wêreldbekerfinaal. Hier is solank ’n paar deur die lens van ’n gestuurde kerk.

Moenie onderskat wat in 24 maande kan gebeur nie. Ons sê baie dat missionale transformasie nie tussen brêkfis en tee gebeur nie, dit vat jare. Aan die ander kant moet jy ook nie onderskat watter impak ’n gemeente (of individu) kan maak as jy gefokus is nie. Die Bokke se meteoriese opgang van nommer 6 op die wêreldranglys in 2017 na nommer 1 vandag, herinner ons dat regtig baie in twee jaar kan gebeur.

Verenig rondom ’n inspirerende doel. Daar is min dinge wat mense so inspireer soos ’n duidelike, uitdagende doel. Die Bokke het geweet wat wil hulle bereik en as ’n span gespeel om dit te doen. ’n Duidelike roeping verenig ’n gemeente en bring energie. En dit maak dat mense vasbyt as dinge moeilik word of daar kom weerstand.

#strongertogether – Diversiteit maak ons sterker. Hierdie is iets wat die vroeë kerk baie gou geleer het: Ons is nie almal dieselfde nie en moet ook nie wees nie. Die krag van die liggaam van Christus lê juis in die verskeidenheid van die liggaamsdele. Daar is baie gesê oor die groot verskille in die Springbokke se lengtes en liggaamsmassa. Dit is wat ’n goeie span maak. En dit maak ook wonderlike foto’s.

Speel na jou sterkpunte. Die Bokke het daarin geslaag om wedstrydpatrone af te dwing deur hulle eie sterkpunte ten beste te benut. Dit het die lewe uit ander spanne gewurg. Wat is julle gemeente se sterkpunte? Dink mooi hieroor want dit is waarmee julle ’n impak gaan maak.

Alles begin in die vaste vyf. Die harde werk en vermoëns van die voorspelers het die grondslag gelê vir die res van die span. In missionale gemeentes praat ons van die sentrale leierspan wat die wa trek, hulle toewyding, gawes en doelgerigtheid hou die momentum lewend. Kry die beste mense aan boord hiervoor. Maar – moet hulle nie uitbrand nie. Rassie se ses voorspelers op die plaasvervangersbank het sy sleutelspelers beskerm om die hele toernooi hulle beste te gee.

Moenie opgee na die eerste mislukking nie. Ons hoor soms dat gemeentes oor hulle uitreikpogings sê: “Ons het probeer maar dit het nie gewerk nie.” En dan gooi hulle sommer tou op. Daarteenoor vra ’n missionale kultuur juis vir ruimte om te mag misluk. Dit is uit ons mislukkings en foute wat ons leer. Die Springbokke se verloor teen Nieu-Seeland het hulle nie gekeer om alles te gee in die res van die toernooi en die beker huistoe te bring nie.

Eerlikheid bring vertroue. ’n Hele klomp spelers het van Rassie Erasmus gesê: “Hy is eerlik, daar is nie verskuilde agendas nie. Dit het gemaak dat ons hom vertrou.” Vertroue is die fondasie van leierskap, of jy die Springbokke afrig en of jy ’n gemeente of diensgroep lei. Eerlikheid en deursigtigheid skep vertroue.

“Leaderful organizations.” Dit maak my altyd baie gespanne as Siya Kolisi twintig minute voor die eindfluitjie van die veld afgaan. Hoe kan die kaptein die span verlaat? Klaarblyklik net as daar genoeg leierskap in die res van die span is. Gayle Avery het gepraat van die nuwe styl van leierskap as “leaderful”: daar is leiers op alle vlakke en alle plekke in die organisasie en hulle weet wat om te doen. Predikante wat leierskap in hulleself sentreer, doen die gemeente ’n reuse-onguns aan. En dit gaan téén die teologie van Efesiërs 4 wat nie die leierskapsgawes in een persoon sentreer nie.

Om hoop te bring is ’n voorreg. Laat ons dit by Rassie Erasmus leer: Dit is nie ’n las om hoop te bring nie, dit is voorreg. En wat ’n voorreg het gestuurde mense nie: om hoop te bring in ’n wêreld waarin so baie mense moedeloos en hooploos geword het. Jesus is die hoop vir die wêreld en ons is sy gestuurdes.

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.