Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Dag van Verootmoeding (13 Augustus): ‘Dit is die werk en roeping van die kerk. Sy is ’n hoopdraer!’


Selde was die Suid-Afrikaanse politieke omgewing so onseker soos in 2023. Kombinasies van politieke, ekonomiese en sosiale omstandighede maak lidmate van die NG Kerk, soos die res van hulle landgenote, uiters bekommerd oor die lang- en korttermyntoekoms van Suid-Afrika, skryf Gustav Claasen.

 

Faktore soos politieke onstabiliteit, geweld en onverdraagsaamheid, sosiale konflik en geweld, negatiewe ekonomiese groei met gepaardgaande vraagstukke soos werkloosheid, armoede, swak dienslewering en die vlug van kapitaal en kundigheid uit die land, dra by tot die toenemende onsekerheid en uitsigloosheid.

Endemiese korrupsie, die verswakking van die oppergesag van die reg en waarskynlik die grondwetlike staat en ’n energiekrisis wat elke inwoner van die land fisies en psigies raak, hou op kort en lang termyn implikasies vir die toekoms in.

Toenemende staatsverval, swak munisipale bestuur, diensleweringprotesaksies en die verbrokkeling van staatsentiteite, waaronder nie net Eskom nie, is uitdagings wat almal in die gesig staar.

LEES OOK: Saamreis na lig verras op retraite

Met die naderende verkiesing in 2024 gaan daar waarskynlik ’n eskalering van burgerlike onrus, geweld en spanning wees. Daar kan met ’n opstapeling van woorde voortgegaan word en feite kan nog verder beredeneer word om die benardheid van ons situasie te omskryf.

Teen hierdie agtergrond word die vraag al dringender gevra: Waar is die stem van die kerk in ’n samelewing en tyd waar daar soveel kantelpunte is? Hoekom is die kerk se stem stil? Die antwoord is dat die kerk, soos altyd, onvermoeid met dit waarmee sy geseën word, besig is om aandag te gee aan nood en om hoop te bring waar sy is. Dit is die werk en roeping van die kerk. Sy is ’n hoopdraer!

Die kerk bring egter nie net hoop deur dit wat sy doen nie, maar ook deur dit wat sy sê en bid. Die kerk moet haar besig hou met die adventus van God, die belofte dat God na ons toe kom en by ons is. God self kom na ons toe in hierdie uitdagende hede. God is teenwoordig; God is binne ons, en God is reeds en sal altyd en ewig met ons wees.

LEES OOK: Tafelberg Gemeente se nuutjie: Ons is klaar met Algemene Sinode én klaar gedoleer

Gelowiges se vertroue kan nie op die kerk self geplaas word nie, maar wél op die belofte van die God in die hede. Die God van uiterste verrassings, die God van transformasie, die God wat heel maak en hoop bring en oor begin. “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie” (Jes 59:1-2).

Die dagbestuur van die Algemene Sinode asook die voorsitters van die streeksinodes het besluit om met die oog op die uitdagings in ons lande ’n Dag van Verootmoediging op Sondag 13 Augustus 2023 aan te kondig. Ons versoek kerkrade om heelhartig aan hierdie geleentheid tot verootmoediging deel te neem.

Gemeentes word uitgenooi om tydens hulle plaaslike eredienste nederig voor die Here te buig oor die toestand van ons lande en saam te bid vir:

• genesing van ons lande

• leiers wat met integriteit regeer

• geestelike en morele herstel

• beter skoolopleiding vir kinders

• die veiligheid van ons mense

• herstel van ekonomiese vertroue en investering

• betroubare vennootskappe met die regeringsektor ten opsigte van maatskaplike dienslewering

• die verkiesing van 2024

• dié wat as gevolg van armoede, geweld of natuurrampe swaarkry.

Ons sal in die aanloop tot die Dag van Verootmoediging aan gemeentes liturgiese materiaal beskikbaar stel.

Daar gaan ook op 13 Augustus om 15:00 ’n verootmoedigingsdiens aanlyn uitgesaai word. Die dagbestuur van die Algemene Sinode sal die diens lei. Skakels sal vooraf uitgestuur word.

Kom ons neem deel!

Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk. Hy skryf hier namens die dagbestuur van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top