How change comes to your church deur Patrick Keifert & Wesley Granberg-Michaelson
Uitgewer: Eerdmans, Grand Rapids, 2019
Deeglike en diep verandering is moeilik. Vra enige predikant hoe kompleks dit is om ’n kerkraad of selfs ’n hele gemeente te begelei om ’n nuwe pad te loop. Daar is baie gemeentes wat die pad van missionale verandering met groot entoesiasme afskop en dan vasval wanneer weerstand opbou.
Pat Keifert en Wesley Granberg-Michaelson is twee baie ervare kenners wat al met duisende gemeentes en tientalle denominasies gewerk het. Hulle deel hulle kennis en ervaring oor leierskap en verandering in How change comes to your church.
Hulle erken uit die staanspoor dat verandering in gemeentes en kerke baie moeilik is, en meestal net aandag geniet wanneer die oorlewing van ’n gemeente verandering forseer.
Daar is egter ’n ander moontlikheid – positiewe en konstruktiewe verandering.
Die skrywers deel belangrike kenmerke van positiewe verandering. Dit is belangrik om verandering te bou op die passie om God se droom vir ’n gemeente waar te maak. Dan moet daar ruimte vir verandering geskep word wat los staan van die gewone daaglikse bestuur van gemeentes. Besluite oor belangrike verandering moet gebou word op ’n proses van geestelike onderskeiding, eerder as die gebruiklike strategiese beplanning en debatvoering. Die 4de les het te doen met ’n kreatiewe omgang met die Bybelse stories en om hierdie lewegewende verhale te verbind aan die gemeente se stories.
Hulle laaste punt is dat ware missionale verandering net kan gebeur in die gemeenskap van gelowiges en dus in vennootskap met ander gemeentes en denominasies wat op dieselfde reis is.
Die boek is helder en verstaanbaar. Dit sal meeste gemeenteleiers help om nuut en positief na verandering te kyk. Dit verduidelik verandering aan die hand van praktiese voorbeelde.
Die boek laat ’n mens besef verandering is haalbaar en laat jou met ’n gevoel van hoop en afwagting.
▶ Prof Nelus Niemandt is rektor van die Hugenote Kollege op Wellington.