Te midde van teologiese verskille oor homoseksualiteit in die NG Kerk, is daar ook beswaar oor die proses wat gevolg is met die jongste verwikkeling, naamlik dat leraars nou amptelik selfdegeslagverbintenisse in die NG Kerk mag voltrek.
Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, wys daarop dat hierdie opsie nou vir leraars bestaan danksy besluite wat die Algemene Sinode tydens sy vergadering in 2019 geneem het.
Die “opvolgpaneel” van ’n spesiale beraad wat vanjaar by Moreletapark gehou is, verskil egter. “’n Amptenaar in diens van die Algemene Sinode het geen opdrag of bevoegdheid van die Algemene Sinode ontvang om ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse aansoek te doen vir die aanstelling van bevestigers van burgerlike verbintenisse nie,” is een van die punte in ’n mediaverklaring wat dié groep in Augustus uitgereik het.
Nog ’n punt gaan oor die rol van streeksinodes: “Aansoeke by die Departement van Binnelandse Sake vir gelegitimeerdes van die NG Kerk om as huweliksbevestigers aangestel te word ingevolge die Huwelikswet (Wet 25 van 1961), geskied deur die sinodale kantore (vgl Reglement vir Beroeping, Bevestiging, Demissie en Emeritaat van Predikante, 10.9.1) en daarom behoort enige aanverwante aangeleenthede op die terrein van die streeksinodes,” volgens lede van die paneel waaroor Kerkbode in Februarie vanjaar breedvoerig berig het.
Claassen reageer soos volg op hierdie punte: “Die vertrekpunt van die aansoek by die Departement Binnelandse Sake kan gevind word in die volgende twee besluite van die Algemene Sinode, naamlik:
Die besluit dat leraars wat hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse te voltrek, dit kan doen (uit die lang besluit oor selfdegeslagverbintenisse).
Die besluit dat die Algemene Sinode aansoek moet doen vir leraars wat hulle weg opsien (Besluit 24).
“Verder moet uitvoering gegee word aan die volgende besluit wat by 2019 herbevestig is, naamlik: ‘Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.’
“Daarom word die aansoek gedoen aan die hand van Wet 17 van 2006 (Civil Union Act) wat bepaalde eie vereistes stel asook die feit dat dit twee afsonderlike wette is wat ter sprake is en nie verwar moet word nie,” aldus Claassen.
Hy meen dit moet vooraf duidelik wees dat hier ’n ander wet ter sprake is as die Huwelikswet 25 van 1961. “Die NG Kerk sou in die verlede eenmalig, heel waarskynlik as denominasie, aansoek gedoen het om haar leraars in staat te stel om volgens die Huwelikswet van 1961 huwelike te kan bevestig tussen persone van die teenoorgestelde geslag. Daarna sou die verskillende sinodes met die departement skakel om logistieke redes.
“Die huidige aansoek van die NG Kerk om haar leraars, wat hulle weg oopsien om dit te doen, in staat te stel om selfdegeslagverbintenisse te voltrek, word gedoen aan die hand van ’n ander wet, naamlik die Civil Union Act 17 van 2006 en binne die skopus van die wet, naamlik, ‘the act applies to civil union partners joined in a civil union” (klousule 3 van die Wet),’” het Claassen aan Kerkbode gesê. “In gesprekke wat by meer as een geleentheid met die adjunkminister en ander amptenare van die departement gevoer is, is dit gekommunikeer dat die NG Kerk as denominasie eers moet aansoek doen alvorens predikante, wat die opsie wil uitoefen, geakkrediteer sal word om selfdegeslagverbintenisse te voltrek. Dit geskied op grond van die opskrif voor klousule 5 en klousule 5(1) van die wet,” het Claassen gesê.

