Die oujaar het op ’n hoogtepunt afgesluit. Dit was immers Kersfees. En het ons dit nie gevier nie! Op sovele plekke was die kerke op Kersfees stampvol. Op kusdorpe is drie en selfs vier dienste gehou om al die Kersfeesmense te ontvang. Die talle liedere wat opgeklink het, was eenstemmig: Welkom, o stille nag van vrede …, die Heiland is gebore …, in die stad van koning Dawid …, Jesus, ware Vredevors …, Lig uit Lig uit die Vader se ryk, word uit liefde aan mense gelyk … Ons het nie net ’n sprokie geprewel nie. Nee, ons het uit volle bors die evangelie van Jesus gesing omdat ons dit van harte glo. Ons het gejuig, want die Redder ís daar. Christus hét aan ons heil gebring.
Ons het nie oral die Kersfeesdienste met groot advertensieborde bekendgemaak nie. Ons was net oop vir almal – dié wat selde kerk toe gaan was daar. Dié wat deur die loop van die jaar hoofsaaklik drooggemaak het, was daar. Baie wat aan ander kerke behoort, was daar. Die toegewyde kerkmense was daar. Huisgesinne was daar. Die jongmense was daar … sonder om moeisaam oorreed te word. Baie was daar met kortbroeke en plakkies. Van die kleurvolste T-hemde het onder die vorige aand se boom uitgekom. Kinders en bejaardes was daar – onbevange gereed om te sing en te juig oor die Redder wat gekom het. Gestroop, het die kerk die beste gedoen, loshande beter as by enige ander kerklike fees van die jaar.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2018/05/Nelis_Profile2.jpg” caption=”Ds Nelis Janse van Rensburg is moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Die oujaar se Kersvieringe bied wonderlike idees vir die nuwe jaar. Kan jy jou, sê maar, ’n kerk voorstel waar die fokus die hele jaar volledig op die Redder val? Of ’n kerk waar die etiket sag is, nie eens ongeskrewe reëls nie, en dit ’n verwelkomende boodskap stuur van insluiting? Kan jy jou ’n kerk voorstel waar daar nie ’n snuf van onderlinge stryd is nie, maar van diepe eensgesindheid oor die Liefde wat aan mense gelyk geword het? Kan jy jou ’n kerk voorstel wat gefokus is om met woord en daad ’n lewegewende verskil te wees met die boodskap van Christus as bevryder van sondaars en verdruktes? Kan jy jou ’n kerk voorstel waar buite- en drumpelstanders voel dat hulle nie geoordeel sal word nie, maar liefgehê sal word en inkom?
Suid-Afrika is ’n land met soveel pyn. Ons dra swaar aan ons verlede. Ons het nie genoeg daarmee gehandel nie. Ons het elke keer net die boeke van die verlede probeer toekry. Na die Vryheidsoorlog, na die Rebellie, na die Namibiese grensoorlog, na apartheid, na die Waarheids- en Versoeningskommissie, na soveel moorde en ellendes, na korrupsie. Ons, swart en wit, het onsself nie een keer genoeg tyd gegun om met ons pyn te handel nie. In elke gehuggie en dorpie en stad dra mense aan hulle ou pyn, tot die dood toe. Ons druk net ons oë en ore en mond toe en gaan aan.
Maar dit is nie net die ou pyn van gister wat geïgnoreer word nie. Hier kry steeds elke dag mense seer. Mense wat beroof word, wat verneder word, vermink word – fisies en geestelik. Hier is steeds daagliks mense wat verontreg word en gebrek ly en verstoot en eensaam is.
Hier is soveel mense wat verkneg is deur slegte gewoontes en sonde. Hier is soveel mense wat nie weet waar hulle volgende bord kos vandaan gaan kom nie. Hier is so baie mense wat bang is, selfs vir dit wat hulle huismense aan hulle kan doen. En mense hier dra so swaar aan etikette. Ons plak mekaar mos toe met stereotiperings, plaas mekaar op ’n afstand, stoot mekaar ver weg. Hier is ook so baie wat verontregting geïnternaliseer het. Dit is nou wie hulle is, uit en gedaan – verontregtes, in hulle eie kop gebrandmerk as nie goed genoeg nie. Hier is te veel mense wat voel soos mislukkings. En so min word al hierdie mense te hulp gekom. So min vind hulle ’n plek waar hulle gehelp word om die oop arms van ’n Redder te beleef. ’n Kersfeeskerk behoort goed te wees met hierdie mense se pyn. Die ou pyn en die nuwes. Die Redder is immers daar, die Heiland, Bevryder en Geneser.
Dit is geen wonder dat Kersfeeskerke oorloop nie. Hulle is oop, sonder fieterjasies, sonder oordeel, sonder voorwaardes, vir almal. En hulle sing: “Stille nag, heilige nag! Hemelvors, ons gee ag op die lied van die engelekoor. Herders het dit die eerste gehoor. Juig, die Redder is daar! Juig, die Redder is daar!
▶ Ds Nelis Janse van Rensburg is moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk.