Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Al is ’n vrou op die kansel in baie gemeentes nie meer iets vreemds nie en is vroue ook meer sigbaar in kerklike leierskapstrukture, bly daar unieke uitdagings wat vroue in die bediening ervaar in wat so lank ’n manswêreld was, hoor Kerkbode by prof Yolanda Dreyer (links) tydens ’n onlangse winterretraite vir vroueleraars. Foto's: Helene Meissenheimer

Saamreis na lig verras op retraite

“Dit was bevrydend om van woorde ’n bietjie bevry te wees.”

Só vertel teoloog prof Yolanda Dreyer oor haar belewenis van ’n onlangse winterretraite vir vroueleraars wat sy saam met Magdaleen du Toit op die boomryke Toscana-landgoed op die rand van Bloemfontein aangebied het.

Dreyer is ’n professor in Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria met pastoraat as subdissipline, terwyl Du Toit opleiding het as spirituele begeleier en tans die sameroeper is van die Spiritualiteitsnetwerk van die NG Kerk Vrystaat. Waar Dreyer die ‘woorde’-deel hanteer het onder meer met die lei van kapeldienste en gespreksgroepe, het Du Toit die veertien vroue uitgenooi om te eksperimenteer met kreatiewe maar woordlose maniere vir innerlik heelword.

Magdaleen du Toit het gewys hoe ’n krabbel ingespan kan word as pastorale hulpmiddel.

Dit het onder meer ingesluit om sirkelpatrone te skep (mandalas genoem) en ’n aktiwiteit met krabbelpatrone. Du Toit het gewys hoe ’n krabbel ingespan kan word as pastorale neurotegniese hulpmiddel of anders gestel as ’n manier om jou kop te help om anders te kyk na dinge wat ’n mens kwel. Sy het verduidelik dat dit gaan oor die simboliek daarvan. Die dik penlyne en kleurblokke wat jy bo-oor jou haastige krabbel inteken word simbolies van God se teenwoordigheid in jou situasie en hulp wat van buite kan kom. So skep jy by jouself ’n verwagting dat dit gaan gebeur.

Jou krabbel word as ’t ware ’n woordlose gebed. Dit kan soms twee of drie krabbelsessies beteken maar haar ervaring is hierdie oefening kan mense help om innerlike ongemak te verlig.

Saam kon hulle ’n veilige omgewing skep. Soos een jonger leraar dit gestel het “ons kon mekaar se stories hoor, vir en saam met mekaar bid”.

Daar was tyd om mekaar se stories te hoor, saam en vir mekaar te bid.
Eksperimenteer met kreatiewe maar woordlose maniere vir innerlik heelword.
Jou krabbel word as ’t ware ’n woordlose gebed.

Want, soos ook gehoor is, om vandag dominee te wees in dikwels stukkende gemeenskappe waar mense vrees om hulle werk by die myn te verloor of boere wil moedeloos raak oor droogtes, vloede en beurtkrag kan hoë eise stel aan jou eie veerkragtigheid.

Lees ook: ‘In die week onsigbaar en Sondae onverstaanbaar …’ | ’n Vertelverhaal oor uitbranding by dominees

Soos een jong dominee dit gestel het, sy het nie na die retraite uitgesien nie. Sy was te mensmoeg. Ander weer was bang vir ’n “geforseerde stilte”. Maar wat hulle oor hierdie drie dae ervaar het, het verras, “… die saamreis is ’n manier van dinge ligter maak en laste deel …”

Kerkbode hoor by Dreyer die eerste retraites vir vrouepredikante in die Vrystaat is begin deur wyle dr Carin van Schalkwyk, een van die eerste gelegitimeerde vrouepredikante in die NG Kerk. Al is ’n vrou op die kansel in baie gemeentes nie meer iets vreemds nie en is vroue ook meer sigbaar in kerklike leierskapstrukture, bly daar unieke uitdagings wat vroue in die bediening ervaar in wat so lank ’n manswêreld was, hoor Kerkbode.

Dreyer is ook goed bekend met van hierdie uitdagings, want onder meer as eerste Afrikaanse vrou om as leraar te bedien in die Hervormde Kerk in 1981 het sy eerstehandse ervaring van sowel die openlike teenkanting asook subtiele diskriminasie wat vroue in die bediening kan beleef, maar ook van die waardering.

Lees ook: Op die baan wat hulle oopgemaak het: Vrouepioniers in die Afrikaanse kerke

Sy vertel sy tel by hierdie groep ’n verskil op met vorige vroueleraarsgroepe. Die seerkry en woede het plek gemaak vir ’n rustigheid en groter gemak om hulle stem in die kerk te laat hoor.

Kerkbode hoor die meeste van die groep het ’n diep dankbaarheid dat hulle hulle roeping in hulle gemeentes kan uitleef. Een wat nog nie ’n beroep kon kry nie werk by ’n landbouskool en ’n ander een was wel in gemeentes waar dit swaar was, maar na ’n skuif of twee kon sy ’n gemeente vind waar sy haar roeping kan uitleef. Tydens ’n kleiner groepgesprek vertel een jong dominee van ’n “oom” wat haar kom vra het hoe hy moet maak met sy twyfel rondom ’n vrou op die kansel. Sy het gesê dit het toe ’n diep eerlike gesprek geword waarin sy met hom haar roepingsverhaal kon deel. Hulle is uitmekaar met hy wat sê hy is herinner aan Jesus wat gesê het as sy volgelinge nie oor Hom getuig nie sal die klippe dit uitroep. Sy sê sy het hom gevra om haar tog gereeld hierdie vraag te vra, want sy wil nooit vergeet watter voorreg dit is om die Woord te mag bedien nie … mag ek dit nooit ‘own’ nie”.

Hildegard von Bingen

Du Toit het die vroue ook bekend gestel aan ’n merkwaardige rolmodel uit die Middeleeue, ’n Duitse non en mistikus, Hildegard von Bingen. Sy het vertel sy het haar gekies omdat Von Bingen ook ’n sterk roepingsbewustheid gehad het in ’n tydvak wat nie vrouvriendelik was nie, maar sy het haar vrou gestaan en was getrou aan haar oortuigings.

Lees ook: Ikonografie: Sy herontdek dié geloofskat

Du Toit het navorsing oor Von Bingen gedeel wat aandui sy het ’n geïntegreerde wêreldbeeld gehad, iemand wat haar tyd ver vooruit was. Von Bingen was nie net moederowerste van haar klooster nie, maar het ook drie boeke voltooi oor haar visioene, kerkmusiek gekomponeer en was van die eerstes om te skryf oor die medisinale gebruik van kruie. Haar opinie was deur kerkleiers van haar tyd gevra en gerespekteer.

Haar musiek word vandag nog waardeer en opgevoer. Du Toit het ’n video gewys van ’n uittreksel uit Von Bingen se opera “Ordo Virtutum” (Sirkel van deugde) wat in 2022 in Australië opgevoer is.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top