Brûe vir gemeentes op pad na God se toekoms: ’n Gidsboek vir die brugbediening
Anton Doyer en Howard du Toit (redakteurs)
Uitgewer: Christelike Lektuurfonds, 2019
Brûe na gemeentes is ’n uiters belangrike boek in die tyd waarin ons leef. Brugbediening fokus daarop om gemeentes hulle identiteit opnuut te laat ontdek, voordat hulle weer ’n leraar beroep. Dit is altyd belangrik, hetsy die vorige leraar weg is na ’n lang bediening, na ’n hartseer einde van die bediening, of bloot omdat die gemeente nou vakant is.
Die boek het ’n baie praktiese inslag, wat dit baie leesbaar maak vir enigiemand wat betrokke is by oorgangsfases in gemeentes. Tog word daar ook op ’n bevatlike wyse ’n teologiese onderbou aan die praktiese gegee.
Verskeie skrywers vanuit die praktyk van brugbediening het saamgewerk aan die boek, wat meebring dat sommige aspekte herhaal word, maar dit gee juis verskillende perspektiewe op dieselfde saak weer. Daar is kosbaarhede in die bylaes, soos ’n formulier vir die bevestiging van ’n brugleraar, liturgie vir ’n afskeidsdiens, ens. Dit sou goed gewees het as daar ook ’n gedragskode ingesluit kon wees, om beide kerkrade en brugleraars te help.
Die waarde van die boek lê nie net in die praktiese fokus op brugbediening nie, maar ook in die tipe vrae wat gevra word oor die bestaande bediening in ’n gemeente. Baie van die vrae en benaderingswyses kan met groot vrug in ’n gemeente gevra en deurgewerk word selfs voordat daar ’n vakature ontstaan. Dit is benaderings wat gemeentes opnuut na God laat vra: Wie is God? Waarmee is God nou besig in ons gemeente? Wat is God se droom vir ons gemeente? Het ons die openheid en vrymoedigheid om nuwe mense in te sluit in die gemeente? Watter geloofsgewoontes kan ons help om as gestuurde gemeente te leef? Plus nog vele meer. Moenie ’n beroep uitbring sonder om hierdie te lees nie!
▶ Ds Deon Strydom is predikant van NG gemeente Stutterheim.