Leierskap 101 – toekomsgerigte realiteite vir innoverende leiers
Deur Stephan Joubert en Johan Smith
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2019
Elke keer wanneer die Leierskap 101-dagkursus op my Facebook as ’n “geleentheid” verskyn het, het ek die “stel belang”-knoppie gedruk. Ongelukkig kon ek nog nie my weg oopsien om enige van die betrokke dae by te woon nie. Daarom het ek onmiddellik gespring toe ek die boek kon koop en ek was glad nie teleurgesteld nie.
Reeds die voorwoord van die boek het my opgewonde gemaak, juis omdat dit nie net vir dominees geskryf is nie, maar vir almal: “Dit maak nie saak of dit ’n huisvrou, dokter, prokureur is nie, dis belangrik om die beste leier te wees wat jy moontlik kan wees. Die mense om jou, die mense saam met jou het dit nodig.” Die boek is dan ook so geskryf dat almal waarde daaruit sal put en werklik kan groei in jou leierskap of, soos die boek dit ook duidelik stel, (belangriker nog) dat jy sal groei in jou karakter.
Die skrywers Stephan Joubert en Johan Smith het geen bekendstelling nodig nie. Hulle deel hulle kundigheid met soveel gemak dat die leser geïnspireer word om daar waar jy leef en werk jou gawes te gebruik om ander tot die beste van jou vermoë te dien. Leierskap 101 is beslis ’n boek wat jou op elke bladsy uitdaag. Dit draai die wêreldse beeld van leierskap om, dit stroop leierskap van alle titels en tierlantyntjies en fokus op diens en hoe dit lyk om as ’n navolger van Christus ander se hande en voete te was.
Die boek sluit ook af met hulle denke oor leierskap as ’n werkwoord en dié aanhaling van Warren Bennis: “Leadership is the capacity to translate vision into reality”. Dít, verduidelik die skrywers, is waartoe leiers geroep word. Ek glo ons beleef ’n leierskapskrisis in ons land en in ons plaaslike gemeentes. Hierdie boek is ’n wonderlike instrument wat elke gelowige uitdaag oor my eie impak wat ek op die mense rondom my het.
▶ Ds Anje Zeeman is predikant by die NG gemeente Driehoek in Vanderbijlpark.