Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Cobus van Wyngaard bedien nagmaal tydens die erediens op Hervormingsondag waarop die gemeentes VGKSA Melodi ya Tshwane en die NGK Pretoria hul amptelike eenwording gevier het. Foto: Tharis Moloko

VGKSA Melodi ya Tshwane en die NGK Pretoria: Wit en swart soek saam na volgende tree op eenwordingspad

Die stories van vereniging wat die kerk soek is waarskynlik stories van vinnige en maklike verhoudings, waar mense op wonderbaarlike manier mekaar vind asof generasies se seer en geskeidenheid soos mis voor die son verdwyn. Dit is nie ons storie nie. Dit gaan waarskynlik nie die storie van enige proses van vereniging wees nie, skryf Cobus van Wyngaard.

Op Sondag 30 Oktober 2022 het die VGKSA Melodi ya Tshwane en die NGK Pretoria ’n saamgevoegde gemeente met ’n saamgevoegde kerkraad geword, volgens die tussenorde wat deur ons Algemene Sinodes goedgekeur is. Dit is ’n lang reis, en net die begin van een wat nog baie langer gaan wees. Vereniging gebeur nie in ’n moment nie, maar is eerder ’n reis van herstel waaraan ons waarskynlik oor generasies sal deelneem.

Die NGK Pretoria is die voormalige Bosmanstraat-gemeente wat in 1854 gestig is. Die gemeente se verhaal is die van verskeie NG gemeentes. Die hoofsaaklik wit Afrikaanse demografie van Pretoria se middestad het oor die afgelope 30 jaar dramaties verander, en die gemeente se verhaal was een van kleiner word en konsolideer. Die ses gemeentes van die Ring van Pretoria het een gemeente geword, met ’n handjie vol lidmate terwyl meer as 100 000 mense binne die historiese gemeentegrense woon. Oor tyd het die gemeente se lidmate en leierskap die diversiteit van die omgewing begin reflekteer, maar dit was, en is steeds, ’n stadige reis.

LEES OOK: Twee gemeentes in NG Kerkfamilie vier eenwording op Hervormingsondag

Die NGKA Melodi ya Tshwane, later die VGK Melodi ya Tshwane, is in 1992 begin as ’n gemeente van hoofsaaklik inwonende huiswerkers in die ou Pretoria, maar met ’n bewustelike visie om ’n tuiste te skep vir lidmate wat tydens en na die oorgang na ’n demokratiese Suid-Afrika in die stad sou intrek. Oor die afgelope 30 jaar groei die gemeente tot ’n sterk en volhoubare gemeente wat aanbid in die Bosmanstraat-kerkgebou.

In die middel 1990s was die VGK op soek na ’n kerkgebou. Te midde van ’n vroeë hoop op ’n toekomstige vereniging verkoop die NGK Pretoria 50% van die Bosmanstraat-kerkgebou aan die VGK gemeente, en plaas die verkoopbedrag in ’n trust wat deur die twee gemeentes saam bestuur moet word ter wille van die instandhouding van die gebou. Hierdie gebou het die saak geword waaroor die gemeentes vir dekades lank met mekaar moes praat, mekaar oor moes vind. Die praktiese verbintenis aan mekaar omdat ons ’n kerkgebou gedeel het was krities om ons by mekaar te bring.

Teen 2016 was daar agt predikante van die twee gemeentes, meestal in deeltydse poste, maandeliks in ’n gesamentlike predikantebyeenkoms waar ons oor ons bediening, en ’n stadige nader na mekaar beweeg gepraat het. Tydens een so ’n byeenkoms het ons tot die diep oortuiging gekom dat die pad wat ons moet stap een van formele vereniging moes wees. Die onderskeie kerkrade het tot dieselfde oortuiging gekom en die lang pad van hereniging aangepak. In plaas van om te soek na ’n afgehandelde eenheid, het ons gekies om telkens formeel die volgende praktiese stukkie van die reis aan te pak. Die kritiese punt was toe die kerkrade op 29 Oktober 2017 ons formele reis na ’n saamgevoegde gemeente aangekondig het.

Die doelwit was Hervormingsondag 2020. Covid het intussen gebeur. Vir bykans twee jaar kon ons mekaar selde sien. Die meeste van die leraars wat in 2017 daar was, is intussen in ander gemeentes. Twee is oorlede. Verskeie kerkraadslede wat die reis begin het se termyne het tot ’n einde gekom. Ons is diep bewus oor hoe krities belangrik sleutelverhoudings tussen kerkleiers was en is op hierdie reis, maar ook diep bewus dat ons net kon vorder tot waar ons vandag is omdat die besluite en verbintenisse werklik aan die kerkrade behoort het, en nie net aan enkele individue nie.

Twee woorde kom telkens by my op as ek dink wat ons tot hier gebring het: pragmatisme en geloof. Op verskeie punte was dit duidelik dat die enkele belangrikste ding wat ons beweeg om die volgende stap te neem ’n diep geloof is dat God ons geroep het om een te wees. Dit was nie altyd die maklikste roete om aan verbind te bly nie, en waarskynlik nie altyd die meer strategiese pad om te kies nie. Maar ons belydenis dat eenheid beide gawe en opdrag is het ons telkens hierheen terug geroep. Maar op verskeie punte moes ons besef dat ons stadig moet loop, die volgende klein konkrete stap moet vind, die sake wat vir almal nou voordeel inhou moet vind, en daardie stap moet neem. En dit is waarskynlik hoe werklike stories van kerkhereniging altyd gaan lyk. Dit gaan nie oornag gebeur nie, dit gaan met klein treetjies beweeg, maar dit gaan gebeur waar daar ’n bewustelike verbintenis is om telkens die volgende tree te neem.

Hervormingsondag 2022 was so ’n tree vir die VGKSA Melodi ya Tshwane en die NGK Pretoria. Ons gaan voort om die volgende treë te soek.

  • Dr Cobus van Wyngaard is dosent in Sistematiese Teologie by Unisa, en leraar van die NG Gemeente Pretoria.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top