Gustav Claassen

Reaksie op Rapport-berig: Daling in dooplidmaattal in NG Kerk

Johan Eybers se artikel “NGK: 80% minder gedoop” verwys. Daar is etlike feite foute in hierdie artikel. Saamgelees oordeel ons dat hierdie artikel, bewustelik ʼn bepaalde indruk probeer skep dat die NG Kerk besig is om in te plof.

Die primêre probleem behoort duidelik te word in ʼn versigtige lees van die syfers in paragraaf 2 van Eybers se artikel. ʼn Daling in die getal dooplidmate van 337232 in 1998 na 186521 in 2018 (150720 lidmate) is ooglopend nie ʼn daling van 81% nie. Eybers het die 81% syfer op bladsy 410 van die agenda van die 2019 Algemene Sinode gekry, waar dit verkeerd uitgedruk was deur die Algemene Sinode se Algemene Taakspan Fondse en Bates. Dit was egter ʼn deel van die verslag wat geen direkte impak op aanbevelings rondom die begroting gehad het nie, en daarom op geen stadium bespreek was nie – daar was dus geen geleentheid of rede vir die fout om uitgewys te word nie. Eybers was, sover ons kan aflei, tydens die bespreking van hierdie verslag in die sinode gewees, en ons aanvaar daarom dat hy bewus was daarvan dat hy hier die fokus plaas op ʼn saak wat geensins onder die aandag van die sinode gekom het nie. As Eybers verder die taakspanvoorsitter, Ds Johan Brink, of die Algemene Sekretaris, Dr Gustav Claassen, geleentheid gegee het om op hierdie punt te reageer sou die foutiewe berekening dadelik uitgewys kon word.

Op soortgelyke wyse is die 35% afname in belydende lidmate en 12% in gemeentes in paragraaf 2 onderskeidelik 26% en 11%, alhoewel die syfers hiervoor nie weergegee word soos by dooplidmate nie, en dit dus nie ooglopend verkeerd is nie.

Twee verdere feite foute word dan gemaak.

In die tweede laaste paragraaf skryf Eybers: “In 1998 het hy 921790 belydende lidmate gehad en dit staan nou op 102574.” Die 102574 word duidelik in die verslag aangedui as die aantal belydende lidmate waarmee die kerk verklein het nie, die huidige lidmaattal nie. Die verslag lees: “Die NG Kerk het vanjaar (2018) 102 574 minder belydende lidmate as in 2013 gehad- van 787 297 belydende lidmate in 2013 na 684 723 belydende lidmate in 2018.” (p. 408)

In die laaste paragraaf skryf Eybers dat “Die kerk se taakspan kategese het bevind dat dalende jeuggetalle onder meer toegeskryf kan word aan ‘’n jeug wat slegs vermaak wil word en tot groot werkloosheid onder jongmense in Suid-Afrika en verandering in taalmedium’”. Die volledige paragraaf waaruit Eybers aanhaal, lees: “Dit is egter nie ’n eenvoudige reis nie. Die navorsing toon dat die uitdagings wat voor gemeentes se jeugbedienings staan, is baie en kompleks. Van dalende jeug getalle, jeug wat slegs vermaak wil word tot werkloosheid onder jongmense in SA en verandering in taalmedium.” (p. 285) Op geen stadium word die drie punte wat Eybers noem as oorsaak vir dalende jeuggetalle beskryf nie.

Eybers se artikel bring twee sake bymekaar wat beide maklik verwarring kan veroorsaak: demografiese tendense en godsdiens. Ek wil tog pleit dat daar met groter omsigtigheid gewerk sal word wanneer verslag gelewer word. Dit is verkieslik dat feite se korrektheid met die belanghebbende party(e) gekontroleer word voor ‘n berig geplaas word.

Groete

Dr Gustav Claassen

Algemene Sekretaris: NG Kerk

Die volgende regstelling het in die week ná Rapport se storie in gedrukte formaat verskyn het aanlyn by Netwerk24 verskyn.

Hofuitspraak oor lyfstraf: Waar staan NGK?

Die NG Kerk het nog nie ’n standpunt geformuleer rondom die hofuitspraak op 18 September 2019 van die Konstitusionele Hof wat bevestig het dat lyfstraf in private huishoudings onwettig is nie. Die kerk het nog nie die volle uitspraak onder oë gehad nie. Die NG Kerk was ook nie deel van die versoek deur FORSA en ander waarin aansoek gedoen is dat die hooggeregshofuitspraak van 2017, waarin beslis is dat lyfstraf in private huishoudings onwettig is, ter syde gestel moet word nie.

Wat lyfstraf betref,die wenslikheid daarvan al dan nie, het die NG Kerk hom egter reeds uitgespreek toe die proses rondom die Wysiging van die Wetgewing op Kindersorg in 2007 aan die gang was. Die NG Kerk het toe gereageer op art.139 wat oor lyfstraf gegaan het in dié Wysingswet.

Die standpunt van die NG Kerk ten opsigte van lyfstraf was toe die volgende:

Die Kerk het haar by die beginsel geskaar wat reeds dekades geld en wat sy nog altyd ondersteun het, dat die belange (insluitend veiligheid) van kinders eerste gestel word, selfs bo ouerlike regte.  Daarom kan kinders uit ouerlike sorg verwyder word en kan ouers selfs hulle ouerlike regte verbeur.

Hiermee het die kerk tot nou toe saamgestem en in kinderhuise, wat deur die kerk opgerig is, is honderde kinders wat uit hulle ouers se sorg verwyder is.  Die beginsel wat nou in die debat na die hofuitspraak deur sommige voorgestaan word dat die ouerlike reg om lyfstraf toe te pas belangriker is as die veiligheid van die kind word nie deur die kerk ondersteun nie.

Die debat in die sosiale media gaan van die veronderstelling uit dat ‘n Bybels- verantwoorde opvoeding redelike en liefdevolle lyfstraf insluit. Feit is dat in die christelike samelewing, sowat 80 persent van die bevolking, daar byna daagliks die erge vorme van vergrype teen kinders plaasvind – dikwels deur ouers wat daarin roem dat hulle christene is en meen dat die gesag om so teen hulle kinders op te tree juis van God kom.

Die bewyse hiervan kry ons in die Kinderhof en die duisende kinders wat van ouers verwyder moet word juis om hulle teen “christelike en liefdevolle” ouers te beskerm.  Christelikheid of godsdienstigheid waarborg nie redelikheid nie en talle misdade is al onder die dekmantel van liefde gepleeg.  Dit is ook so dat talle volwassenes wat geweldadig optree se probleme begin het toe hulle as kinders slagoffers van geweld was – en hulle ouers die toepassing van geweld as lyfstraf gesien het en dit selfs Bybels geregverdig het.

’n Groot gaping skei ons eie tyd met antieke opvattings oor kinderopvoeding, waarvan dissiplinering deel uitmaak. Soos met baie ander dinge kan ‘n mens nie alles wat in die Bybel oor tugtiging voorkom letterlik vandag toepas nie, spesifiek wat lyfstraf betref. Lyfstraf was so deel van die antieke vorm van dissiplinering dat niemand ‘n oog daaroor sou knip nie. Dit was eenvoudig as vanselfsprekend aanvaar; dis ondenkbaar dat in die antieke tyd opvoeding daarsonder kon plaasvind. En dit is dikwels so dat lyfstraf gevrees is omdat dit buitensporig toegepas is. Iets hiervan slaan deur in die woorde van Spr 19:18, en waar die profeet pleit dat die Here “met mate” sal tugtig (Jer 10:24; vgl 30:11).

Opvoedkundige insigte wat intussen ontwikkel is en baie studies wat gedoen is oor die opvoedkundige waarde van lyfstraf toon aan dat kenners vandag daaroor eens is dat lyfstraf uiters beperkte opvoedkundige waarde het. Kinders leer die spelreëls van die lewe nie soseer deur die vrees vir (lyf)straf nie, maar deur die voorbeeld wat ouers en ander rolmodelle van die samelewing stel.

Die ideaal was nog altyd om lyfstraf sover moontlik te vermy en eerder ander vorme van dissiplinering te gebruik wat meer opvoedkundig verantwoord is. Maar dissiplinering moet daar wees, anders word die kind nie voorberei vir die eise van die lewe nie en kan hy/sy nie sy/haar plek as volwaardige mens en volwassene in die lewe inneem nie.

Die uitspraak teen lyfstraf ontneem nie ouers die reg en verantwoordelikheid vir hulle kinders se opvoeding nie. Die sosiale wetenskappe het heelwat navorsing gedoen wat daarop dui dat gesag en dissipline op ander wyses as met geweld gevestig word.  Dit is ook ‘n ongeldige argument om die verval van dissipline in die skoolstelsel gewoon toe te skryf aan die beperking (verbod) op lyfstraf in skole nie.

Dit is die volgehoue taak van die kerk om ouers te bemagtig om hulle kinders met respek en waardigheid te dissiplineer, deur groter fokus op die huisgesin en christelike waardes vir die familielewe te plaas en om meer deel te neem aan die afkeuring van geweld van watter aard en teen wie ookal. – Uitgereik deur dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk. 

Geweld: ‘Ganse boodskap van Evangelie kom in gedrang’

Die NG Kerk is diep bewus van die kompleksiteit van misdaad en geweld in Suid-Afrika. Internasionaal is dit aan die toeneem en Suid Afrika deel in hierdie tendens. In ons eie situasie vererger faktore soos armoede en werkloosheid die probleem. Begrip vir hierdie faktore beteken egter nie dat ons die omvang en intensiteit van misdaadvlakke wat ons tans sien nie, wil regverdig nie.

Ons sien en ervaar die impak daarvan op passasiers wat op treine beroof en afgegooi word; polisielede wat vermoor word; ’n kind wat vlak voor haar skool uit haar ma se hande geruk en ontvoer word, ’n plaasboer en sy vrou wie se voete in kookwater gedruk en voetsole afgesny word; vragmotors wat aan die brand gesteek word, mense wat die afgelope weke sinloos en wreed vermoor is soos die student wat ’n pakkie by die poskantoor gaan afhaal, gesins- en huishoudelike geweld waar ’n pa sy kinders ophang, grootskaalse geweld teen vroue en kinders. Die spiraal van geweld lyk onomkeerbaar.

Geweld druis direk in teen die menswaardigheid van mense, asook die regte van mense soos dit neerslag vind in ons Grondwet. Die wese van ons demokrasie word ernstig bedreig. Vir ons as Christene kom die ganse boodskap van die Evangelie in gedrang.

Die drastiese toename in geweld en misdaad die afgelope tyd vra vir dringende aksie van die kerk en samewerking met ander rolspelers rondom die saak. Terwyl ons waardering het vir wat gedoen word en begrip het vir die dilemmas waarmee die owerheid en wetstoepassers soms sit, hoor en sien ons nie ’n sterk genoeg “nee” vir misdaad en geweld nie. Die houding van geen-toleransie teen enige vorm van misdaad, hoe groot of klein ookal is nie ferm genoeg nie.

Die kerk is bewus daarvan dat die owerheid nie op hul eie die hele probleem kan oplos nie. Die burgerlike samelewingsverbande, waarvan die kerk deel is, sal verantwoordelikheid vir eie gemeenskappe moet aanvaar.

As NG Kerk wil ons onsself verbind om saam met ander kerke en instansies te werk aan die vorming van ’n samelewing met duidelike en sterk morele en gemeenskapswaardes. Daarom glo ons dat ons nou:

  • Introspektief onsself moet af vra tot watter mate ons onbedoeld deur ons kerklike praktyke, aanames en gewoontes die huidige kultuur van geweld in stand hou.
  • Moet vra of die kerk se teologie van menswaardigheid genoegsaam ontwikkeld is en gepraktiseer word om patriargie teen te staan.
  • Saam met ander kerke strategieë moet bespreek en planne vir optrede moet beraam.
  • Saam met die ander kerke praat oor wyses hoe ons as gelowiges slagoffers kan ondersteun.
  • Saam met die owerhede – nasionaal en plaaslik – oor die saakgesprek moet voer. Saam dringend ’n gesprek met die Minister van Veiligheid en Sekuriteit moet aanvra.
  • Ons gemeentes op plaaslike vlak moet vra om te besin oor strategië om die uitdagings van misdaad daar aan te spreek.
  • Almal moet oproep om ernstige voorbidding te doen vir ons land met die oog op vrede, geregtigheid en vooruitgang.

– Uitgereik deur dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk. 

NG Kerk spreek hom uit teen vreemdelinghaat

Die NG Kerk het die afgelope paar dae met hartseer kennis geneem van talle gevalle van hoe die kwesbaarste mense in ons samelewing; vroue, kinders en migrante uit buurlande, aan die uiterste vorm van geweld blootgestel is. Die vreemdelingehaat, plundering van eiendom en die moord op immigrante in Suid-Afrika, is slegs die mees onlangse illustrasies van dreigemente teen mense wat ’n eenvoudige en universele menslike soeke na ’n beter lewe vir hulself en hul gesinne het en dikwels gedryf word om gevaarlike risiko’s te neem as gevolg van desperaatheid, konflik en onderdrukking in hul in hul lande van herkoms.

Suid Afrika beleef self in ’n tyd van sosiale en ekonomiese spanning. In sulke tye is daar altyd ’n gevaar van ’n “ons-hulle” polarisering en die blamering die ‘ander’ vir interne probleme. Geen omstandighede kan egter die vervolging en mishandeling van kwesbare mense, wat om verskillende redes uit hul eie lande verplaas is, regverdig nie.

Lees ook: XENOFOBIE: WAT VERWAG DIE HERE VAN ONS AS GESTUURDES?

Die Bybel bevat vele verhale van mense wat aan die beweeg is, vreemdelinge, immigrante of vlugtelinge. Jesus was ook ’n vreemdeling, sonder ’n huis, met nêrens om sy kop te lê nie. Hy vra dat sy dissipels vir vreemdelinge sal sorg. Die Skrif bevat duidelike leringe oor die verantwoordelikheid van gelowiges om gasvryheid aan vreemdelinge te betoon en om kwesbare mense, insluitend vreemdelinge, te beskerm. Die Bybel vra dat : “Wanneer daar ’n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. Julle moet hom soos ’n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God. (Levitikus 19: 33-34)

Die gewelddadige uitbarstings van vreemdelingehaat bedreig die sosiale struktuur van die Suid-Afrikaanse samelewing. Geweld en haat is ’n vuur wat homself voed en die geweld teen vreemdelinge spoel reeds oor na burgers van Suid Afrika.

Xenofobie ondermyn ook die politieke en ekonomiese status van ons land en die relevansie en invloed van Suid-Afrika in die streek en die wêreld. Suid Afrika se toekomstige sosio-ekonomiese ontwikkeling hang af van ons vermoë om met ander Afrika-lande te skakel op ’n manier wat eenheid en menswaardigheid bevorder.

Ons hoor reeds stemme wat van oor die kontinent opklink in veroordeling van wat aan die gebeur is. Ons hoor van kunstenaars wat weier om na ons land te reis of teen die Suid-Afrikaanse sokkerspan deel te neem. Die Wêreld Ekonomiese Forum vir 2019 het op 4 September in Kaapstad afgeskop met ’n aantal leiers, waaronder Zambië, Malawi, DRK en Rwanda, wat aangekondig het dat hulle uit protes onttrek.

Die NG Kerk wil ’n ernstige beroep doen op die Suid-Afrikaanse regering om leierskap te demonstreer, om die situasie onder beheer te bring en die nakoming van menseregte te bevorder en die standaarde en norme soos vervat in internasionale ooreenkomste vir menseregte te bevorder.

Die NG Kerk is in solidariteit met al die individue en hul gesinne wat geraak word, en doen ’n beroep op hul beskerming, restitusie en die strafregtelike aanspreeklikheid van diegene wat verantwoordelik is vir die aanvalle op hulle. Die NG Kerk is in solidariteit met ander Suid Afrikaanse kerke, en die oorgrote meerderheid van die mense van Suid-Afrika, wat hul verontwaardiging oor die gebeure in die openbaar uitgespreek het. Die NG Kerk ondersteun oproepe aan die regering om ‘die toenemende gety van rassisme, etnosentrisme en vreemdelingehaat in Suid-Afrika te konfronteer en vir Suid-Afrikaners om ‘ander’ te erken, om vreemdelinge te verwelkom, en om versoening te soek.

Die NG Kerk doen ’n ernstige beroep op die regering om behoorlike instromingsbeheer toe te pas en te voldoen aan internasionale standaarde vir grensbeheer. – Uitgereik deur dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk. 

Hiéroor was ontmoeting met Hervormdes ’n mylpaal

Veertig predikante, vanuit die Hervormde Kerk (NHKA) en NG Kerk (NGK), het op Vrydag 19 Julie by die Hervormde Gemeente Won­derboom in Pretoria bymekaar gekom. Die ontmoeting was ’n uitvloeisel van ’n gesprek wat in 2018 tussen die leierskap van die NHKA en die NGK plaasgevind het. Reeds by dié geleentheid is die behoefte uitgespreek om groter samewerking op alle vlakke van die twee kerke te bevorder.

Vir die afgelope jare is daar goeie samewerking tussen die NGK en NHKA. Sedert 2000 word studente saam opgelei aan die UP. Die bilaterale ooreenkoms, wat in 2011 tussen die twee kerke goedgekeur is, het die goeie samewerking verder momentum gegee en verskeie predikante is al oor en weer beroep. Daar bestaan goeie skakeling op sinodale vlak en die leierskap van die twee kerke ontmoet gereeld op formele en informele vlak.

Om te verseker dat daar daadwerklik oor die belewenisse en behoeftes van gemeentes gepraat word, is ’n aantal gemeentepredikante van albei kerke vir gesprek genooi. Die doel van die ontmoeting was om kennis te neem van samewerking op voetsoolvlak en in hoe ’n mate dieselfde tendense op die twee kerke inspeel.

Prof Kobus Schoeman (UVS) het inleidend inligting vanuit 2014 se Kerkspieël-navorsing met die vergadering gedeel. Die profiel van ons lidmate is feitlik identies. Die gemiddelde ouderdom van albei kerke se lidmate is 53 jaar, en net meer as 20% van ons lidmate is dooplidmate. Sowat 30% van albei kerke se lidmate is bo die ouderdom van 60 jaar. ’n Krimpende lidmaattal is by beide die kerke ’n realiteit. Die finansiële posisie van beide kerke se gemeentes is dieselfde. Om en by 25% van die gemeentes het ’n krimpende inkomstebasis, en 10% van die gemeentes is in ’n finansiële oorlewingskrisis.

Meer positief is die feit dat ’n missionale ekklesiologie vir die lidmate van albei kerke belangrik is. Ongeveer twee derdes van die gemeentes leef tot ’n redelike of groot mate missionaal en is daarop ingestel om na die gemeenskap om hulle uit te reik. Geestelike groei en bywoning van eredienste is ewe belang­rik vir albei kerke se lidmate.

Die twee kerke se teologiese opleiding, aan die UP, staan duidelik voor ’n kruispad met dalende studentegetalle en stygende kostes. Daar is eenstemmigheid dat die NHKA en NGK se teo­logiese opleiding by UP onlosmaaklik aan mekaar verbind is, en daar is versoek dat die gesprek oor teologiese op­leiding deur die kuratoria van die kerke dringend voortgesit moet word.

Opdrag is gegee aan ’n werkkomitee om aandag te gee aan ’n moontlike tussenorde ten einde samewerking tussen plaaslike gemeentes van die twee kerke moontlik te kan maak. ’n Tussenorde is alreeds funksioneel om die proses van eenwording tussen die NGK en die VGK moontlik te maak.

Dit was die gevolgtrekking van die vergadering dat die twee kerke sáám meer effektief kan dien wanneer die Here ons in hierdie tyd roep om deel te hê aan sy werk in ons wêreld.

Die ontmoeting was in baie opsigte ’n belangrike mylpaal in die verhouding tussen die NGK en die NHKA en meer gesprekke sal in die toekoms gevoer word.

– Dr Gustav Claassen is algemene sekretaris van die NGK.

Die vele stories wat ons móét vertel

Die NG Kerk, ’n tipiese hoof­stroom­kerk, het die afgelope paar jaar – soos vele ander kerke wêreldwyd – voor ingrypende uitda­gings te staan gekom. Met die aanbreek van die postapartheid-era in Suid-Afrika was die vraag na die relevansie van die kerk reeds wêreldwyd op kerklike agendas. Hierdie vraag het ook vir die kerk in Suid-Afrika, en veral vir die NG Kerk, ’n kernsaak geword. Die NG Kerk is gedaag om globale samelewingsverskuiwings te verwerk, soos die opkoms van postmo­der­nisme, ’n verskerping in sekularisasie en die impak van globalisering op die ge­loofsgemeenskap.

Die NG Kerk se eerlike worsteling om haarself, ter wille van die koninkryk, beter te posisioneer het nie sonder pyn en worsteling geskied nie. Pogings om die Belydenis van Belhar te aanvaar het tot erge verdeeldheid gelei. So is dit ook tans die geval met die kerk se pogings om haar gay-lidmate ten volle te akkommodeer. Dit het daartoe gelei dat die narratief rondom die NG Kerk eensydig gedefinieer word in terme van haar dikwels onbeholpe pogings om die regte besluite te neem. ’n Onsimpatieke pers het tot hier­die narratief bygedra deur dikwels lesers met ’n ongebalanseerde negatiewe storielyn te voer.

Die NG Kerk is egter veel meer as haar onbeholpe pogings om die regte be­sluit te neem. Die afgelope paar jaar is daar dra­ma­tiese vordering op die gebied van die ekumene, nasionaal en interna­sio­naal, gemaak. ’n Groot ekumeniese liggaam soos die Wêreldraad van Kerke (WRK), be­staande uit 500 miljoen lidmate, het ons in 2016 terug verwelkom. Die NG Kerk speel nasionaal ’n leidende rol in die leierskap van die groot ekume­niese liggame soos die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), The Evan­gelical Alliance of South Africa (TEASA) en ander.

Deur organisasies soos NetAct en die Reformed Family Forum (RFF) ondersteun die NG Kerk kerke regoor Afrika. Teologiese opleiding, leierskapsontwikkeling en ander ondersteuningsdienste is kardinale fokusareas van bogenoemde organisasies.

Op die terrein van die publieke teologie het die kommentaar van die NG Kerk ’n beduidende verskil gemaak aan die kritiese debatte rondom byvoorbeeld die reg tot vryheid van godsdiens. Kommentaar op voorgestelde wetgewing is ingrypend verander deur die invloed van die NG Kerk se studiestukke. Wonderlike verhale word oor die NG Kerk se betrokkenheid by prosesse van versoe­ning en restitusie vertel tydens krisisse in plekke soos De Doorns, Coligny, Hermanus en Rustenburg. Saam met die Institute for Justice and Reconciliation werk die NG Kerk tans aan ’n Handves vir Versoening.

Die kerk se ondersteuning van gemeenskappe wat deur rampe getref is, het­sy droogtes, rampe of vloede, is on­geëwenaar. Dikwels haal ander bekende organisasies die nuus vir hulle pogings, terwyl die NG Kerk se ondersteuning oor ’n langer tydperk meer volhoubaar, beduidend en georganiseerd is.

Die NG Kerk word deur dr Mamphela Ramphela uitgesonder as een van die belangrikste rolspelers op die gebied van vroeëkinderontwikkeling. In dié verband word die voorkoming van armoede en skoolgereedheid aangespreek.

Die NG Kerk se bydrae tot die ondersteuning van gemarginaliseerdes in gemeenskappe is enorm. In die 2017-2018 boekjaar het die lidorganisasies van die Kerklike Maatskaplike Diensteraad (KMDR) dienste aan sowat 1 323 231 mense gelewer. Elkeen wat hulp ontvang is ook dikwels deel van ’n gesin wat ge­middeld uit vier bestaan. Dit lei tot ’n som van bykans 5,3 miljoen individue wat, op een of ander manier, voordeel ge­trek het deur die werk van die kerk. Dit is bykans 10% van die nasionale be­volking. Die Christelik gebaseerde diens­te wat gele­wer word, sluit in voor­ko­ming, intervensie en nasorg. Dit is gerig op alle mense in materiële, maatskaplike en geestelike nood en dit gaan oor die grense van ras, geslag en geloof. Indien al die syfers opgebreek word het 107 sentrums vir bejaardes 12 388 persone (KMDR) versorg, ’n verdere 191 765 bejaardes het tuisversorging geniet. In die 58 sentrums vir kinders is 8 777 onvolwassenes versorg en ’n verdere 13 000 is in beskermde omgewings onder toe­sig versorg. Sentrums wat fokus op gesinsdienste het die behoeftes en uitda­gings van 822 818 individue aange­spreek. Die gesamentlike befondsing van al hierdie projekte het R1,2 miljard beloop. Die syfers verdiskonteer nog nie dit wat gemeentes in hulle eie omgewings doen nie.

Die NG Kerk is nog steeds aan die leer wat dit beteken om, volgens die Belyde­nis van Nicea, ’n oog vir die wêreld te hê. Maar in sy opregte soeke en onvolmaakte pogings is hy besig om deur die genade ’n positiewe verhaal te skryf en ’n verskil te maak met duisende lidmate wat pas­sie­vol betrokke is. Dit is die ander kant van die NG Kerk se verhaal wat dikwels nie gehoor word nie.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk.

Ekumene verryk en verruim die NG Kerk

Ekumene is afgelei van die Griekse woord oikoemene wat “die hele bewoonde wêreld” beteken. Die woord ekumene impliseer dat die kerk, dwarsoor die hele bewoonde wêreld, deel is van die een Liggaam van Jesus Christus. Ekumene is nie maar ’n opsionele saak vir ’n kerk nie – dit is, saam met baie ander dinge, deel van dit wat ’n kerk “kerk” maak.

Elke Sondag bely lidmate om hierdie rede tydens die erediens saam met die Apostoliese Geloofsbelydenis: “Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges” of saam met die Geloofsbelydenis van Nicea: “Ons glo aan een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels”. Die NG Kerk is besonder bevoorreg om op verskeie vlakke die eenheid van die kerk op hierdie vlak te kan beleef. Dit is ’n verrykende en uiters verruimende ervaring van kerkwees.

Die afgelope paar maande het vier geleenthede bygedra tot ’n ruimer ekumeniese belewenis en gepaardgaande daarmee ’n beter verstaan van kerkwees.

Die World Mission and Evangelism-konferensie van die Wêreldraad van Kerke (WRK) is van 8 tot 13 Maart in Arusha, Tanzanië gehou. Meer as ’n duisend afgevaardigdes, wat by sending en evangelisasie betrokke is, het die geleentheid bygewoon.

Die tema van die byeenkoms was “Moving in the Spirit: Called to transforming discipleship”. Die klem het veral geval op die uitreik na die gemarginaliseerdes in die samelewing. Die uitdagings van die akkumule­ring van rykdom en groeiende gapings van ongelykhede tussen ryk en arm, uitbuiting en hebsug, eko­lo­giese vernietiging van die omgewing, groeien­de voor­koms van internasionale konfliksituasies en die gepaardgaande gevolge wat miljoene mense kwesbaar en uitgeslote laat, het aandag gekry.

Die konferensie het kerke opgeroep om hierteen te getuig en te handel teen magsvergrype, elitisme, ’n verbruikersmentaliteit en uitbuiting van watter aard ook al. Protes deur die kerk en ’n soeke na gereg­tigheid en vrede moet plaasvind deur ’n transforme­rende dissipelskap wat diensknegleierskap in die lig van die kruis en opstanding van Christus vra. Die konferensie is deur Marelize Malherbe, Rupert de Koning en Gustav Claassen namens die NG Kerk bygewoon.

Die tweede groot geleentheid was die 70ste herdenking van die stigting van die WRK wat van 15 tot 21 Junie tydens die Sentrale Komitee-vergadering in Genève plaasgevind het. Die NG Kerk kon die feesvie­ringe bywoon as gevolg van die feit dat daar ook tydens die geleentheid besluit sou word oor die plek waar die volgende Algemene Vergadering van die WRK sal plaas­vind.

Die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk het met die Evangelies Lutherse Kerk in Duitsland gekompe­teer oor die aanbieding van die vergadering. Helaas het ons nie die bod gewen nie, maar die feesvie­ringe was een van diepe ekumenisiteit. Een van die hoog­­te­punte was die teenwoordigheid van afge­vaar­digdes van Noord- sowel as Suid-Korea. Die doelgerigtheid van die twee kerke om saam te werk en instrumenteel te wees tot vrede en versoening in ’n ver­e­nigde Korea het konferensiegangers emosioneel geroer.

’n Ander hoogtepunt was die besoek van pous Fran­ciskus. Hy het met sy boodskap besondere uitdrukking gegee aan die sterker wordende ekumeniese beweging wêreldwyd. Sy boodskap van “walking together is an act of obedience to the Lord and love for our world” sal ’n kompas wees vir kerke, van watter tradisie ook al, om in die toekoms steeds hegter eenheid en samewerking met mekaar te soek. Dit is waar die getuieniskrag van die kerk lê.

Die derde geleentheid was die vergadering van die African Communion of Reformed Churches (ACRC) van 28 tot 30 Junie in Kibuye Karongi, Rwanda. Die ACRC is die Afrika-liggaam van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK). Die tema van die vergadering was “Living God, renew and transform us”.

Aandag is gegee aan konflik binne die konteks van Afrika. Fokus is geplaas op hoe kerke die rol van vredemakers kan speel. Die byeenkoms is deur Nelis van Rensburg en Gustav Claassen namens die NG Kerk bygewoon.

Die vierde geleentheid, die vergadering van die All African Conference of Churches (AACC), het direk na die ACRC, van 1 tot 7 Julie, in Kigali, Rwanda plaasgevind. Die tema tydens die konferensie was “Respecting the dignity and God’s image in every human being (Genesis 1:26-27)” en is deur 800 afgevaardiges van dwars oor Afrika bygewoon.

Voor die konferensie was daar byeenkomste wat aandag gegee het aan jeug- en vrouesake. Werkloosheid en konflik is deur die jeug uitgewys as van die hoofoorsake van migrasie en mensehandel in Afrika. Mensehandel, migrasie, geweld teen vroue en die herstel van vrede was op die agenda van die vrouebyeenkoms.

Die groter konferensie het klem gelê op die mens­waardigheid van God se beelddraers. Etniese en denominasionele verskille, gebrekkige politieke leierskap, korrupsie en oorbevolking is aangespreek omdat dit ’n hindernis is vir die aanspreek van Afrika se uitdagings. Die NG Kerk is hier verteenwoordig deur Fay van Eeden, Rion Britz, Nelis van Rensburg en Gustav Claassen.

Hierdie ekumeniese geleenthede, en al die ander ook op plaaslike vlak, help die NG Kerk om ruimer en dieper kerkwees te beleef. Die ervaring is altyd tydens ekumeniese geleenthede dat baie geleer kan word van ander kerke en kontekste maar ook dat die NG Kerk in sy teologiese rykdom baie te bied het aan ons ekumeniese vennote.

▶ Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk.

Die kerk se protesstem

Die NG Kerk neem op ’n gereelde basis aan openbare diskoerse deel as deel van sy pro­fe­tiese taak. Onlangse voorbeelde hier­van is die kerk se kommentaar op voorgenome wetge­wing oor haatspraak, die regulering van godsdiens en wysigings ten opsigte van die Skolewet.

Meestal is daar waardering vir die profetiese rol wat die kerk in die publieke arena speel. Tog is daar ook soms verwytende kommentaar, hoewel in die min­derheid, wat wil hê dat protes nie tot die taak van die kerk hoort nie. Die kerk, word dan geargu­men­teer, moet hom net besig hou met voorbidding en die verkondiging van die evangelie.

Hierop sou geantwoord kon word dat dit deel van die Christelike tradisie is om te getuig vir ’n be­ter samelewing van menswaardigheid, geregtigheid, vre­de en vreugde vir almal, en om te protesteer teen enigiets daarteen.

Geloof en teologie kan nooit in ’n donker hoekie be­dryf word nie maar is altyd publiek. Dit gaan vir die kerk om die besinning oor die betekenis van die Christelike geloof vir die openbare lewe binne die konteks van, in ons geval, ’n demokratiese samele­wing. Dit is die presiese rede waarom ons bid: “Laat u koninkryk kom!”

Dit is die taak van die kerk om altyd oë te open vir die teenwoordigheid en werksaamheid van die lief­devolle God op alle lewensterreine. Die kerk weeg die samelewing en die gehalte van mense se le­wens in terme van die geregtigheid van God.

Dit is omdat die kerk ’n ander vraag vra, naamlik: Hoe reflekteer die samelewing die waardes wat met God vereenselwig kan word? Deur hierdie vraag te vra, kan selfs sisteme wat binne die grondwet en die reg funksioneer, uitgewys word as nie in oor­een­stemming met God se geregtigheid nie.

Indien die kerk dit nie sou doen nie, verval ons in ’n totaal geïndividualiseerde geloof wat geen ver­ant­­woordelikheid vir die gemeenskap wil aanvaar nie.

Dit is inderdaad waar dat sommige kerke so ’n in­dividualistiese swaai gemaak het in ’n poging om nie lidmate te verloor nie. Hulle spits hulle toe op die persoonlike behoeftes van lidmate en ignoreer wat op die publieke toneel gebeur.

As ’n kerk van die Reformasie weet ons dat die droom van Luther en Calvyn ’n kerk was wat God se heil vir die totale lewe op aarde wil dien. Die God van die Bybel, het hulle geglo, is nie net ’n God wat die gelowiges wil versorg en help met hulle persoon­like probleme nie, maar wat die wêreld wil red, ver­an­der en nuut maak – sodat vrede, geregtigheid en versoening daarin kan woon.

Samelewings is nooit afgehandel en voltooi nie. Dit is dinamiese entiteite. Die perspektief wat die kerk en elke Christengelowige kan bydra tot hierdie pro­ses, is dié van geloof en hoop. Ons is gerig op die toe­koms en so ver dit in ons vermoë is, gee ons daar­­aan gestalte deur dienooreenkomstig te leef en te getuig waarin ons glo.

Deur die blye boodskap van versoening met God kry elke mens se lewe nuwe inhoud en betekenis en staan ons vir geregtigheid – nie net vir onsself nie, maar vir alle mense. Die kerk kan nie bekostig om sy profetiese stem te verloor nie.

Dr Gustav Claassen is die Algemene Sekretaris van die NG Kerk.