Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Boeretroos vir barmhartigheid in Noord-Kaap

Indien jy ’n koffieliefhebber is, kan jy ’n verskil help maak aan die omstandighede van bejaardes en gestremdes in die Noord-Kaap.

Die Koffie is Omgee-projek is deur die welsynsorganisasie Badisa van stapel gestuur om fondstekorte in die Noord-Kaap as gevolg van die droog­te, gedeeltelike staatsubsidies en arbeidswetgewing aan te vul, aldus Chris­tine Quickfall, hoof-uitvoeren­de beampte van Badisa.

“Dit is vir ons uiters belangrik om fondse te genereer om die vol­hou­baar­heid van die programme (wat dienste aan bejaardes en gestremdes lewer) te verseker, maar terselfdertyd ook te kyk hoe ons hierdie programme emosioneel kan ondersteun deur hulle deel van die Badisa-familie te laat voel en binne die breër kerk­verband te onderskraag,” het Christine gesê.

Die mikpunt van die projek is om meer as 30 000 pakkies geroosterde koffie, wat deur die Innovations for the Blind verskaf word, te verkoop en te versprei.

Diaconia, die welsynsarm van die Sinode Wes-Kaapland, het reeds hul­le ondersteuning met ’n bydrae van R60 000 gewys wat ook gehelp het om die projek van die grond af te kry, luidens ’n mediaverklaring.

“Diaconia is ’n gesamentlike diens­groep van die VG en NG Kerke wat ’n visie van barmhartigheid vanaf gemeentevlak met Badisa deel. Ons is ten nouste verbonde aan Badisa en dus ook aan al hulle programme. As ons dan hoor dat daar nood in die Noord-Kaap is, wil ons deel wees van die omgee en ondersteuning,” het ds Nioma Venter, wat aan die stuur staan van Diaconia, gesê.

Kontak Louise du Toit by Badisa by coffee@badisa.org.za of 021 957 7145 vir bestellings.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top