Op Hervormingsondag 30 Oktober 2022 het twee gemeentes in Pretoria, die historiese NG Kerk Pretoria en die VGKSA-gemeente Melodi ya Tshwane, amptelik een geword. Dr Gustav Claassen skryf ’n stuk versplintering is op hierdie besonderse geleentheid ongedaan gemaak.
Die feit dat dié eenwording op Hervormingsondag gevier is, is van betekenis. Die gebeure van 31 Oktober 1517 toe Martin Luther volgens oorlewering sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg sou vasgespyker het, het gelei tot groot verandering op die kerklike toneel. In bykans alle gevalle was die gevolge van die hervorming positief en transformerend, dit het egter ook gelei tot ongekende kerkversplintering. ’n Veelheid van kerke het gevolg.
Om die eenwording van hierdie twee gemeentes te vier en daardeur eenheid in ’n konteks waar soveel verdeling en verdeelheid aan die orde is, het die vreugde en blydskap op Hervormingsondag verdiep – ’n stuk versplintering is ongedaan gemaak.


Die NG Kerk Pretoria het in 1854, ’n jaar voor die stigting van die stad “Pretoria” in 1855, tot stand gekom. Dié gemeente is die produk van ’n reeks van samesmeltings, as gevolg van verskeie demografiese redes, van sewe gemeentes uit die voormalige Ring van Pretoria. Die lidmate van die gemeente woon hoofsaaklik in die middestad van Pretoria en meestal in outehuise.
Die VGKSA Melodi ya Tshwane daarenteen is ’n jonger gemeente wat in 1992 as ’n bediening aan huishulpe begin het. ’n Groot aantal studente en jonger professionele persone maak die lidmate van dié gemeente uit. Dit was die eerste VGKSA-gemeente in die historiese “wit” area van Pretoria.
Die lang verhouding tussen die twee gemeentes was nie altyd sonder uitdagings nie. In 1995 het die NG Kerk Pretoria en VGKSA Melodi ya Tshwane egter ’n ooreenkoms bereik om gedeelde eienaarskap van die Bosmanstraat-kerkgebou te aanvaar. Die stap kan terugskouend as ’n katalisator beskou word vir wat sou volg. Bosmanstraat se kerkgebou het die ruimte geword waar die twee gemeentes, met soms gemengde sukses, saamgepraat en besluite geneem het.
Vroeg in 2017 het die predikante van dié twee gemeentes ’n beginselbesluit geneem om voluit saam te werk ter wille van eenheid. Dié besluit het gelei tot die ondertekening van ’n Memorandum van Samewerking tussen die twee kerkrade op 5 November 2017. Die grootse uitdaging sou wees die vind van ’n harmoniese saamwees te midde van die diversiteit teenwoordig in die twee gemeentes asook die aanvaarding van gesamentlike verantwoordelikhede en finansiële uitdagings.
Prof Johannes ‘Klippies’ Kritzinger, emeritusleraar van die gemeente Melodi ya Tshwane, het by die eenwordingsgeleentheid die erediens gelei. ’n Liturgie is gevolg waaraan kerkraadslede van beide gemeentes deelgeneem het, asook verteenwoordigers van die verskillende ringe, sinodes en algemene sinode. Die Algemene Sinode is verteenwoordig deur die algemene sekretaris en die VGKSA deur sy nuutverkose saakgelastigde, dr Elias Monhla. ’n Klein maar entoesiatiese koor het luister aan die verrigtinge verleen. Kritzinger, wat diep spore in die gemeente van Melodi ya Tshwane getrap het, kon kwalik sy emosies wegsteek na afloop van die verrigtinge. Hy is diep geroer gelaat deur die realisering van ’n lang gekoesterde ideaal.


Die ‘nuwe’ gemeente sien haar eenwording nie as die laaste stap van ’n saamreis nie, maar as ’n belangrike roetemerker op ’n voortgesette reis na dieper eenheid. Die implikasie sal wees dat die nuwe verenigde kerkraad verantwoordelikheid sal neem vir die werk in oorwegend Afrikaanse ouetehuise asook die jeug-, mans- en vroueverenigings wat eie is aan die VGKSA se bediening, die aanbidding by veelvuldige ruimtes regoor die middestad en die gemeente se gesamentlike getuienis regoor die stad.
Die eenwording van die gemeentes Melodi ya Tshwane en NG Kerk Pretoria maak dit die derde gemeente naas Bredasdorp en Touwsrivier wat, binne die NG Kerkfamilie, die belangrike stap tot eenwording geneem het. Nasionaal is verskeie ander gemeentes en selfs ringe in die proses van saam reis met die oog op eenwording.
Hierdie gemeentes en ringe is die eerste bloeisels van ’n boom wat tot blom kom. ’n Boom waaroor die NG Kerkfamilie al so lank droom en voor bid. ’n Boom met ’n kragtige getuieniskrag van Christus se inklusiewe liefde wat oor alle grense strek.
Die eenwording van Melodi ya Tshwane en Pretoria-gemeente gee hoop en moed aan alle ander gemeentes. Op die pad vorentoe sal die twee gemeentes se passie, gehoorsaamheid en vasberadenheid almal inspireer wat die, soms uitdagende, tog na eenwording wil aanpak.
- Dr Gustav Claassen is algemene sekretaris van die NG Kerk.
