Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Kerke praat saam oor kragkrisis: ‘Ontbondel Eskom en wees deursigtig oor Russe se rol’

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Hoewel Suid-Afrika deels vordering met die breër toeganklikheid van energie gemaak het, het ons land ooglopend teruggeval met energiesekerheid. Die kerk is op morele, etiese en praktiese grondslag, diep bekommerd oor hierdie trajek, skryf Gustav Claassen.

 

Seker dié belangrikste raamwerk van die regering se kant om Suid-Afrika se energiekrisis aan te spreek, is pres Ramaphosa se plan vir ’n regverdige energie-oorgang, bekend as Just Energy Transition Partnership (JETP).

Ná dit in November 2022 bekendgestel is, het ook geloofsleiers betrokke geraak deur deel te neem aan ontmoetings wat die presidensiële klimaatskommissie (PKK) organiseer om belanghebbers te betrek. Deur dialooggeleenthede, soos die een wat op 8 Maart vanjaar plaasgevind het, word onder meer die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, die Suider-Afrikaanse Katolieke Raad van Biskoppe asook die Suider-Afrikaanse Geloofgemeenskaplike Omgewingsinstituut betrek en daaruit vloei ’n paar gewaarwordinge:

Energiebestuur lê aan die hart van enige moderne industriële ekonomie en Suid-Afrika se nasionale vooruitgang in terme van menslike ontwikkeling is direk afhanklik van die integriteit van ons energiesisteem. Die kerk is diep besorgd oor die voortdurende korrupsie, wanbestuur en institusionele onbekwaamheid wat na berig word steeds by Eskom en Transnet voortduur, twee staatsbeheerde entiteite aan die hart van ons energiesisteem.

Die staatsentriese energiesisteem wat Suid-Afrika vandag het, met die sentrale rol wat Eskom speel, reflekteer die nalatenskap van skadelike minerale-ekstraksie en die nalatenskap van Apartheid, wat ’n minderheid ten koste van die meerderheid en die omgewing bevoordeel het.

Suid-Afrika moet ’n koers inslaan wat op die langtermyn tot ’n volhoubare, inklusiewe energiesisteem lei. Ons weet dit noodsaak nuwe beleggings en opofferings op ander gebiede, asook die uitbreiding van tegniese kapasiteit.

 

Korttermyn vs langtermyn

Op die korttermyn moet Suid-Afrika op verantwoordelike wyse die ergste gevolge van die onmiddellike energiekrisis versag. Dit behels:

  • Om nie vir korttermyn en skadelike oplossings soos uitermatige gebruik van dieselkragsentrales teen enorme fiskale koste en tot nadeel van beide infrastruktuur en omgewing, te kies nie.
  • Om nie toe te laat dat netwerke wat korrup optree of politieke bande misbruik, die krisis misbruik deur beleid en diensverskaffings- of aankoopmeganismes vir persoonlike gewin te manipuleer nie.
  • Om nie toe te laat dat die energiekrisis en die gevolglike lyding van burgers as “goedkoop punte” tel wat politieke partye teen mekaar probeer aanteken met die gevolg dat die land in ’n korttermyn ontwikkelingsbeskouing verval en langtermyn ontwikkelingsbehoeftes benadeel nie.

Om al hierdie ongerymdhede teen te werk, moet Suid-Afrika se regering en die uitvoerende gesag in besonder hulleself toewy tot ’n veelparty-energiesekerheid, volhoubaarheid, prosesmatige regverdigheid wat strook met die PKK se regverdige energie-oorgangsraamwerk.

 

Ontbondel Eskom en skep kapasiteit

Met hierdie doelwit in gedagte, ondersteun ons die ontbondeling van Eskom om nuwe belegging toe te laat vanaf die regering en die finansiële markte wat kan vloei na die produksiekomponent van die energiesisteem en opgradering van die transmissiesisteem vir die langtermyn.

Ons is op fundamentele vlak besorgd oor die kwesbaarheid van die “laaste myl”-oordrag wat deur munisipaliteite behartig word, gegewe die swak toestand van plaaslike regerings se fondse en die oënskynlike lae vlakke van effektiewe bestuur op plaaslike en provinsiale vlak. Vir hierdie rede, en in die belang van Suid-Afrikaanse burgers, ondersteun ons die oopstel (“liberalisation”) van die energiemark, om die energiesisteem te desentraliseer en daardeur te demokratiseer.

Op nasionale strategiese vlak is die uitbou van Suid-Afrika se tegniese kapasiteit, soos ingenieurswese en die vervaardiging van komponente in die energiewaardeketting, baie belangrik vir die kapasiteit tot die handel en uitvoer hiervan. Suid-Afrika moet dus die reaksie tot die onmiddellike energiekrisis gebruik om kapasiteit te ontwikkel op hierdie einste gebiede, wat Suid-Afrika sal vestig as bydraer tot die ontluikende energierevolusie wat globaal afspeel.

 

Geopolitiek en die rol van die Russe

Teen hierdie agtergrond spreek ons kommer uit oor die oënskynlike oorsese alliansies wat ons besluitneming in terme van energie geopolities blyk te vorm. Ons kommer behels:

  • Is die finansiële bystand en lenings wat aan Suid-Afrika gebied word deur Westerse nasies en multilaterale institusies bekostigbaar, verstandig, en bes geskik vir die finansieringsbehoeftes van die krisis-respons?
  • Is ons verhoudings met Turkye en die voorgestelde kragskepe optimaal in terme van plaaslike beleggingsbehoeftes rondom energie-infrastruktuur?
  • Is ons verhoudings met Rusland en China gegrond op militêre samewerking ’n voorteken van groter energie-interafhanklikheid en help hierdie keuses Suid-Afrika se beginselstandpunt oor demokratiese waardes in die wêreld en ons plaaslike realiteite rondom burgers se belange?
  • Benut ons ons natuurlike, geografiese nabyheid tot eweknie-Afrikalande ten volle en watter rol moet hierdie nasies speel in ons energietoekoms?

Die kerk kyk pragmaties na die mediumtermyn energie-verdeling (“mix”) en erken dat die rol van steenkool, diesel en kernkrag steeds ’n rol kan en moet speel om energiesekerheid te bewerkstellig. Ons erken ook die potensiaal van natuurlike gas- en waterstofbronne, asook hernieubare energie in ’n gebalanseerde, veerkragtige en bekostigbare energieverskaffing. Die kerk is nietemin ten sterkste ten gunste van ’n benadering wat omgewingsimpak balanseer met sosiale verpligtinge en fiskale perke en die langtermynrisiko wat met elk van hierdie drie gepaard gaan.

Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Kerke praat saam oor kragkrisis: ‘Ontbondel Eskom en wees deursigtig oor Russe se rol’”

  1. Dit is half tragies om in die Kerkbode te lees wat Gustav te se het oor Eskom, ontbondeling en natuurlik moet “apartheid” ingesleep word. Ek is ‘n elektriese ingenieur wat sedert my nagraadse jare in 1973 deel was van ‘n omvattende 50 jaar visie vir kragvoorsiening in Afrika vir meer as 100 miljoen mense. Hoe minder geestelike leiding die teoloë van die dag kan bied (veral die NGK), hoe meer begeef hulle hulle op terreine waar hulle werklik verwarring saai. Sonder om ‘n debat te ontketen in ‘n media wat nie daarvoor gerat is nie, wil ek dit onomwonde stel: die riglyne wat die wêreld ekonomie forum (WEF) deurgegee het aan die VN se 2030 Droomscenario, wat weer die NGK se “Droomscenario 2030” beinvloed het, dra nie die Krag van die Heilige Gees nie. “Skoenmaker, bepaal jou by jou lees”

Comments are closed.

Scroll to Top