Indien jy ’n koffieliefhebber is, kan jy ’n verskil help maak aan die omstandighede van bejaardes en gestremdes in die Noord-Kaap.
Die Koffie is Omgee-projek is deur die welsynsorganisasie Badisa van stapel gestuur om fondstekorte in die Noord-Kaap as gevolg van die droogte, gedeeltelike staatsubsidies en arbeidswetgewing aan te vul, aldus Christine Quickfall, hoof-uitvoerende beampte van Badisa.
“Dit is vir ons uiters belangrik om fondse te genereer om die volhoubaarheid van die programme (wat dienste aan bejaardes en gestremdes lewer) te verseker, maar terselfdertyd ook te kyk hoe ons hierdie programme emosioneel kan ondersteun deur hulle deel van die Badisa-familie te laat voel en binne die breër kerkverband te onderskraag,” het Christine gesê.
Die mikpunt van die projek is om meer as 30 000 pakkies geroosterde koffie, wat deur die Innovations for the Blind verskaf word, te verkoop en te versprei.
Diaconia, die welsynsarm van die Sinode Wes-Kaapland, het reeds hulle ondersteuning met ’n bydrae van R60 000 gewys wat ook gehelp het om die projek van die grond af te kry, luidens ’n mediaverklaring.
“Diaconia is ’n gesamentlike diensgroep van die VG en NG Kerke wat ’n visie van barmhartigheid vanaf gemeentevlak met Badisa deel. Ons is ten nouste verbonde aan Badisa en dus ook aan al hulle programme. As ons dan hoor dat daar nood in die Noord-Kaap is, wil ons deel wees van die omgee en ondersteuning,” het ds Nioma Venter, wat aan die stuur staan van Diaconia, gesê.
Kontak Louise du Toit by Badisa by coffee@badisa.org.za of 021 957 7145 vir bestellings.
