Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.
Vir die NG Kerk is onderwys ’n belangrike saak. Die kerk beywer hom daarvoor om deurentyd in voeling te wees met onderwyssake en lewer soos nodig kommentaar op voorgestelde wetgewing en ander sake wat van belang is. Die kerk fokus ook op Vroeëkinderontwikkeling (VKO), as deel van sy missionale diakonaat.
Die tweede Sondag in 2020, 9 Februarie, word hierdie jaar deur die kerk afgesonder vir die saak van die onderwys. Gemeentes word versoek om te oorweeg om hulle byeenkomste so in te rig dat daar aan die saak van die onderwys aandag gegee word. Voorbidding is tydens so ’n geleentheid prioriteit.
Tydens dié geleentheid kan ook tersaaklike inligting deurgegee word. Dit kan die jongste matriekuitslae en ander verwikkelinge insluit. Die volgende inligting kan relevant wees:
1. Matriekuitslae 2019
Die matriekuitslae van 2019 het, soos elke jaar, groot belangstelling uitgelok. Kommentaar deur kenners het gewissel tussen versigtig positief tot negatief.
Die gemiddelde slaagsyfer van 81,3%, teenoor 78,2% in 2018, is inderdaad iets om te vier en is aanduidend van ’n stelsel wat aan die stabiliseer is. Dit moet egter gelees word teen die agtergrond van die (wan)prestasie van die stelsel as geheel. Die meerderheid leerders vorder nie eens tot in matriek nie.
Dit word bereken dat in 2019, 470 000 minder leerlinge matriek geskryf het as wat begin het in 2008. Net 409 906 het geslaag van die aanvanklike 1 090 254 wat graad 1 begin het. 81,3% is dus die prestasie van leerlinge wat wel tot by die eindeksamen in graad 12 gevorder het. Die uitvalsyfer het weliswaar afgekom, maar bly uiters onrusbarend.
Die puik prestasies van leerlinge wat geslaag het, moet egter onvoorwaardelik gevier word. Dit is die beloning vir harde werk, toewyding en is in baie gevalle onder uiters moeilike omstandighede bereik. Daarbenewens moet groot waardering uitgespreek word teenoor passievolle onderwysers, skoolhoofde en beheerliggame.
2. Comprehensive Sexuality Education
Die kwessie van seksonderrig op skool het wye reaksie uitgelok. Min inligting is bekend oor die inhoud en verpakking van dié tema in die kurrikulum. As gevolg van openbare druk het die Departement van Openbare Onderwys ingestem tot ’n raadplegingsproses met godsdiens- en tradisionele leiers en belanghebbende instansies op 23 Januarie. Die NG Kerk sal betrokke wees by hierdie proses en terugvoer sal gegee word.
3. Basic Education Laws Amendment Bill
In 2017 is ’n wetsontwerp gepubliseer wat wye ontsteltenis veroorsaak het. Die fokus van dié wysiging op bestaande wetgewing is om die magte van beheerrade in te perk. Omvattende kommentaar is onder andere deur die NG Kerk op die konsepdokument gelewer. Die nuwe voorgestelde weergawe is gedurende Desember 2019 beskikbaar gestel. Die nuwe voorstelle is in sekere opsigte beter as in die 2017-weergawe, maar dit bevat nog steeds kommerwekkende bepalings. Onder andere word voorgestel dat beheerliggame se bevoegdheid om betrokke te wees by die aanstelling van skoolhoofde en adjunkhoofde, weggeneem word.
Sake waarvoor voorbidding gedoen kan word op 9 Februarie is:
- Die ministers van Onderwys, plaaslike onderwysstrukture.
- Dankbaarheid vir uitstekende skoolhoofde en onderwysers, dosente, ouers en leerders.
- Plaaslike skole, skoolhoofde, beheerliggame, onderwysers, ouers en leerders.
- ’n Fokus op gemeentelike betrokkenheid by die onderwys.
- Voorbidding vir werklose jongmense.
▶ Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk.
