Om te luister, te leer en in interaksie te kom … Só beskryf Louis Jonker, professor in Ou Testament by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), die doel van die tweede konferensie van die Centre for the Interpretation of Authoritative Scriptures (CIAS). Vanjaar se konferensie is onlangs by die Neethlingshof-wynplaas se konferensiesentrum in Stellenbosch gehou. CIAS fokus hoofsaaklik op akademiese navorsing wat kyk na die aard en interpretasie van Christelike, Islamitiese en Joodse gesaghebbende Skrifte, beide in antieke en kontemporêre kontekste.

Terwyl 2018 se konferensie slegs plaaslike deelnemers gehad het, het vanjaar s’n gespog met internasionale geleerdes uit Bosnië; Israel, Duitsland en Engeland. Die doel was ook ’n meer praktiese aanslag in die monoteïstiese geloofskontekste, verduidelik Jonker. “Tesame met die akademiese referate wat aangebied is, is daar elke dag tyd gemaak om saam die gesaghebbende Skrifte te lees en idees uit te ruil.
Tydens die leessessies is heilige geskrifte van elke geloofstradisie saam gelees en bespreek. Die tekste was Genesis 12:10-20, Qur’an 10:75-92 en Matteus 2:13-23. Die deelnemers kon hulle nadenke en interpretasies van die betrokke tekste met mekaar deel en in gesprek daaroor tree. In die slypskole is belangrike temas van CIAS in die drie tradisies ondersoek. Temas soos gender, Jerusalem, vertalingstudies en die karakter Hagar is vanuit die konteks van die verskillende tradisies bespreek.
Jonker verduidelik hoe verrykend dit was om die onderskeie tekste saam te lees. “Ons wou ’n ervaring skep om die tekste saam te lees omdat dit gewoonlik ongewoon is. Dit is iets waarvan ons dikwels wegskram omdat ons onbekend is met die heilige geskrifte van die ander tradisies. Binne die Christelike tradisie ken ons die Joodse heilige geskrifte, want ons Ou Testament is ook die Hebreeuse Bybel. Ons deel volledig die 39 boeke, maar die Qur’an is aan ons Christene meestal onbekend.”
