Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die kerk se protesstem

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die NG Kerk neem op ’n gereelde basis aan openbare diskoerse deel as deel van sy pro­fe­tiese taak. Onlangse voorbeelde hier­van is die kerk se kommentaar op voorgenome wetge­wing oor haatspraak, die regulering van godsdiens en wysigings ten opsigte van die Skolewet.

Meestal is daar waardering vir die profetiese rol wat die kerk in die publieke arena speel. Tog is daar ook soms verwytende kommentaar, hoewel in die min­derheid, wat wil hê dat protes nie tot die taak van die kerk hoort nie. Die kerk, word dan geargu­men­teer, moet hom net besig hou met voorbidding en die verkondiging van die evangelie.

Hierop sou geantwoord kon word dat dit deel van die Christelike tradisie is om te getuig vir ’n be­ter samelewing van menswaardigheid, geregtigheid, vre­de en vreugde vir almal, en om te protesteer teen enigiets daarteen.

Geloof en teologie kan nooit in ’n donker hoekie be­dryf word nie maar is altyd publiek. Dit gaan vir die kerk om die besinning oor die betekenis van die Christelike geloof vir die openbare lewe binne die konteks van, in ons geval, ’n demokratiese samele­wing. Dit is die presiese rede waarom ons bid: “Laat u koninkryk kom!”

Dit is die taak van die kerk om altyd oë te open vir die teenwoordigheid en werksaamheid van die lief­devolle God op alle lewensterreine. Die kerk weeg die samelewing en die gehalte van mense se le­wens in terme van die geregtigheid van God.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/07/Dr-Gustav-Claassen-sw.jpg” caption=”Dr Gustav Claassen is die Algemene Sekretaris van die NG Kerk.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

Dit is omdat die kerk ’n ander vraag vra, naamlik: Hoe reflekteer die samelewing die waardes wat met God vereenselwig kan word? Deur hierdie vraag te vra, kan selfs sisteme wat binne die grondwet en die reg funksioneer, uitgewys word as nie in oor­een­stemming met God se geregtigheid nie.

Indien die kerk dit nie sou doen nie, verval ons in ’n totaal geïndividualiseerde geloof wat geen ver­ant­­woordelikheid vir die gemeenskap wil aanvaar nie.

Dit is inderdaad waar dat sommige kerke so ’n in­dividualistiese swaai gemaak het in ’n poging om nie lidmate te verloor nie. Hulle spits hulle toe op die persoonlike behoeftes van lidmate en ignoreer wat op die publieke toneel gebeur.

As ’n kerk van die Reformasie weet ons dat die droom van Luther en Calvyn ’n kerk was wat God se heil vir die totale lewe op aarde wil dien. Die God van die Bybel, het hulle geglo, is nie net ’n God wat die gelowiges wil versorg en help met hulle persoon­like probleme nie, maar wat die wêreld wil red, ver­an­der en nuut maak – sodat vrede, geregtigheid en versoening daarin kan woon.

Samelewings is nooit afgehandel en voltooi nie. Dit is dinamiese entiteite. Die perspektief wat die kerk en elke Christengelowige kan bydra tot hierdie pro­ses, is dié van geloof en hoop. Ons is gerig op die toe­koms en so ver dit in ons vermoë is, gee ons daar­­aan gestalte deur dienooreenkomstig te leef en te getuig waarin ons glo.

Deur die blye boodskap van versoening met God kry elke mens se lewe nuwe inhoud en betekenis en staan ons vir geregtigheid – nie net vir onsself nie, maar vir alle mense. Die kerk kan nie bekostig om sy profetiese stem te verloor nie.

Dr Gustav Claassen is die Algemene Sekretaris van die NG Kerk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top