Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Tafelberg Gemeente se nuutjie: Ons is klaar met Algemene Sinode én klaar gedoleer

Lidmate van Tafelberg Gemeente bevind hulleself in onbekende water ná die onlangse besluit om enersyds hulle kerkverband met die NG Kerk se Algemene Sinode op te skort en andersyds ook hulle status as dolerende gemeente prys te gee.

Dr Chris Saayman het na Sondag se erediens in sy gemeente ’n plasing op Facebook gemaak oor wat hy bestempel as “(d)ie eerste erediens as NG Gemeente Tafelberg – maar buite kerkverband met die NG Kerk.”

Die besluit, geneem by ’n kerkraadsvergadering op 22 Junie, lui dat Tafelberg Gemeente sy “identiteit as Nederduitse Gereformeerde Kerk soos uitgedruk in die Bybel en die Belydenis” wil behou. Maar die middestadgemeente verklaar tegelyk die “verband met plaaslike Ring, Streeksinode en die Algemene Sinode” as opgeskort. (Lees die “Akte van opskorting” HIER).

‘Kerkorde kan dit nie akkommodeer’

“(D)it is totaal ’n nuwe situasie, die eerste in sy soort, wat ook nie deur ons huidige kerkorde geakkommodeer word nie,” het dr Gustav Claassen by navraag gesê. Claassen, die algemene sekretaris van die NG Kerk, het bygevoeg dat die saak tans deur die ring en die plaaslike sinode hanteer word.

“Die moderatuur het met besorgdheid kennis geneem van die “Akte van opskorting” wat deur die kerkraad van die NG Gemeente Tafelberg uitgereik is,” het ds Marinus Theron, namens die moderatuur van die NG Kerk Wes-Kaapland, gesê. “Die moderatuur vertrou dat die Ring van Kaap die Goeie Hoop in die beste belang van die gemeente sal optree en bied ons volle ondersteuning aan die ring asook die gemeente.”

‘Ons doleer nie meer’

Tafelberg Gemeente se lidmate het jare lank getel onder die sowat 95 gemeentes, volgens https://kairosnetwerk.net/lys/, wat doleer. Die jongste besluit raak ook daardie verband: “Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg, handelend as Tafelberg Gemeente, hou op om ’n dolerende gemeente te wees, nadat die doel van dolering, naamlik om die kerkverband op te roep om terug te keer na die Woord van God alleen (sola scriptura), na vier hartseer jare nie op bekering en berou uitgeloop het nie, maar steeds deur die kerkverband in kerkvergaderinge en by die teologiese opleiding teengestaan is.”

Die gemeente val in die NG Kerk se grootste streeksinode, naamlik die Sinode van Wes-Kaapland, wat 224 gemeentes en sowat 168 000 belydende lidmate verteenwoordig. Agt gemeentes in hierdie streeksinode doleer oor die 2019-besluite van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverbintenisse, volgens ’n sinodale inligtingstuk.

‘Ons bly soek’

Kairos Netwerk (KN) het “met groot hartseer, maar ook met volledige begrip, kennis geneem van die NG Kerk Tafelberg se drastiese, ingrypende ‘Akte van Opskorting van kerkverband met die Ring van Kaap die Goeie Hoop asook die Sinode van Wes- en Suid-Kaapland en die Algemene Sinode van die NG Kerk’”, luidens ’n verklaring. 

“Ons respekteer Tafelberg se besluite in hulle spesifieke omstandighede sonder om ons op hierdie stadium uit te spreek oor die detail daarvan. Ons bid dat wat daar besig is om te gebeur, die ASM (Algemene Sinode Moderamen) asook die res van die wyer kerkverband, uit hulle doodslaap sal wakker skud voor dit te laat is,” lui KN se verklaring.

KN voeg by dat Tafelberg “nie hulle verband met die Koinonia Sinode van behoudende NG kerke of ook ander behoudende  NG gemeentes opskort nie.” (Lees die verklaring HIER). 

Die gemeente-webwerf is tans van die lug af om “oorgebou” te word. Dr Saayman was nie vandeesweek vir ’n onderhoud beskikbaar nie. 

“Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Tafelberg is nie van voorneme om ná opskorting van die kerkverband as ’n onafhanklike gemeente te bly voortbestaan nie en sal, soos dit ’n gereformeerde kerk betaam, bly soek na gemeentes, ringe en sinodes met wie daar op dieselfde grondslag, wat leer en lewe betref, in verband getree kan word,” lui die Akte van opskorting.

Dr Saayman se onlangse Facebook-plasing.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

7 thoughts on “Tafelberg Gemeente se nuutjie: Ons is klaar met Algemene Sinode én klaar gedoleer”

  1. Bernhard Ficker

    Baie interessante verwikkeling. Wat hier nagelaat word om te meld, is dat ds Saayman en Sy hoofouderling gedaag is om voor die Ring te verskyn nadat n klag teen hulle gele is. Die uiteinde is dat hulle sommer as hele gemeente onttrek het. n Interessante vraag is hoe lank n gemeente kan of moet doleer? Totdat al jou trane uitgestort en opgedroog het? Daar kan sekerlik nie onbeperk doleer en getreur word nie, of hoe?

  2. Muller Oosthuizen

    Dis werklik hartseer dat ‘n leraar / gemeenteleiding ‘n gemeente teologies so ongekwalifiseerd en ver van die res van die verband kan dryf.
    Die besluite en leerstukke van die NG Kerk en die gereformeerde tradisie is oor baie jare deurdink en neergepen. Waar dit veral hier gaan oor Skrifgesag, Skrifinterpretasie en Skrifhantering – wat in die NG Kerk reeds oor meer as wat ses dekades bedink en herbedink word, is dit diepgaande bekommerenswaardig dat dit alles so verwerp word sonder om behoorlike geformuleerde en begronde dokumente en gesprekke na die NG Kerk toe te bring.
    Die sinodestatus wat die Kairos Netwerk sigself gegee het, is maar een uiting wat getuig van ‘n onverantwoordelike benadering tot kerkwees en teologiese deelname.
    Die hartseer hiervan gaan teen die mure aangeteken word – tot skande van die liggaam van Christus.

  3. ANDRE DU PLESSIS

    Die een soldaat wat in pas is, is altyd reg, hoe hartseer is dit
    nie. Iemand sien hier nie die splinter raak nie.

  4. Philip Coetzee

    Ek vra net weer dieselfde vraag: Die linkerhand verwyd die regterhand en anders om. Nou die vraag is: Wie is die Skrifgetrou party, die wat by die onveilbare woord bly, of die wat ñ “liberale” siening huldig soos ons dit ook nou sien in regerings besluite oor die wêreld heen? Is dit nie maar ñ duidelike bewys van Sepratisme soos ons dit ook verstaan in die Skrif nie? Waar Wetsgeleerdes en ander hulle gedistansieër het van Jesus se volgelinge nie? ñ Hipotetiese vraag: Wie kan met ñ opregte gemoed verklaar dat die Gees hulle ly in hul besluitneming en Skrifvertolking, of kan die Gees tweeledig wee?

  5. Muller Oosthuizen is verkeerd in sy aanname dat Tafelberg ongekwaliseerd en sonder dat besware voorgelê is die kerkverband verlaat het. Nege redes word aangevoer waarom die Kerkraad tot so ‘n stap oorgegaan het. Gebeure oor tyd, asook onlangse gebeure, het ‘n definitiewe rol gespeel. Verskil in Skrifhantering en -interpretasie in die NG Kerk is meer ‘n skans waaragter daar in debat geskuil word. Vir die Algemene Sinode se besluite wat tot groot teenstand en verdeeldheid in die kerk aanleiding gegee het, is daar weinig, indien enige Bybelse begronding gegee. Dit wil eerder voorkom of voorstanders van hierdie besluite dit ongekwalifiseerd en sonder voorlegging probeer handhaaf. Kerkverband hoort nie tot die wese van die kerk nie, maar die welwese. Wanneer die kerkverband nie meer die kerk (gemeente) wel doen nie, maar onwel, is dit beter om tot die kerk (gemeente) se welwese van hierdie onwel verband ontslae te raak. Anders gestel, as die verband die kerk (gemeente) wel doen, kan die verband behou en gekoester word. Daar is nie net by Tafelberg nie, maar dwarsdeur die NG Kerk onvergenoegdheid met die welsyn en welwese van die kerkverband. Kry dit weer wel en dan sal alle gemeentes weer die welwese van die kerkverband geniet. Soek dus die probleem by die verband en nie by Tafelberg nue.

  6. Daniel Louw

    Ek volg hierdie gebeure maar baie meer nog volg ek sedert 1987, die jaar van my legitimasie, hoe meerdere kerkvergaderings kerkrade en hul gemeentes hanteer waar daar een of ander meningsverskil ontstaan het, intern en/of met meerdere vergaderings se besluite, wat daartoe aanleiding gee dat lidmate in n groot getal die kerkverband verlaat en die gemeente so klein word en nie meer volledig normaal kan voortgaan nie. Konsekwent is dit in alle omstandighede die Ringskommissies wat eerste op die “ongelukstoneel” is of ten minste daarvan kennis kry en behoort te reageer. In hierdie geval tot dusver het die Ring nog niks gesê nie, en /of ek niks gehoor of gelees nie, maw geen amptelike openbare verklaring uitgereik nie, dan nie? Ongeag hoe reg of verkeerd n kerkraad en gemeente mag wees, die Ringskommissie moet verantwoordelikheid en aanspreeklikheid aanvaar oor wat in gemeentes gebeur en behoort uiters pastoraal sensitief met die leraar om te gaan. As ek die Jaarboek nagaan lyk my dit is n massiewe groot Ring. Is daar n funksionerende pastor pastorum in die Ring ? Ongeag, wat hier aan die gang is, maar ek sal nie te gou wees om n kerkraad as die sondebok skeurmaker te beoordeel nie, nie voordat die Ring hul laaste woord gespreek het nie.

Comments are closed.

Scroll to Top