Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tonele van protes en konflik in Suid-Afrika is maar al te bekend. Maar hoe lyk ware versoening? "Daar is ’n groep mense in die kerk se geskiedenis wat die punt illustreer dat dit goed is om ook die slegte met die oog op die toekoms te onthou," skryf Cas Wepener. Foto: Le Roux Schoeman

Versoeningsdag: Neem uit die verlede ook wat sleg is

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

“Neem uit die verlede alles wat goed en edel is, en bou daarop die toekoms.” Hierdie wysheid toegedig aan Paul Kruger duik klokslag in artikels rondom Versoeningsdag (16 Desember) op. Hierdie soort wysheid laat mense nóg meer selektief omgaan met presies wat uit die geskiedenis onthou word en wat liefs vergeet word, as wat reeds die geval is. Dit is seker ook goed en gesond om positief met die verlede om te gaan, want ’n skeut selektiewe amnesia help die mensdom al deur die eeue om te oorleef. 

Tog is daar ook verhale wat verlore gaan wat in latere tye wél van waarde kon gewees het, juis ook ter wille van oorlewing. Dit is die slegte goed, die minder edel gebeure en diegene wat dit gedoen het, wie se name verswyg word. Suid-Afrikaners sal in die toekoms sien watter mense en verhale van die Zondokommissie, of die WVK van destyds, onthou en watter vergeet en verswyg word.

Daar is ’n groep mense in die kerk se geskiedenis wat die punt illustreer dat dit goed is om ook die slegte met die oog op die toekoms te onthou. In die eerste eeue toe die Christelike geloof ’n onwettige godsdiens was en martelare hulle lewens verloor het, was daar ook ’n ander groep wie se verhale vandag hoogstens voetnotas in stowwerige ou boeke is. Wanneer hulle wel onthou word, word daar slegs oor hulle gefluister. Hierdie groep is die sogenaamde lapsi, ’n woord wat afgelei is van die Latynse woord vir “afvalliges” waarin mens nog die Engelse “lapsed” terughoor. ’n Bietjie agtergrond is nodig om te verstaan wie presies die lapsi was en hoe hulle storie vandag vir ons van waarde kan wees.

Sommige Romeinse keisers wou Christene uitroei. In 249 AD vaardig keiser Decius byvoorbeeld ’n dekreet uit, wat behels het dat alle burgers in die Romeinse Ryk binne ’n bepaalde tyd aan ’n heidense offerdiens moes deelneem. Die brand van enkele wierookkorrels voor die beeld van die keiser was voldoende. Kontrole oor deelname is uitgeoefen deur die name van diegene wie geoffer het in ’n boek op te skryf. Andersins kon mense sommer net ’n skriftelike bewys dat hulle geoffer het aanbied. Indien ’n persoon egter nie ’n offerbewys kon toon nie, is so iemand aan ’n proses van foltering onderwerp. Die doel daarvan was nie eerstens om mense dood te maak nie, maar om hulle tot afval te bring. Indien die marteling egter geen sukses getoon het nie is die doodstraf uitgespreek. 

Mense was dus in ’n baie moeilike situasie – weiering het lewensgevaar ingehou het, maar terselfdertyd kon hulle maklik van die dood ontkom. Sommige Christene het inderdaad dan ook gesterf vir hulle geloof, terwyl andere dit kon regkry om te skuil. Daar was egter ook diegene – waaronder verskeie biskoppe – wie hulle eie lewens gered het deur ’n verklaring te teken. Hulle was die lapsi, daardie groep oor wie se bestaan daar eerder geswyg word.

Die vervolging van Christene het onder keiser Konstantyn met die Edik van Milaan in 313 AD tot ’n einde gekom toe hy die Christelike geloof tot wettige godsdiens verklaar het. Toe die vervolging eindig, moes daar besluit word hoe daar teenoor die lapsi wat berou getoon het, opgetree gaan word. Menings was uiteenlopend: sommiges het hulle optrede as onvergeeflik beskou, maar ander wou die lapsi weer in die kerk opneem. Die uiteinde was dat die kerk die saak in ’n baie ernstige lig beskou het, maar dat heropname wél moontlik was. Sodoende is die besonder netelige saak dus nie verswyg nie en ruimte vir versoening is geskep. 

Met hierdie stukkie geskiedenis probeer ek nie vuil wasgoed in die publiek was nie. Dis eerder ’n poging om te wys dat wanneer daar oor versoening gedink en gedoen word, dit soms wys is om ook uit die verlede dit wat sleg is te neem. Hierdie slegte geskiedenis wys byvoorbeeld dat die saak op die naam genoem is. Dit wat gebeur het moenie verswyg word nie. Daarna is ’n volledige proses gevolg – versoening sny diep en neem baie tyd. Aan die einde van die proses is die lapsi wél weer ingesluit in die groter groep. Versoening was inderdaad moontlik, maar goedkoop en blitsvinnig asof dit nie so erg was nie, was dit beslis nie. Belangrik, myns insiens, wys hierdie slegte uit die verlede dat hulle mense hulle nie gelos het nie. Hulle het droog gemaak en naam weggegooi, maar almal het geweet dat dit baie maklik hulle kon gewees het wat in daardie posisie is (en ’n hele paar omstanders het tien teen een self ’n paar geheimpies gehad wat hulle maar te bly was nie uitgekom het nie). 

Só ’n proses is nie vanselfsprekend nie, dit vra onsettend baie van die groter groep. Hulle moet ruimte skep sodat die proses op ’n sinvolle wyse kan plaasvind, al brand daardie klippers waarmee hulle wil gooi in hulle sakke. Emmanuel Katogole wys in Born from lament: The theology and politics of hope in Africa op soortgelyke prosesse wat meer onlangs deur kerke in die DRK gevolg is om sinvol om te gaan met Christene en kerke se aandadigheid aan menseregteskendings.

In ons mooi land met haar ingewikkelde verlede en uitdagende hede is die vraag seker nie soseer wie ons lapsi is nie, die vraag is eerder wie nie (ten dele) tot die groep behoort nie. Daarom is dit dalk goed om soms ook uit die verlede te neem wat sleg is, veral rondom Versoeningsdag 2019, en te kyk of dit saam met die goeie kan help om die toekoms te bou.

  • Cas Wepener is professor in Praktiese Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top