Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die 2020’s het met ’n ontstellende “bang” begin:
1 Januarie: Twee mense is dood en negentien gewond in drie skietvoorvalle in Johannesburg in die vroeë oggendure van die Nuwejaar.
3 Januarie: Die VSA dood genl Qassem Suleimani, militêre hoof van Iran, in ’n lugaanval.
8 Januarie: Iran loods ’n missielaanval op ’n militêre basis in Irak waar VSA-soldate gestasioneer is.
8 Januarie: Iran skiet per ongeluk ’n Oekraïnse passasiersvliegtuig af en 176 mense sterf.
12 Januarie: Sewe mortiere tref die Balad-lugmagbasis noord van Bagdad.
Ons leef in ’n gewelddadige wêreld waarin daar kort-kort gepraat word van die moontlikheid van grootskaalse oorlog. Intussen vertel die koerante ons van die voortgaande “normale” geweld en moord in die stede en dorpe van SA.
En dit so kort ná Kersfees, waar ons saam met die engele gesing het: “Vrede op aarde …”
Die wêreld waarin Jesus gebore is en geleef het, was waarskynlik nog meer gewelddadig. Dink maar aan die kindermoord van Herodus, die geweld waarmee die Romeine die Jode onderdruk het, die mense van Nasaret wat vir Jesus van ’n krans wou afgooi en die Joodse sameswering om Hom uiteindelik te kruisig.
Dit is in ’n gewelddadige wêreld waarin Jesus sê: “Geseënd is die vredemakers …” Dit is in die gewelddadige wêreld waarin ons as gestuurde mense leef, dat ons dit moet ernstig neem.
Geweld vind institusioneel plaas. Owerhede en maghebbers gebruik die masjinerie van die staat en militêre mag om geweld te pleeg. Dit was nog altyd so, deur die eeue. Gelowiges voel dikwels magteloos hierteenoor: Daar is niks wat jy kan doen aan die spanning tussen Iran en die VSA nie. Ons moet egter nooit onderskat wat God kan doen nie. Jesus nooi ons om aan te hou bid dat God se koninkryk sal kom. Sy ryk is ’n ryk van vrede. Die gevoel van magteloosheid herinner jou dat alles nie afhang van wat jy kan doen nie. Wanneer jy bid dat God se koninkryk sal kom, sê jy dat jy glo in ’n lewende, vredemakende God.
Verder is daar wel dinge wat jy as ’n burger van God se koninkryk kán en móét doen. Wees ’n vredemaker: Moenie twis, stryd, jaloesie of verdeeldheid aanblaas nie. Help mense om met mekaar te praat, om mekaar te vind, om vrede te maak. God se heerskappy word sigbaar waar daar vrede tussen mense is. Onthou Sagaria se loflied wat sê dat Jesus ons voetstappe sal rig op die pad van vrede.
Vrede maak is baie hoog op ons agenda as gestuurde mense. Neem Jesus ernstig as Hy sê: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
▶ Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder in die kantoor van die Algemene Sinode.
