Nuusfotograaf vertel: Troues nou sy kos

‘Ek vang oomblikke’

Kerkbode (KB): Jy is ’n bekroonde nuusfotograaf – onder meer CNN African photojournalist of the year – en oplettende Beeld-lesers en Netwerk24-gebruikers sal jou foto’s en dalk selfs styl van nuusfotografie herken: Wat was die hoogtepunte van jou loopbaan as nuusfotograaf?

Die grootste stories wat ek da­delik aan dink is maar die Oscar Pistorius-hofsaak, die week van rou na die dood van Nelson Mandela en die Para­li­mpiese Spe­le in Lon­den.

KB: Op jou webwerf vertel jy hoe jy ’n loopbaanskuif gemaak het en dat jy deesdae veral troues dokumenteer: Hoe het daardie besluit gebeur?

Ek wou graag my eie besigheid begin en het troues baie begin geniet. Dit is iets waar­oor ek al vir ’n paar jaar ge­droom het, maar net te bang was om die skuif te maak.

Skermgreep: www.hermanverweyphoto.co.za

KB: Hoe is jou samewerking met die do­mi­nees by sulke ge­leent­hede – is daar ’n kuns daaraan om al die rolspelers gemaklik te hou met waar jy staan en wat jy doen om die regte skoot te kry?

Meeste dominees is baie vriendelik en ons albei verstaan dat daar ’n diens gele­wer moet word aan die paartjie. Ek bel soms vooraf die dominee om myself voor te stel en om te hoor of daar enige spesiale versoeke is of iets wat ek nie moet/mag doen nie.

Dit is meeste van die tyd nie ’n pro­bleem nie. Daar was al snaak­se versoeke as ek an­der gelowe se dienste af­neem soos bv dat ek nie enige leer mag dra nie, nie op sekere ge­deel­tes van die verhoog/altaar staan nie, nie rond­beweeg nie of nie tydens ge­bed skiet nie.

KB: Dis natuurlik ook nie meer net foto’s nie – daar is video’s en onversadigbare sosiale mediaplatforms en formate: Is dit moeilik om aan kliënte se verwagtinge te voldoen of hoe maak jy seker dat jy nie fokus verloor op die belangrikste deel/dele van jou diens nie?

Ek het onlangs saam met ’n maatskappy begin werk wat video’s doen juis om daar­die rede. Baie mense wil video en foto’s van hulle dag hê, maar dis onmoontlik om albei self te doen. Persoonlik fokus ek nog 100% op fotografie en kry ’n span in van buite af om videos te skiet wanneer ’n kliënt dit aanvra.

KB: Wat het jy geleer oor paartjies in jou tyd as fotograaf?

Ek geniet dit regtig baie om nuwe mense op ’n weeklikse basis te ontmoet, jy spandeer meer tyd saam met hulle op die dag as enige iemand anders en jy leer nogals baie van hulle in ’n kort tyd­perk.
Ek leer eintlik by elke troue iets nuuts wat baie lekker is. Fotogra­fie gee jou ’n lisensie om in men­se se lewe in te kyk en dit dan vas te vang. As mense en hulle gedrag jou interesseer is fotografie ’n goeie ma­nier om dit te verken.

KB: As ’n mens deur jou foto’s kyk, sien ’n mens ’n oog vir die “oomblik” – is dit iets wat ’n mens aanleer of is dit ingebore?

Van als wat ek in my loopbaan as persfotograaf afgeneem het is troues verreweg die moeilikste en ek leer by elke liewe troue iets nuuts en glo dat ek groei en beter word. Ek verkoop myself as iemand wat op oomblikke fokus meer as om dit op te stel, dit kom maar van die jare van persfotografie af. Jy moet ’n oomblik kan vasvang want dit gebeur nie weer nie.