Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Oor voortdurende herinterpretasie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In sy boek Having words with God: The Bible as conversation wys die Amerikaanse Nuwe-Testamentikus, Karl Kuhn, daarop dat die Bybel as ’n heilige dialoog tussen God en gelowi­ges, maar ook tussen gelowiges onderling, verstaan moet word. Die gespreksmatige aard van die Bybel is op verskillende wyses sigbaar. So bevat die Bybel tweegesprekke tussen God en fi­gure soos Moses (Eks 32), maar ook intense gesprekke tussen gelowiges oor God se wil (Hand 15). Dit is opvallend dat in laasgenoemde gevalle die verskillende standpunte ook in die Bybel opgeneem is en nie net die een wat uiteindelik deur gelowiges aanvaar is nie. Die Bybel swyg dus nie oor die gesprekvoering wat tot bepaalde belydenisse of besluite aanleiding gegee het nie. Dit getuig eerder oor die onafwendbaarheid van gesprek en debat oor die wil van God. God openbaar in dié gevalle nie sy wil deur dit bloot te verklaar nie, maar eerder deur die onderlinge debat van gelowiges.

Van die gesprekke is ook dikwels in latere stadiums hervat deurdat die Bybel ’n veelvoud van tradisies bevat wat op ’n latere stadium opnuut geïnterpreteer en toegepas is in nuwe kontekste. Verskeie tradisies in die Ou Testament is tydens die Babiloniese ballingskap herformuleer om sin te maak van die trauma van die gebeure en die hele Ou Testament is herinterpreteer in die Nuwe Testament in die lig van die geboorte, dood en opstan­ding van Jesus. Die Bybel het dus nie net in die geskiedenis die Reformasie ontlok nie. Die inhoud daarvan getuig ook van voortgaande reformasie oor eeue.

Dit was nie net kenmerkend van Jesus dat Hy vorige interpretasies van die Wet nuut geïnterpreteer het nie (Matt 5:21-48), maar ook van die vooraf ontwikkeling van die Wet self soos ge­reflekteer in die veranderings wat sigbaar is wanneer tekste soos Eksodus 21:2-7 en Deuteronomium 15:12-18 met mekaar vergelyk word. Daar moet ook daarmee rekening gehou word dat die Bybel op ’n wyse geskryf is wat voortdurende herinterpretasie aanmoedig. So bestaan dit nie net uit ’n reeks van ondubbelsinnige stellings nie maar ook uit verhale, gelykenisse en beeldryke materiaal soos in Openba­ring wat juis voortdurende interpretasie ontlok.

Die ontstaansgeskiedenis, inhoud en vorm van die Bybel dui dus daarop dat God nie daarmee ’n monoloog met ons voer nie. Die Bybel getuig eerder van die God wat ons as gelowiges uitnooi tot dialoog met Hom, mekaar, en sy geopen­baarde wil oor hoe om getrou daaraan in ons konteks te lewe.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top