’n Kleuterskool in Wellington se behoefte aan Bybelliedjies vir kleuters het hulle geïnspireer om self ’n plan te maak.
“Bybelliedjies vir kleintjies en kleuters is gebore uit ons eie behoefte aan sulke liedjies vir ons kleintjies,” het Gertie Smit van Kinderland en samesteller van die boek by die bekendstelling gesê. Die geleentheid is met ’n kleutersangdiens op 17 November by die NG gemeente Wellington-Noord gevier.
Ilse Human, hoof van Kinderland, het later verduidelik hulle wil met die boek ander gemeentes en kleuterskole help om op dié manier by vroeëkinderontwikkeling, wat een van die groot doelwitte van die Algemene Sinode is, betrokke te raak.
‘My lyfie is ’n wonderwerk’ en ‘Daniël in die leeukuil’ is twee van die liedjies wat die kleuters van Kinderland self by die geleentheid gesing het.
Volgens Gertie, voorheen senior dosent in Grondslagfase, bestaan die boek uit liedjies wat handel oor Jesus in die kind se lewe, bekende Bybelkarakters, Bybelstories met toepaslike liedjies en waardes.
In die boek is kleurvolle illustrasies en die bladmusiek van elke liedjie. ’n Ingeslote CD, met die stemme van Marlie Katzke en André Terblanché, bevat ook elke liedjie in Bybelliedjies vir kleintjies en kleuters.
Die boek kos R235 en word deur Tafelberg Uitgewers uitgegee. Jy kan die boek by Kinderland Kleuterskool (kantoor.kinderland@gmail.com) en uitgesoekte boekwinkels kry.
