Die vreemdeling in ons poorte vra omgee van die kerk

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die vreemdeling in die poorte is, histories gesproke, nog altyd met wantroue hanteer. Mense met ’n opmerklike andersheid in terme van taal, kultuur, velkleur, kleredrag en gebruike word as die “ander” beskou. Oor tyd heen was hulle dikwels uitgelewer aan die goedgunstigheid en welwillendheid maar ook aan die wispelturigheid en argwaan van die gasheerland. Die geskiedenis bewys dat migrante, asielsoekers en vlugtelinge bykans altyd aan die kortste end trek en dat hulle embleme word van uitsluiting. Hulle word dikwels gestigmatiseer as die oorsake van ekonomiese en sosiale mislukkings. Dit lui tot rassisme, xenofobie en ander uitdagings.

In teenstelling met sulke veralgemenings het ’n verslag in 2018 oor die bydrae van immigrante tot die ekonomie van Suid-Afrika, ’n ander werklikheid uitgewys. Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO), die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) en die Europese Kommissie se verslag bevestig dat buitelanders ’n belangrike rol gespeel het in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die verslag het ook stereotiperende persepsies dat buitelanders verantwoordelik is vir die stroping van die land se sosio-ekonomiese hulpbronne, die nek ingeslaan.

In die Suid-Afrikaanse konteks word xenofobie ook Afro-fobie genoem, omdat byna uitsluitlik burgers van Afrikalande geteiken word. Ongeveer 70 persent van die ongeveer 3,6 miljoen gedokumenteerde buitelanders in Suid-Afrika kom uit die naburige Zimbabwe, Mosambiek en Lesotho. Die oorblywende 30 persent kom uit Malawi, die Verenigde Koninkryk, Namibië, eSwatini, Indië en ander lande. Die persepsie is dat hierdie mense, wettig en onwettig, die rede vir die land se groeiende probleme is.

Meer as 550 voorvalle van xenofobiese geweld is sedert 1994 aangeteken. In sy verslag van 2020 wys Human Rights Watch op ’n totale gebrek aan aanspreeklikheid vir xenofobiese misdade in SA. Feitlik niemand word aan hierdie misdade skuldig bevind nie. Dit sluit in die onlangse aanvalle van 2019, die geweld in Durban in April 2015 wat duisende buitelandse burgers verplaas het, en die aanvalle op buitelanders in 2008, wat gelei het tot die dood van meer as 60 mense regoor die land.

Die pandemie het ook die uitdagings vir die vreemdelinge in ons poorte laat toeneem. Covid-19 het ’n ernstige finansiële uitwerking op baie mense wat hulle werk verloor het. Hierdie situasie het soveel meer buitelandse burgers benadeel, veral diegene wat in die informele ekonomie werk. Baie van die migrante doen laag besoldigde werk en tydens die grendeltyd het die werk opgedroog.

Ondersteuning vir gemarginaliseerde buitelanders word oor die hoof gesien in die stryd teen Covid-19. Ingevolge die rampregulasies, kan slegs buitelandse burgers wat wettige dokumente in Suid-Afrika het of geregistreerde vlugtelinge is, kwalifiseer vir die R350 uit die Covid-19 Social Relief of Distress Grant (SRD). Asielsoekers, vlugtelinge en migrante wat nie gedokumenteer is nie, het hulle inkomste verloor weens die regulasies, en met beperkte toegang tot hulpverleningsmaatreëls staar hulle uitsetting en honger in die gesig.

Met die staat se weiering om verantwoordelikheid vir die welstand van buitelanders binne sy grense te neem, word die taak om skuiling, voedsel en ander basiese behoeftes aan hierdie kwesbare groepe te voorsien, oorgelaat aan nie-regeringsorganisasies. NG gemeentes op talle plekke reik uit en bied ondersteuning aan buitelanders wat hulle skielik gestrand bevind in die land van hulle drome.

Die sluiting van die visum- en vlugtelingkantore van die Departement Binnelandse Sake tydens die grendeltyd het wydverspreide gevolge vir buitelandse burgers in Suid-Afrika gehad. Baie mense kon nie hulle verblyfpermitte hernu nie. As onwettige buitelanders word hulle dan as “ongewenste persone” verklaar (Artikel 30 (1) (h), Wet 13 van 2002, gewysig in 2011). Ongewenste persone moet Suid-Afrika verlaat en word verbied om terug te kom.

Wat leer ons in die Bybel hieroor?

Migrasie as ’n verskynsel kom telkens in die Bybel na vore en ons sien dat migrante nog altyd onder die kwesbare mense in die samelewing getel het. Dit is ook ’n belangrike teologiese tema in die Ou en Nuwe Testament.

Volgens die Ou Testament word God se verhouding met Israel gekenmerk deur migrasie. Abraham en Sara, Jakob en Josef, en later, Israel se eie bestaan, is een van die byna konstante beweging tussen die beloofde land en verskillende ander tydelike woonplekke in Egipte, Assirië, Babilonië en Persië.

Alhoewel daar verskille tussen die Bybelse verhale en huidige vorme van migrasie is, is daar ook analogieë tussen die hedendaagse oorsake van migrasie en die Bybelse verhale in Genesis. Hongersnood en omgewingskrisisse het die beweging van Abraham en Jakob beïnvloed en Josef het die werklikheid van gedwonge migrasie, smokkel en mensehandel ervaar.

Die tweede grootste gebeurtenis van migrasie in die Ou Testament vind plaas met die vernietiging van die tempel in 587 vC en die ballingskap van Juda in Babilon. Hierdie gebeure was deurslaggewend vir die geloof van Israel en die teologie wat ons in die Ou Testament vind.

Die Nuwe Testament sluit aan by die temas van ballingskap. Jesus word kort na sy geboorte in ballingskap na Egipte gedwing. Tydens sy openbare bediening is Hy voortdurend aan die beweeg en sê Hy self dat hy “nêrens sy kop kan neerlê nie” (Luk 9:58; Matt 8:20). Na sy dood en opstanding word die dissipels uitgestuur na Jerusalem, Judea, Samaria en na die uithoeke van die aarde. Handelinge vertel van Paulus se reise, op land en oor die Middellandse See en hoe hy oral gemeentes stig.

Versorging van vreemdelinge is ’n teologiese tema deur die hele Bybel. Die wette van Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium sluit opdragte in vir die versorging van die vreemdeling. Hierdie wette is gewortel in Israel se ervarings van vreemdelingskap en verlossing uit slawerny in Egipte en hulle veertig jaar lange reis in die woestyn. Israel word opgeroep om op te tree soos die God wat hulle aanbid. Deel daarvan is om die vreemdelinge in hulle midde te versorg. Dit is ’n weerspieëling van God se versorging en bevryding van Israel in die vreemde.

Die Bybelse visie van migrasie en gasvryheid teenoor vreemdelinge gee ’n breër teologiese visie op God en sy sorg vir die mensdom. Die kerk het die roeping om hierdie Goddelike gasvryheid in die wêreld te weerspieël. Die Bybel vra dat ons moet onthou dat ons almal vreemdelinge en ballinge in die wêreld is wat deur die genade en werk van Jesus vriende en naastes van God en mekaar gemaak is (Ef 2:13).

Die vraag is: Waar is die kerk se stem in hierdie tyd vir dié wat stemloos is? Ekumenies gesproke is die stem van die Suid-Afrikaanse kerke relatief stil. Daar is wel enkelinge wat dit op hulle neem om te reageer, maar dit gebeur sonder die nodige ondersteuning van hulle denominasies.

Die NG Kerk self is ’n geloofsgemeenskap wat gegroei het uit vreemdelinge van Nederland, Duitsland, Frankryk en ander lande wat hier aan die suidpunt van Afrika geleenthede en ’n tuiste kom vind het. Ons kan nie anders as om om te gee vir en erbarming te hê met die vreemdelinge in ons poorte en ons stem te laat hoor ter wille van hulle nie. Kommer oor sosiale geregtigheid is ’n barometer wat die gesondheid van ’n kerk meet.

  • Dr Gustav Claassen is algemene sekretaris van die NG Kerk.

One thought on “Die vreemdeling in ons poorte vra omgee van die kerk

  1. Helen says:

    Ek stem heelhartig saam met die artikel – Christene kan meer doen om ook uit te reik na die ontworteldes wat n heenkome soek in die land

Comments are closed.