‘God het mens geword, waarlik méns’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dié Woord word Vléés!

In dié tyd het dit waarmee Johannes begin my al dikwels laat dink. Die Woord het mens geword, letterlik, vlees geword. Dit is weens hierdie menswording, dat in die Christelike tradisie mens, néé vléés, voorop staan.

Dat God mens word, beteken dat God wóú wys wie God is, was en sal wees. Dat dié God mens wíl word, méns word juis vír mense, daar waar húlle is, wie hulle ook al is. Híérdie God gee die éérste tree en betree so die werklikhede van mense.

Want vir dié God – so wys die menswording – is mense en húlle werklikhede belangrik! God gaan in die werklikhede van mense ín. God word deel van mense se werklikhede, deel in hulle werklikhede, wie hulle ook al is, dáár waar hulle is!

Juis ook vir die wat nie vir ons van waarde was of is nie is hierdie menswording – vir die uitgedefinieerdes van die tyd. Só wys God, in en deur die werklikheid van die Woord wat mens geword het, hoe waardevol mense vir God was, is en sal wees – hulle het waarde omdat hulle ménse is.

Hulle waarde is in en te midde van hulle vleeslikheid. Hulle vleeslikheid is hulle afhanklikheid, hulle aan-mekaar-verweefdheid, maar daarmee ook hulle liggaamlikheid, hulle broosheid en gebrokenheid. Juis ook hulle liggame, in hulle gebroke broosheid, is vir God van waarde – God gaan in dié dieptes in.

Daarmee word nie net menswaardigheid in die volle sin van die woord beliggaam nie – maar die waarde van álle vlees, van vlééswaardigheid – want God gaan ook in dié dieptes in. Dit álles, so wys die vleeswording van God, is vir God waardevol!

Daarom dat Sally McFague waarde vind in die metafoor van die liggaam van God. Dit is ’n metafoor te midde van ander metafore – maar wys daarop dat dié liggaam, The Body of God (1993), werklik dit wat ís beliggaam. Vir haar is dit nie net die uitgedefinieerdes van die tyd wat deel in die liggaam van God nie – maar juis ook die totale werklikheid. ‘The distinctive characteristic of Christian embodiment is its focus on oppressed, vulnerable, suffering bodies. … In an ecological age, this ought to include oppressed nonhuman animals and the earth itself. … An incarnational religion, a bodily tradition, such as Christianity, should not have to strain to include the natural world and its creatures, for they epitomize the physical’.

Alhoewel Margaret R. Miles in The Word Made Flesh (2004) wys waar, in die verlede, die Woord wel vlees geword het, dui sy daarop dat die Woord dikwels van die vlees verwyder is: ‘Through more than two thousand years, Christians have sought to articulate the meaning of their belief that in the human person of Jesus, God became human. In doing so, they have sought to make flesh word’.

As God egter mens word, vlees word, liggaam word, vra dit dat dít die goddelikheid is wat ook in en deur óns beliggaam word. God het mens geword, nie dat ons ‘gode’ word nie, maar waarlik méns, vir mekaar, vir en te midde van mekaar se werklikhede – maar juis ook vir die totale werklikheid!

Dit vra dus, soos die Festschrift (2018) van M. Shawn Copeland heet, vir Enfleshing Theology, ’n beliggaming van teologie – nie nét ’n beliggaming in die sin dat ons die liggaam van Christus vir wie ook al waar ook al word nie – maar ’n beliggaming in die sin dat die liggaam van God vir ons belangrik is en word – dié liggaam wat dit wat ís beliggaam!

In dié tyd – ’n tyd wanneer ons dink aan die Woord wat vléés word – vra dit dan vir ’n liggaamshermeneutiek, ’n hermeneutiek waar die liggaam, maar juis dan ook die liggaam van Gód, voorop staan.

Die broosheid en gebrokenheid van die om ons is ook die gebrokenheid en broosheid van die liggaam van God.

En dit is ook vir die totale werklikheid waar. Wanneer ook al dié werklikheid ween weens dit wat ons doen of nie doen nie, wanneer ook al, deur dit wat ons doen of nie doen nie, ons dié werklikheid wond – wond ons ook die liggaam van God!

Die vraag is of ons – ook in dié tyd van die jaar – nie dikwels Woord verwyder van vlees nie? Of in die woorde van McFague: ‘(We have) to think and act as if bodies matter. They are not all that matters but they do, and if we believed they mattered and understood in detail what that belief entailed, how might that change our way of being in the world?’

  • Dr Henco van der Westhuizen is ’n dosent in Historiese en Sistematiese Teo­logie by die Universiteit van die Vrystaat.

 

 

 

 

Word 'n vriend van Kerkbode