Die tragiese toestand in die Oekraïne gryp ons aan die hart, maar so ook die situasie in ons eie land, skryf Gustav Claassen.
Die konflik in die Oekraïne het tot ongelooflike verliese in terme van menselewens, die sosio-ekonomiese situasie, ekologie en op feitlik elke gebied noem- en onnoembaar gelei. Die konflik woed tans al vir byna 500 dae, wat na beraming soveel as 200 000 militêre ongevalle gekos het. Daarbenewens is ongeveer 23 000 Oekraïnse burgerlikes dood en gewond, insluitend duisende wat vermoor en in massagrafte begrawe is, getuig aartsbiskop Thabo Makgoba na ’n besoek verlede jaar in Desember aan die Oekraïne.
“Just as our government seeks peace in Ukraine, it must pay at least similar attention to the tasks of delivering policing, facilitating jobs, and thereby creating social harmony and peace in South Africa,” skryf aartsbiskop Makgoba onlangs (Daily Maverick, 16 Junie 2023).
Die sterk uitspraak van aartsbiskop Makgoba en dié van pous Franciskus, teen die gewelddadige inval van Rusland in die Oekraïne op 24 Februarie 2022, verteenwoordig die sterk stem van geloofsgemeenskappe wêreldwyd.
“Every act of war directed to the indiscriminate destruction of whole cities or vast areas with their inhabitants is a crime against God and humanity which merits firm and unequivocal condemnation” (Pous Franciskus, 9 Jan 2023).
Die NG Kerk se stem teen hierdie optrede van Rusland word verteenwoordig deur die verskeie ekumeniese liggame waarvan sy deel is.
Die All African Conference of Churches (AACC) staan in sy verklaring oor Rusland se anneksasie van streke in Oekraïne, verenig en in solidariteit met kerke en ander godsdienstige liggame regoor die wêreld wat Rusland se anneksasie van streke van die Oekraïne veroordeel. Die liggaam gaan verder om te verklaar dat die ongeregverdigde optrede van Rusland, die toestand van onsekerheid wêreldwyd verhoog en dat die skending van die internasionale reg en soewereiniteit van wettig verkose demokrasieë dien as ’n presedent vir ander ambisieuse leiers om veroweringsavonture aan te pak. ’n Beroep word gedoen op die Verenigde Nasies (VN), Afrika-Unie en die internasionale gemeenskap om Rusland se onwettige anneksasie van Oekraïne te verwerp.
Die Wêreldraad van Kerke (WRK) het deur sy algemene sekretaris, prof Jerry Pillay, verskeie ontmoetings gehad met die kerkverteenwoordigers in die Oekraïne sowel as met Russiese kerkleiers. Die WRK het dit baie duidelik gemaak dat die oorlog in die Oekraïne so gou moontlik beëindig moet word.
Die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK), saam met ander ekumeniese liggame soos die Lutherse Wêreldfederasie (LWF) en die Wêreld Metodisteraad (WMR) veroordeel die opmars van die Russiese weermag na die Oekraïne. Die organisasies eis ’n onmiddellike terugtrekking en beëindiging van militêre aksies deur Rusland.
Lees ook: Interview: President of World Communion of Churches on faith, tax and justice
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) ondersteun die vooruitsig dat die oorlog sal stop en dat blywende vrede en veiligheid tussen Rusland en die Oekraïne bewerkstellig sal word.
Aartsbiskop Thabo Makgoba het egter in sy nuutste verklaring, waarskynlik met die besoek van president Cyril Ramaphosa en sy afvaardiging aan die Oekraïne en Rusland, die aandag wat die tragedie in die Oekraïne kry, gebruik om die fokus op die verslegtende situasie in Suid-Afrika te plaas.
Makgoba vra die vraag: “Terwyl ons oor Oekraïne dink en bid, is daar kritici wat vra: Wat gebeur in SA? Dit is ’n geregverdigde vraag want,” sê hy, “politiek het Suid-Afrika gefaal”.
Lees ook: Moenie swyg nie maan Makgoba by Wes-Kaapland Sinode
Dieselfde riglyne moet geld vir die Oekraïne as vir Suid-Afrika, waar meer as 27 000 mense vermoor is vanaf April 2022 tot Maart 2023, of 45 per 100 000 mense. Dit kom neer op nie minder nie as 75 mense per dag regoor Suid-Afrika. In die Oos-Kaap byvoorbeeld, is die projeksie vir die provinsie oor hierdie tydperk nie minder nie as 75 moorde per 100 000, wat dit nie net die moordhoofstad van Suid-Afrika maak nie, maar die moordhoofstad van die wêreld. In dieselfde trant het Suid-Afrika 692 protes- en oproervoorvalle alleen in die eerste kwartaal vanjaar beleef, vergeleke met 456 die vorige jaar.
Dit sê vir ons dat burgers reg in eie hande neem en dat politiek gewone Suid-Afrikaners gefaal het. Hierdie statistieke is hartseer en ontmoedigend en laat praat oor hoop en vrede idealisties lyk. Trouens, so gemeet, is Suid-Afrika vir burgerlikes so gevaarlik soos ’n oorlogsone. Tog skyn ons doof te wees in ons verontwaardiging en reaksies. Ons moet veiligheid in ons samelewing soek en bereik, vir ons eie gemeenskaplike grond en gemeenskaplike goed.
Vrede gaan natuurlik nie net oor die afwesigheid van oorlog nie. Dit gaan oor gelyke geregtigheid, die regverdige skepping van geleenthede en die regte van almal. Hier is ’n sterk morele komponent ter sprake.
Lees ook: Nelis Janse van Rensburg: Ons sal moet deelneem aan plaaslike politieke debatte en strukture
In Psalm 85 leer die psalmis ons dat “geregtigheid en vrede mekaar soen”. Dit is ons plig as wêreldburgers en as Suider-Afrikaners, om nie net diegene in nood te help nie, maar ook om op te tree op ’n wyse wat die respek vir wet en orde skep en aanmoedig. Ons moet mekaar fundamenteel respekteer.
Net soos ons regering vrede in die Oekraïne soek, moet dit ten minste soortgelyke aandag gee aan polisiëring en sekuriteit, werksgeleenthede fasiliteer en daardeur sosiale harmonie en vrede in Suid-Afrika skep.
Keuses vir hierdie belangrike sake sal hulle daartoe leen om te fokus op die oplossing van ons eie probleme. Daar behoort geen morele ruimte vir oorlog en toevlug tot geweld te wees nie, van die Oekraïne tot Suid-Afrika moet dit ons gemeenskaplike grondslag wees.
Ons wil saam met die aartsbiskop vra of die kerk in Suid-Afrika verenig is in sy profetiese stem teen die geweld, korrupsie en wetteloosheid, en ten gunste is van geregtigheid, goeie regering, goeie onderwys, versoening en vrede.
Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk.