Die Greytown-kinderhuis het onlangs hulle 100-jarige bestaan met groot dankbaarheid gevier.
Dié kinderhuis, wat sedert 2005 Greytown Child and Youth Care Centre heet, het daarom hulle vieringe by die NG gemeente Greytown met ’n dankdiens afgesluit, het Elize de Villiers, kommunikasiebeampte van die KwaZulu-Natal Sinode, laat weet.
Elize vertel daar is vandag sewe huise, die Kammaland-kleuterskool en ’n nuwe siekeboeg, wat deur die nasionale lotery geborg is, op die terrein.
Hulle is ook uiters dankbaar vir die getal vrywilligers wat sedert 2018 toegeneem het. “Daar was net in 2018 ’n hele 11 Suid-Afrikaanse vrywilligers en selfs vrywilligers vanaf Duitsland,” sê Elize.
Elize vertel verder: “Hierdie jaar is die eerste swart voorsitter, Nomvuyo Mpuqa, tot die kinderhuis se beheerraad verkies. Sy is ’n predikant van die Metodiste Kerk in SA, by die gemeentes Greytown en Enhlalakahle.”
Volgens Elize ken ds Pieter Swanepoel, wat al 21 jaar die direkteur van die kinderhuis is, elkeen van die 152 kinders op die naam.
Dié kinderhuis is in 1919 deur die NG Kerk van Natal met vier kinders begin nadat die destydse griepepidemie hulle wees gelaat het.
