Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Op die baan wat hulle oopgemaak het: Vrouepioniers in die Afrikaanse kerke

“Dominee, sy wil predikant word.” Ek onthou dit soos gister. Ons gemeentepredikant het kom huisbesoek doen. Die tee en koekies het reggestaan op die koffietafel. Toe maak my ouma trots hierdie aankondiging oor haar kleindogter. En toe volg die ongemaklike stilte. Ek het afwagtend tussen sy stoel en die wall unit gestaan, toe die dominee vir my ouma sê: “Uh … nee, Tannie … dit is nie nou die regte tyd nie”. Dit was 1997. Ek was 16 jaar oud. Dit was 17 jaar nadat die Hervormde Kerk (NHK) vroue tot die amp van predikant toegelaat het. In die wall unit aan my regterkant was die televisie, waarop ek nou en dan vir Yolanda Dreyer gesien het as sy die destydse SAUK se gods­diensprogramme aangebied het. Sy het in 1975 aangemeld vir teologiese studie en is in 1981 as predikant georden – die eerste vrouepredikant in die Afrikaanse kerke. 1981 is die jaar waarin ek gebore is. En daar langs die televisie waarop ek na die Hervormde Kerk se eerste vrouepredikant gekyk het, hoor ek die tyd is nie reg vir ’n vrou om in die Hervormde Kerk ’n predikant te word nie.

Op ’n Sondag na die erediens, kort na hierdie episode daar in my ma se sitkamer, beleef ek my roeping weer sterk – en onthou die dominee se woorde. Ek begin dink aan wat anders ek sou kon doen met my lewe. Ek wou altyd skryf – spe­sifiek joernalistiek – veral nadat ek die skoolkoe­rant se hoofredakteur geword het en ’n Beeld-skryfskool bygewoon het. Ek wou ook klasgee. Op daardie stadium was daardie twee opsies ewe onmoontlik – my enkel­ouer-ma sou niks van daardie tipe opleiding kon bekostig nie. Maar die lewe is ’n interessante plek. Vandag doen ek al drie daardie dinge wat destyds onmoontlik gelyk het: Ek is ’n geordende predikant van die Hervormde Kerk, ek gee klas aan die universiteit en ek skryf.

Die grootsheid van hoe hierdie verhaal ontvou het na die predikant se lafhartige opmerking destyds, is daarin te vinde dat ek in staat is om te doen wat ek nou doen omdat vroue die baan vir my oopgemaak het: Hulle het as voorbeelde en mentors gedien omdat hulle aangetoon het hoe om voet by stuk te hou. En hulle het die pad letterlik oopgemaak. Ek is lid van ’n Nederlandsspekende gemeente in Johannesburg, en daar het ek geleer die woord “baan” beteken in Ne­derlands “be­roep” en dus letterlik die arbeidsweg wat jy vir jouself kies.

Daarom vind ek dit baie toepaslik om te praat van die wyse waarop my baan vir my oopgemaak is, want soveel vroue het as pioniers in die Afrikaanse kerke baanbrekerswerk gedoen. Hulle het geslote en afgemete bane oopgebreek, paaie gebou waar daar geen paaie was nie en in die meeste gevalle ’n toekoms versinnebeeld waarvoor die spreekwoordelike boumateriale nog nie bestaan het nie. Hierdie vroue moes buitengewoon hard werk om ’n pad oop te maak in ’n ruimte waartoe hulle geroep was, maar nie toegelaat is nie. My verhaal – my baan – is met hulle s’n vervleg. En so ook ’n groot gedeelte van my klasmaats se “bane”. In my jaargroep het vier vroue saam met my begin in 2002 en ons al vyf het tegelyk in die minimumtydperk ons studies voltooi, terwyl die ander deel van die klas musical chairs gespeel het ten opsigte van hulle studiejare.

Dit is hierdie jaar 30 jaar gelede wat die Algemene Sinode van die NG Kerk vroue tot die amp van predikant toegelaat het. Hierdie hele proses is beskryf in die proefskrif van Elsje Büchner: “Ek het ’n roeping”: Vrouepredikante se toelating in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (2007). Sy was ’n baanbreker in hierdie opsig. In 2019 was dit 40 jaar gelede wat die Hervormde Kerk se Algemene Kerkvergadering in 1979 ’n meerderheidstandpunt gehad het dat vroue volledig deel van die kerk is en derhalwe volledig met hulle gawes en talente in God se diens kan werk. Dertig en veertig jaar is ’n lang tydperk waartydens daar teen ’n slakkepas vir vroue ruimte gemaak word en vroue se bydraes erken word en miskien hier en daar selfs as vanselfsprekend aanvaar word. Ek en my klasmaats en talle ander vrouepredikante en teologiestudente wat sedert daardie besluite geneem is, ons onderskeie bane aangedurf het, kon dit net doen as gevolg van ’n paar vroue wat oor ’n paar dekades stadig maar seker, met volgehoue vasberadenheid, die sement tussen die bak­stene van die patriargale muur losgewikkel het. Elkeen van hulle het op ’n unieke manier hulle weg gevind met die ontslui­ting van hierdie baan en daarom is ons verhale met hulle s’n vervleg:

  • Sarah-Jane Wessels, wat ná die voltooiing van haar studies nie saam met haar klasmaats gelegitimeer kon word nie omdat sy volgens die kerkreg te oud was om predikant te word en Estie Visagie, gelegitimeer in 1991, 35 jaar nadat sy haar stu­dies voltooi het;
  • Dina Joubert, die eerste vrou om in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag as kapelaan aangestel te word;
  • Greta Heymans, die eerste vrou wat in die NG Kerk as predikant bevestig is in 1995, Ronell Bezuidenhout wat in 1998 bevestig is en die res van die “klas van ’95”: Carin van Schalkwyk, Anine van Velden, Hantie Kotze, Judith Kotze en Rachel Baard.
  • Elna Mouton, die eerste voltydse vrouedosent en later eerste vroulike dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch;
  • Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel, die eerste vrou wat in die voormalige NG Sen­dingkerk as predikant georden is en die eerste vrou wat verkies is tot moderator van die VGKSA;
  • Yolanda Dreyer, wat in die jaar 2000 die eerste vroulike dosent aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria geword het;
  • Elsabe Kloppers, eerste vrouepredikant in die Afrikaanse kerke wat ’n doktorsgraad in Teologie behaal het;
  • Christina Landman, wat ten spyte van die boodskap, “Vroue studeer nie hier nie”, tog voortgegaan het en in 1978 het sy dit reggekry by Unisa. 28 jaar nadat sy haar BA voltooi het, is sy beroep en bevestig in die VGK in die gemeente Dullstroom;
  • En Elize Morkel, wat net aangehou het om baanbrekerswerk op ander terreine te verrig ten spyte van ’n baan wat haar ontsê is.

Daar is nog talle ander vrouebaanbrekers en hulle verhale moet vertel word. Hopelik kan ons nageslag ’n narratief (geskiedenis) aanhoor wat hierdie reusebydraes erken en herdenk.

Dr Tanya van Wyk is senior lektor in Sistematiese Teologie en Christelike Etiek aan die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria en ’n geordende predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Op die baan wat hulle oopgemaak het: Vrouepioniers in die Afrikaanse kerke”

  1. Charlotte Potgieter

    Ja, die ewige outoritêre patriargale stelsel. Dit is ‘n skande dat vroue hul pad moes ‘oop veg’.

  2. Jy is 100% reg, Charlotte – en dis ons klomp wit mans se skande. Dis ‘n hartseer wat ons om een of ander rede moeilik help genees. Ek verstaan nie mooi hoekom nie. Ek wil dit blote liefdeloosheid noem, maar dit is seker liefdeloos om so te sê.

Comments are closed.

Scroll to Top