Die boer wat ’n skool gebou het … en ander grondstories

Op ouderdom vier of vyf jaar glimlag die kinders van Bonnievale nog en die oë is helder, vertel Philip Jonker, ’n wynboer van dié dorp. “’n Mens sien die intelligensie – hul­­le kan nog enige iets in die lewe word,” sê hy. Maar dan skop die werklikhede van hierdie deel van die Wes-Kaapse platteland al te dikwels genade­loos in: “Wanneer hulle nege of 10 be­reik, is dit asof die duiwel in hulle ore fluister: ‘Kyk na jou omstandighede – dit is jou waar­de’. En dan begin hulle hierdie leuen glo en hulle selfwaarde val en wanneer dit ge­beur, onderpresteer hul­le en verlaat uit­eindelik die skool,” sê Jonker.

Die dorp se armoede, volop middel­afhanklikheid, 17% tienerswangerskap­pe. Hierdie was van die goed wat Jonker gemotiveer het en dié boer het ’n skool gebou. Op 18 ha wingerdgrond. In Junie 2017 is die eerste sooi gespit van wat vandag die Jakes Gerwel Tegniese Hoër­skool is, maar meer nog: Jonker meen hierdie skool is ’n prototipe wat nou elders binne ses maande en teen helfte van die koste gebou kan word. Trouens, een sal in 2020 aan die Weskus gebou word, het hy vandeesmaand onthul. Maar Jonker se storie is nie die Philip Jonker Show nie. Sy bydrae, as jy na hom luister, is eerder sy vermoë om ander te laat saamwerk: “Wat leef in jou hart en wat is in jou hand?” Dit is die vrae wat die span agter die sukses as mantra gebruik het om ’n gemeenskap saam te snoer. As jy nie geld het nie, skenk jou tyd. As jy nie tyd het nie, skenk iets waarvan jy wel genoeg het, was die benadering, het Jonker onlangs aan ’n gehoor van meer as 400 meestal boere en lede van die landbougemeenskap vertel. “Ons was 15 men­se van diverse agtergrond – ’n Smar­ties-boks – Sotho, Xhosa, bruin, wit … Ons het gekom van ’n verlede van verdeeldheid, maar het een ding in gemeen gehad: Ons het almal lewens gehad wat veran­der is, ons het almal ’n lewende geloof in Christus gehad,” het Jonker vertel. “Ons het gesê ons gaan vandag bid vir ’n visie groter as ons – wat ons uit ons diepte gaan haal. En op daardie dag het ons ’n Goddelike visie ontvang,” het hy herroep oor die beginpunt van die storie wat hom nou op ’n roete na ’n onbe­ken­de eindpunt geplaas het. Een van skole bou wat konsentreer op tegniese, landbou- en lewensvaardighede.

Na rugbyklubs, gemeenskapsorgani­sasies, ondernemings en professionele mense in die dorp het die span gegaan – telkens met die vraag: “Wat leef in jou hart en wat is in jou hand?”

Sy opsomming van die afgelope paar jaar: “Ons het beweeg van die punt waar ons mekaar verdra, tot die punt waar ons mekaar vertrou … en tot by die punt waar ons mekaar liefhet.” So, die visie is kennelik wyer as klaskamers. Jonker erken self: Hy weet niks van skole of bouwerk nie. “(God) het ’n sin vir humor,” skerts hy. “Die visie is om die hele gemeenskap van 10 000 mense te genees. Die skool was net ’n wonderlike mid­del tot ontwrigting van die afwaartse spiraal … dit gaan oor die restourasie van gesinne en die herstel van waardigheid by individue.”

Goeie nuus

Teen hierdie tyd mag die luisteraar vir ’n oomblik wonder of hy wel by die reg­te venue is. Is hierdie storie van die “wonderwerkskool” wel tuis by ’n grond­­simposium in die Koue Bokkeveld? Die kort antwoord is ja, maar vergun my ’n langer een: Dis lank nie meer net stories soos “Graan- en beesboer ver­tel oor sukses met glifosaat” wat mens in die blaaie van Landbouweekblad aantref nie. Die tydskrif boer deesdae ook met stories van oplossings en hoop. Daardie ontwykende soort “goed­voel-stories” waaroor ook Kerkbode-lesers dikwels verlangend met ’n mens sal praat maar waarop siniese nuusbe­stuurders dalk sal sê daar ook heelwat minder gekliek word as stories van pro­minente figure in konflik en onheilspellende verwikkelinge wat mag lei tot nog slegter dinge. Jy het nogal sterk me­dia-doepa nodig om “doom & gloom” teen te werk en steeds jou leser saam met jou op daardie reis te neem, sonder om weer oor die afgrond van sonskynjoernalistiek te val. Sommige slaag daarin. Die vaardige storie­vertellers van www.beautifulnews.co.za, byvoorbeeld, het dit klaarblyklik uitstekend reggekry en boonop Mercedes-Benz se sakke wa­wyd oop gepraat vir ’n borgskap van dié projek met sy helder getuienis: “Through our partners who share our vision, we’ve created over a billion opportunities to revel in the narratives that define our nation and show us what we’re capable of.”

Landbouweekblad se reis lyk weer ­’n bietjie anders. As eeu-oue nistydskrif het hulle die afgelope paar jaar met aggressiewe handelsmerkuitbreiding tot so ’n mate geleer om willekeurig ge­daante te verwissel dat, wanneer jy deesdae ’n werknemer daar vra wat die tyd­skrif se sirkulasie tans is, dié dit ou­to­­maties in die konteks stel van “totale bereikte gehoor” – of dit nou op die te­le­visie is (“Landbouweekliks” word Dins­dae op VIA uitgesaai), of op die web by landbou.com, of in “die boek” wat gedruk word vir winkelrakke of, soos op 14 en 15 November die geval was, in ’n reusetent op ’n plaas iewers in die hartland van hulle kernbesigheid: boerdery.

So aanpasbaar moet “publikasies” in hierdie era wees om te oorleef, blyk dit. Die Landbouweekblad-PALS-grond­sim­­posium se tema was “Grondhervor­ming in praktyk – praktiese oplos­sings” en sprekers soos Jonker en meer as 50 ander – waaronder Thoko Didiza, die minister van landbou, grondhervor­ming en landelike ontwikkeling, asook Hendrik du Toit, mede-uitvoerende hoof van die Investec-groep en ’n oud-boer uit diepe Zoeloeland met die bynaam Batman en ’n kleurvolle lewensverhaal, het tussen 07:00 en 19:00 die gehoor ’n stewige inenting van So-word-dit-gedoen gegee. Die konsep is gebou op verbete optimisme tesame met die beginsel van show-don’t-tell en ’n mens wil jou verbeel die kort spre­kersessies (10 minute elk) en algemeen aanvoelbare dringendheid by die ge­leentheid is gebore uit die tipe frustrasie wat dele van die landboubedryf en breër ekonomie lamlê. So verklaar een van die sprekers se PowerPoint-skyfie by­voor­beeld:

“If we want to connect one solar panel to Eskom’s grid:

  • R3 860 applications fee
  • Connection fee = R30 000
  • Wait anything from 6 months to 7 years for an answer.

Verbete optimisme is stellig nodig te midde van sulke wrywing. Maar die einste wrywing lei ook tot een van die dag se meer onvergeetlike sprekers­kwinkslae: “If you’re looking for a helping hand, you must look at the end of your arm.”

Met elke teetyd of pouse het die skare flink verdaag – ’n paar honderd van hulle het selfies met die Springbokflank Pieter-Steph du Toit geneem, wat met sy lydsame glimlag en tamaai hande in ’n stywe blou trui naby die bek van die tent gestaan het (sy pa boer en was ook in die gehoor).

Minister Didiza het aandagtig sit en luister na die sprekers. Na Jonker met sy skool. Na Du Toit wat vra dat ’n ekonomiese noodtoestand aangekondig word en dat Eskom summier beredder word. Na Gerrit van Vuuren oor hierdie ini­sia­tief genaamd Partners in Agri Land Solutions (PALS) asook swart boere se eie stories, soos dié van Tommy Mona van Ceres en Johnny Karolus, wat naby Op-die-Berg boer. Laatmiddag het die minister praatkans gekry. Ook sy was nie langer as tien minute agter die mi­krofoon nie. “Die stories wat ek vandag gehoor het, is stories van hoop te midde van uitdagings.”

Die laaste woord het gegaan aan die redakteur van die tydskrif onder wie se vaandel hierdie stories van grond, ge­loof en bietjie gesonde grit so mooi gemeng het, Chris Burgess. “In my (joer­na­listieke loopbaan van) 20 jaar het ek nog nie ’n minister ’n ganse dag sien sit en luister nie, net daarvoor alleen is dit ’n historiese dag.”