Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die NG Kerk, ’n tipiese hoofstroomkerk, het die afgelope paar jaar – soos vele ander kerke wêreldwyd – voor ingrypende uitdagings te staan gekom. Met die aanbreek van die postapartheid-era in Suid-Afrika was die vraag na die relevansie van die kerk reeds wêreldwyd op kerklike agendas. Hierdie vraag het ook vir die kerk in Suid-Afrika, en veral vir die NG Kerk, ’n kernsaak geword. Die NG Kerk is gedaag om globale samelewingsverskuiwings te verwerk, soos die opkoms van postmodernisme, ’n verskerping in sekularisasie en die impak van globalisering op die geloofsgemeenskap.
Die NG Kerk se eerlike worsteling om haarself, ter wille van die koninkryk, beter te posisioneer het nie sonder pyn en worsteling geskied nie. Pogings om die Belydenis van Belhar te aanvaar het tot erge verdeeldheid gelei. So is dit ook tans die geval met die kerk se pogings om haar gay-lidmate ten volle te akkommodeer. Dit het daartoe gelei dat die narratief rondom die NG Kerk eensydig gedefinieer word in terme van haar dikwels onbeholpe pogings om die regte besluite te neem. ’n Onsimpatieke pers het tot hierdie narratief bygedra deur dikwels lesers met ’n ongebalanseerde negatiewe storielyn te voer.
Die NG Kerk is egter veel meer as haar onbeholpe pogings om die regte besluit te neem. Die afgelope paar jaar is daar dramatiese vordering op die gebied van die ekumene, nasionaal en internasionaal, gemaak. ’n Groot ekumeniese liggaam soos die Wêreldraad van Kerke (WRK), bestaande uit 500 miljoen lidmate, het ons in 2016 terug verwelkom. Die NG Kerk speel nasionaal ’n leidende rol in die leierskap van die groot ekumeniese liggame soos die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), The Evangelical Alliance of South Africa (TEASA) en ander.
Deur organisasies soos NetAct en die Reformed Family Forum (RFF) ondersteun die NG Kerk kerke regoor Afrika. Teologiese opleiding, leierskapsontwikkeling en ander ondersteuningsdienste is kardinale fokusareas van bogenoemde organisasies.
Op die terrein van die publieke teologie het die kommentaar van die NG Kerk ’n beduidende verskil gemaak aan die kritiese debatte rondom byvoorbeeld die reg tot vryheid van godsdiens. Kommentaar op voorgestelde wetgewing is ingrypend verander deur die invloed van die NG Kerk se studiestukke. Wonderlike verhale word oor die NG Kerk se betrokkenheid by prosesse van versoening en restitusie vertel tydens krisisse in plekke soos De Doorns, Coligny, Hermanus en Rustenburg. Saam met die Institute for Justice and Reconciliation werk die NG Kerk tans aan ’n Handves vir Versoening.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2019/05/gustav1.jpg” caption=”Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Die kerk se ondersteuning van gemeenskappe wat deur rampe getref is, hetsy droogtes, rampe of vloede, is ongeëwenaar. Dikwels haal ander bekende organisasies die nuus vir hulle pogings, terwyl die NG Kerk se ondersteuning oor ’n langer tydperk meer volhoubaar, beduidend en georganiseerd is.
Die NG Kerk word deur dr Mamphela Ramphela uitgesonder as een van die belangrikste rolspelers op die gebied van vroeëkinderontwikkeling. In dié verband word die voorkoming van armoede en skoolgereedheid aangespreek.
Die NG Kerk se bydrae tot die ondersteuning van gemarginaliseerdes in gemeenskappe is enorm. In die 2017-2018 boekjaar het die lidorganisasies van die Kerklike Maatskaplike Diensteraad (KMDR) dienste aan sowat 1 323 231 mense gelewer. Elkeen wat hulp ontvang is ook dikwels deel van ’n gesin wat gemiddeld uit vier bestaan. Dit lei tot ’n som van bykans 5,3 miljoen individue wat, op een of ander manier, voordeel getrek het deur die werk van die kerk. Dit is bykans 10% van die nasionale bevolking. Die Christelik gebaseerde dienste wat gelewer word, sluit in voorkoming, intervensie en nasorg. Dit is gerig op alle mense in materiële, maatskaplike en geestelike nood en dit gaan oor die grense van ras, geslag en geloof. Indien al die syfers opgebreek word het 107 sentrums vir bejaardes 12 388 persone (KMDR) versorg, ’n verdere 191 765 bejaardes het tuisversorging geniet. In die 58 sentrums vir kinders is 8 777 onvolwassenes versorg en ’n verdere 13 000 is in beskermde omgewings onder toesig versorg. Sentrums wat fokus op gesinsdienste het die behoeftes en uitdagings van 822 818 individue aangespreek. Die gesamentlike befondsing van al hierdie projekte het R1,2 miljard beloop. Die syfers verdiskonteer nog nie dit wat gemeentes in hulle eie omgewings doen nie.
Die NG Kerk is nog steeds aan die leer wat dit beteken om, volgens die Belydenis van Nicea, ’n oog vir die wêreld te hê. Maar in sy opregte soeke en onvolmaakte pogings is hy besig om deur die genade ’n positiewe verhaal te skryf en ’n verskil te maak met duisende lidmate wat passievol betrokke is. Dit is die ander kant van die NG Kerk se verhaal wat dikwels nie gehoor word nie.
▶ Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk.