Bonding in worship: A ritual lens on social capital in African Independent Churches in South Africa
Cas Wepener, Ignatius Swart, Gerrie ter Haar en Marcel Barnard (reds)
Uitgewer: Peeters Publishers, 2019
Vir kerke in Afrika, waaronder die NG Kerk, is gemeenskapsontwikkeling en die bestryding van armoede ’n wesenlike deel van ons roeping.
Hierdie uitstekende navorsing verduidelik wat kerke kan doen. Dit bied ’n fassinerende blik op die vorming van sosiale kapitaal deur kerke se bydrae tot die verligting van armoede.
Die skep van sosiale kapitaal is die keersy van die vernietigende spiraal van armoede. Dit het die potensiaal om gemeenskappe op ’n trajek uit armoede te plaas.
Die boek bestaan uit drie dele. Eers word die teoretiese agtergrond gegee, dan gevallestudies behandel, met deel drie wat wyer reflekteer.
Die navorsing stel spesifiek belang in die bydrae van godsdienstige ritueel tot die vorming van sosiale kapitaal. Sosiale kapitaal word dus deur die lens van ritueel of liturgie bekyk.
Dit beteken dat geloofsgemeenskappe ’n wesenlike rol het om te speel in die bestryding van armoede. Armoede moenie bloot eng materieel verstaan word nie, maar bestaan – naas materiële gebrek – ook uit gebrek aan ruimtes waarin vertroue en identiteit gevorm en vaardighede ontwikkel kan word.
Spesifiek die Afrika Onafhanklike Kerke (AOK), die vinnigste groeiende kerkformasie in Suid-Afrika, is vir die versamel van die data gebruik. Die gegewens is grootliks opgeteken in die gemeente van die Korintiese Kerk in Suid-Afrika in Phepheni, ’n klein gemeenskappie in die voormalige Transkei. Die klein gemeente word ’n gevallestudie waaruit alle kerke kan leer.
Dit is fassinerend om te lees oor hoe die stigter, biskop Johannes Richmond, se lewensverhaal deur tradisievorming tot groepskohesie en identiteitsformasie lei. Die rol van eerwaarde Dingani se leierskap en hoe dit sosiale kapitaal vorm, word ook bespreek.
Die gevallestudies word verryk aan die hand van temas soos tipiese aanbidding op ’n Sondag, asook die rol van etes en waterrituele.
Die boek het ’n besonder hoopvolle boodskap: Te midde van soveel armoede en ongelykheid kan kerke ’n wesenlike rol speel om armoede te verlig.
NG gemeentes kan gerus vriende maak met AOK, vertroue bou, en saamwerk om ’n beter toekoms vir ons lande op hierdie mooi kontinent te skep.
Die skrywers kan aspekte daarvan gerus in meer populêre en korter publikasies verwerk.
▶ Ds Danie Mouton is die direkteur van die Oos-Kaaplandse Sinode van die NG Kerk.